Kuilsrivier-tragedie: ‘Hulle was ʼn liefdevolle gesin’

Hilton en Annastasia van Zyl. (Foto: Verskaf)

“Hulle was die liefdevolste mense en ʼn hegte, gelukkige gesin. Dit voel so onwerklik.”

Só het ʼn buurvrou en jare lange vriendin van die Van Zyl-gesin Maandag aan Maroela Media gesê.

Sy het Saterdag deur die loop van die dag nog met al vier gesinslede gesels voordat Hilton van Zyl (48) sy vrou, Annastasia (44), en hul dogter, Cassidy (15), glo doodgeskiet en homself om die lewe gebring het. Die egpaar se seun, Aidan (23), woon ook nog by sy ouers en het die voorval oorleef nadat hy uit die huis kon wegkom.

Wat Hilton sou kon dryf om so iets te doen, is egter ʼn raaisel.

“Ek het menige male by hulle gaan tee drink en saam met hulle op die stoep gekuier. Ons het dinge saam gedoen, saam gesels. Daar was nooit ʼn gestryery en bakleiery waarvan ek geweet het nie,” het die buurvrou, op voorwaarde van anonimiteit, aan Maroela Media gesê.

Cassidy van Zyl. (Foto: Verskaf)

Sy sê gerugte van ʼn moontlike egskeiding en dat Hilton ʼn drankprobleem gehad het, is heeltemal ongegrond.

“Ek lees hierdie gerugte in die media en is verstom. Ek weet niks daarvan af nie. Dis nie wie hulle was nie.

“Hilton was Saterdag nog hier by my in die tuin en later die dag het ek Stacey [Annastasia] en Cassidy se hare gedoen. Aidan het my en my man ook met iets hier in die huis kom help. Ek het hulle almal Saterdag gesien en met hulle gepraat, en daar was niks snaaks aan die gang nie.”

Volgens die buurvrou het die Van Zyl-gesin Saterdagmiddag nog saam gebraai voordat Hilton die rugby elders gaan kyk het. Cassidy was by ʼn jeugaangeleentheid by die kerk en Annastasia het glo later aan haar buurvrou gesê sy is bly Aidan is op pad huis toe want dan is sy nie alleen by die huis nie.

“Iets moes gebeur het in die tyd wat Hilton saam met sy vriende rugby gekyk het.”

Sy sê egter dat Hilton, volgens haar kennis, al geruime tyd nie meer alkohol drink nie.

“Hy was nie ʼn alkoholis nie. Selfs al het hy saam met sy vrinne gaan rugby kyk, het hy nie-alkoholiese drankies ingepak, rugby gaan kyk en huis toe gekom. Hy het baie Saterdae saam met sy kinders na die rugbyveld toe gegaan. Hy was ʼn goeie pa.

Annastasia Van Zyl en haar seun, Aidan (23). (Foto: Facebook / Annastasia van Zyl)

“Ek kan regtig vir jou sê hulle was ʼn gesin wat lief was vir mekaar. Ja, daar was die gewone dinge – soos ʼn stryery met die kinders om op te ruim of so, maar net die normale.”

Die buurvrou sê haar eie kleinkinders het boonop gereeld by die Van Zyl-gesin gaan swem en kuier en dat die egpaar dié kinders dikwels McDonald’s toe sou vat en bederf.

“Ek sou dan ʼn foto van hulle almal op WhatsApp kry wat sê ‘kyk waar is ons al weer’.”

As dit reën sou Hilton haar vra of sy nie ʼn bietjie sop gaan maak nie. Cassidy was gaande oor haar pasta, terwyl Aidan altyd vir poeding gevra het. “Ek kan nie glo hulle is nie meer hier nie.”

Sy sê sy het Sondagoggend skote gehoor, maar nie in haar wildste drome gedink dat dit van haar vriende se huis gekom het nie.

“Ons het later almal na buite gestap, en ek was verbaas dat hulle nie ook uitgekom het nie. Die polisie was ook daar. Ek hulle almal probeer bel, maar niemand het geantwoord nie.”

Die buurvrou sê Aidan is geweldig getraumatiseerd, maar dat sy hom in dié stadium spasie gun.

“Ek het hom laat weet ek is hier vir hom as hy my nodig het.”

Geen begrafnisreëlings is in dié stadium getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wondermaarnet ·

Sjoe, dit is hartseer. Sterkte aan die familie en vriende.

Hannelie ·

Ek kan net dink wat in daardie verskriklike oomblikke gebeur het. Ai dis so hartseer. Sterkte aan Aiden en die familie.

Adrie ·

Dis verskriklik hartseer. Soveel onbeantwoorde vrae…… Innige simpatie aan Aiden en die uitgebreide familie xxx

Delia ·

Ai sooo hartseer.
My moeder het altyd gesê as die voordeur van iemand se huis toe gaan, weet ander nie wat tussen die 4 mure aangaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.