Seun ‘erg geskok’ ná gesinstragedie in Kuilsrivier

Annastasia Van Zyl en haar seun, Aidan (23). (Foto: Facebook / Annastasia van Zyl)

Die 23-jarige Aidan van Zyl is Sondag na die Netcare-hospitaal in Kuilsrivier geneem om vir skok behandel te word nadat sy pa, Hilton (48), sy ma en tienersussie glo doodgeskiet en toe die vuurwapen op homself gedraai het.

Só het Ebrahim Sawant, wyksraadslid vir die DA in Kuilsrivier, Maandag aan Maroela Media gesê. Sawant was Sondag op die toneel en sê dat lede van die gemeenskap voor die gesin se huis saamgedrom en gehuil het.

Cassidy van Zyl. (Foto: Facebook / Annastasia van ZYl)

Hilton, sy vrou, Annastasia (44), en hul dogter Cassidy (15), het gister in die vroeë oggendure noodlottige skietwonde by hul huis in Oud-Nooiensfonteinweg in die Oakdene-woonbuurt opgedoen. Hulle is op die toneel dood verklaar.

Volgens Sawant het Aidan weggekom en na die bure gehardloop. Hy het daarna na familielede in die nabygeleë woonbuurt, Highbury, gegaan.

“Hy is stabiel, maar sal van Maandag af traumaberading ontvang.”

Sawant sê hy het Annastasia, ʼn plaaslike eiendomsagent, persoonlik geken aangesien sy die voorsitter van die buurtwag in Gersham was.

Dit is nie in dié stadium duidelik wat tot die gesinstragedie gelei het nie. Die polisie het wel bevestig dat ʼn geregtelike doodsondersoek begin is, en dat twee sake van moord ondersoek word.

Kuils River Estates, waar Annastasia werksaam was, het Maandag in ʼn kort Facebook-boodskap aan Maroela Media gesê “Annastasia se dood is ʼn sinnelose tragedie en ons harte is gebreek”.

Die agentskap wou “uit respek vir die familie nie verder kommentaar op die voorval lewer nie”.

Verskeie gebruikers het hul skok en hartseer Maandag op Annastasia se Facebook-profiel te kenne gegee.

Annastasia en Hilton van Zyl. (Foto: Facebook / Annastasia van Zyl)

Hilton Van Zyl en sy seun, Aidan (23). (Foto: Facebook / Annastasia van Zyl)

“Hierdie is die hartseerste nuus in ʼn baie lang tyd. Rus in vrede Van Zyls,” het Marianna Brown geskryf.

“Rus in vrede Stacey [Annastasia]. Ek wou vir jou sê jy lyk absoluut pragtig, maar nou is ek te laat,” het Crystal Botha by ʼn foto geskryf wat Annastasia ʼn week gelede op haar Facebook-profiel gedeel het.

ʼn Gesinstragedie het die Kuilsrivier-gemeenskap ook in November 2019 geruk, toe ʼn pa glo sy hele gesin uitgewis het.

ʼn 36-jarige man het sy vrou (35) en twee jong kinders, ʼn dogter van 12 en seun van agt jaar oud, glo doodgeskiet en toe sy eie lewe geneem. In dié geval word drie sake van moord ondersoek, en is ʼn geregtelike doodsondersoek deur die polisie geopen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Aiden, so jammer vir jou groot verlies. Mag God jou vertroos in die hartseer tyd. Daar is net geen woorde verder nie…

Mariaan ·

Die arme jong man..wat n hartseer om mee saam te lewe vir die res v jou lewe..ja ons mag nie oordeel..maar liewe genade…hoe doen mens so iets…skiet dan maar jouself…los jou vrou en kinders…sterkte aan al die familie..tragies!

Christelle ·

My hart gaan uit na die seun. Die tyd waarin ons leef bring groot uitdagings en mense knak, dit kan met enige een van ons gebeur. Baie sterkte aan die familie in n hartseer tyd.

Swerwer ·

Dit is erg, wat sal ‘n ouer sover dryf om sy gesin uit te wis en net die oudste kind kom skotvry .

Boerenooi ·

Ai. Ek is so jammer vir die kind. 23 is nog só jonk. Sterkte Aiden. Ek is jammer vir jou groot verlies. Ek bid vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.