Krans toe wél vir Wolraad Woltemade gelê

Lede van die FAK, hul kultuurnetwerke en die publiek wat die kranslegging bygewoon het (Foto: Verslag)

Nadat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aanvanklik nie toestemming by Old Mutual kon kry om ʼn kranslegging vir die 250ste herdenking van Wolraad Woltemade se heldedaad by sy standbeeld te doen nie, het die FAK dit wél Donderdag gedoen.

Woltemade se standbeeld staan by Old Mutual se gebou in Pinelands, Kaapstad, maar die maatskappy het aanvanklik vasgeskop teen die beoogde seremonie.

Volgens Gerhard Pretorius, die Voortrekkermonument en Erfenisstigting se kommunikasiebestuurder, het die FAK Donderdagoggend nietemin voortgegaan met die kranslegging by die Woltemade-beeld by die ingang van die gebou.

Die standbeeld is in Maart 1956 deur goewerneur EG Jansen onthul.

“Benewens die 13 mense wat teenwoordig was, was daar ook 500 mense wat virtueel aan die kranslegging deelgeneem het,” sê Pretorius.

Volgens Pretorius het die FAK op 8 Mei gevra om die kranslegging by die Old Mutual-gebou te doen. Hy sê die maatskappy het ontvangs van die versoek erken, maar laat weet dat dit nie toegelaat kan word nie.

Old Mutual se antwoord het voorts gelui: “As ʼn onderneming wat verteenwoordigend is van ʼn diverse verskeidenheid kulture, is ons baie bedag op hoe ons erfenis vier en eer, in Suid-Afrika en deur die groep.

“Oor die algemeen pas ons ons kultuur- en erfenispraktyke en -vieringe aan by nasionaal gemandateerdes, wat ons werknemers en die kliënte en gemeenskappe wat ons bedien, insluit. Hierdie beginsel geld ook vir al ons eiendomme.”

Na aanleiding van kommentaar wat Old Mutual Donderdagoggend oor die kwessie gelewer het, het die FAK egter weer ’n brief aan die maatskappy gerig en sy versoek herhaal. In die vroeëre kommentaar sê Old Mutual dat die FAK sy antwoord dat hy die kranslegging verbied “misverstaan het”.

“In die [jongste] brief het ons vir Old Mutual gesê ons gaan Kaapstad toe vlieg en steeds die kranslegging doen,” sê Pretorius.

Old Mutual het weer ontvangs van die brief erken en geen vrae gevra nie, sê Pretorius.

Die kranslegging is sonder enige voorval gedoen.

Ondersteuners het saam met die FAK die krans gelê (Foto: Verskaf)

Vuyo Mtawa, woordvoerder van Old Mutual, het aan Maroela Media gesê die organisasie erken en respekteer die FAK se reg om Woltemade se heldedaad te gedenk.

“As ʼn maatskappy wat diversiteit nastreef glo ons in die belangrikheid daarvan om alle geslagte, kulture, rasse en gelowe in te sluit. Ons streef daarna om ʼn omgewing te bevorder wat die verskille wat ons as ʼn kollektiewe gemeenskap sterker maak, te vier en te respekteer,” sê Mtawa.

Mtawa sê in Old Mutual se aanvanklike korrespondensie met die FAK, het die maatskappy sy standpunt duidelik gemaak oor die nakoming van en voldoening aan die nasionale beleid oor Suid-Afrikaanse lewende erfenis.

“Deur in lyn te kom met hierdie beleid, wat ʼn inklusiewe benadering rondom amptelike nasionale dae soos Erfenisdag ondersteun, dra ons aktief by tot die bewaring van Suid-Afrika se diverse kultuur, erfenis en uitdrukkings.

“Ons bly bereid om die FAK en ander organisasies te betrek oor erfeniskwessies en hoe ons dit meer inklusief kan vier.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê Old Mutual se aanvanklike teenkanting teen die kranslegging doen Suid-Afrika nie ’n guns wat betref sy hantering van die geskiedenis nie.

“Woltemade se daad is ʼn inspirasieverhaal in ʼn tyd waarin Suid-Afrika sink en daar van alle kante ʼn beroep gedoen word om nie onbetrokke op die kantlyn te bly staan nie, maar in te spring en te help.

“Dit is jammer dat Old Mutual versuim [het] om so ʼn positiewe boodskap te beklemtoon,” sê Langner.

Die FAK steun ook die Suid-Afrikaanse Stigting VOC en dr. Dan Sleigh, historikus en skrywer, se pogings om die beeld na ʼn meer  toeganklike plek te skuif.

Wie was Wolraad Woltemade?

Wolraad Woltemade het op 1 Junie 1773 drenkelinge in die see aan die Kaapse kus gered. Dié heldedaad het gevolg nadat die skip De Jonge Thomas van sy anker losgeruk en by Soutrivier deur onstuimige waters aan flarde geslaan is.

Woltemade, wat toe 65 jaar oud was, het met sy perd die drenkelinge uit die see gered.

Onverskrokke het hy agt keer tussen die branders ingejaag en 14 matrose gered voordat hy verdrink het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johan ·

Ai Old Mutual, lekker bang nè…gelukkig het ek niks met hulle te doen nie, en glo ook nie ek sal gou hê nie.

Nici ·

Klink my Ou Mutual is sooo inklusief dat hul net nie enige iets wat met die Afrikaner te make het kan toelaat nie net ingeval iemand voel hul is nie inklusief genoeg nie.

piet ·

Is daar ‘n beeld vir Racheltjie de Beer of is dit net ‘n wolhaarstorie? Ek het iewers gelees die Rachelthie storie is net ‘n “rip-off” van wat in Amerika gebeur het.

Gaitsigubib ·

Het jy die verhaal gehoor van die verraaier wat sambok gekry het? Ek het fotos van dit in n boek van die Boere Oorlog gesien. Dit het werklik gebeur.

Nettie ·

Baie dankie aan almal wat hieraan deelgeneem het. Ons waardeer dit.

En Old Mutual…. SIES vir julle! Ek skaam my vir julle wat nie eers iemand kan vier wat sy lewe gegee het om onskuldige, sterwende mense te red nie. Dit het niks met kleur te doen nie. Julle is vieslik en ons sal dit onthou!

Chrisp ·

Volgens kleurfoto’s wat op die strand geneem was op die dag wil dit so voorkom……

Keelvol ·

Is Old Mutual inklusief teen oor die wittedswanneer dit indienstneming kon?

Anna-marie ·

Ek het lankal die gevoel gekry om niks met Old Mutual te doen te hê nie. My voorgevoel was reg.

Papsak ·

Dankie vir julle wat nog omgee vir ons ergenif dankie die wat niks meer voel of omgee stem sekerlik anc

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.