Laat vaar SEB, ontwikkel eerder vaardighede – VF Plus

Pieter Groenewald, VF Plus-leier. (Foto: @ParliamentofRSA/Twitter)

Die VF Plus het ʼn ekonomiese herstelplan saam met kenners ontwikkel vir “wanneer die ANC as regering vervang word met ʼn werkbare koalisie”.

Die plan wat Suid-Afrika volgens die VF Plus weer op ʼn wenpad kan begin plaas, vereis onder meer dat die swart ekonomiese bemagtigingsbeleid (SEB) geskrap en vaardighede eerder ontwikkel word.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê sy party het besef dat daar planne moet wees, sou ʼn nuwe regering volgende jaar oorneem. Daarom het dié party ʼn ekonomiese herstelplan saam met die politieke ekonoom, prof. Jannie Rossouw, en Mike Holland, ekonoom en direkteur van die ekonomiese navorsingsmaatskappy PriceMetrics, ontwikkel.

“Die probleme wat die ANC geskep het deur skadelike beleid en ongebreidelde korrupsie, het gelei tot trae ekonomiese groei en beperkte werksgeleenthede. Die belastingbasis krimp toenemend terwyl maatskaplike besteding dienooreenkomstig toeneem,” sê hy.

“Dit, asook die staat se buitensporige salarisrekening, het enorme staatskuld en gepaardgaande rente op die skuld tot gevolg wat die fiskale afgrond al hoe nader bring.”

Die herstelplan beveel onder meer die volgende stappe aan om oor die kort termyn ekonomiese groei te stimuleer:

  • Vervang die mislukte swart ekonomiese bemagtigingsbeleid (SEB) met doelgerigte vaardigheidsontwikkeling.
  • Skep ʼn proses om onnodige regulasies wat ekonomiese aktiwiteit rem te hersien.
  • Onttrek die regering in die geheel aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL).
  • Vergemaklik die vestiging van nuwe sakeondernemings.
  • Vestig beleidsekerheid wat beleggingsvertroue verhoog.

“Baie van die voorwaardes wat die plan identifiseer vir ekonomiese herstel, is polities van aard. Die ekonomiese hervormings wat aanbeveel word, kan daarom nie bereik word sonder fundamentele aanpassings nie,” sê Groenewald.

Die VF Plus is daarvan oortuig dat slegs ʼn vrye mark ekonomiese waarde volledig kan ontsluit, bevorder en beskerm.

“Die regering se vyandige houding teenoor groot sakeondernemings en gepaardgaande beperkende beleidsrigting sal ten gunste van ware ekonomiese ontwikkeling moet verander,” sê hy.

“Geen regering kan volhoubaar werksgeleenthede op sy eie skep nie. Werkloosheid kan slegs oorkom word indien regeringsbeleid verander word om ʼn gunstige omgewing vir werkskepping en belegging te bewerkstellig.”

Die VF Plus meen persoonlike en maatskappybelasting moet ook verlaag word “ten einde belegging in die ekonomie te stimuleer en werk te skep”.

Die VF Plus se ekonomiese beleidsraamwerk stel ook ʼn fiskale kommissie voor wat soortgelyk aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal werk.

ʼn Bogrens vir staatsbesteding moet geformuleer word en wanneer dit bereik word, sal die fiskale kommissie die bevoegdheid hê om BTW te verhoog. Wanneer die gevaar afneem, moet dié koers weer verlaag word.

“SEB het gelei tot die eensydige bemagtiging van swart elite waardeur welvaart eerder rondgeskuif as geskep word,” sê hy.

“Die VF Plus is van mening dat welvaart nie geskep kan word deur rykdom te verdeel nie.

“Ekonomiese bemagtiging in Suid-Afrika behoort nie te fokus op die verryking van enkele individue nie, maar op die werklike bemagtiging van totale gemeenskappe.”

Groenewald sê sosio-ekonomiese omstandighede soos armoede, werkloosheid en ʼn gebrek aan toegang tot gehalte onderwys, moet as grondslag vir bemagtiging gebruik word – eerder as velkleur.

“Groei en ontwikkeling is die enigste volhoubare bemagtigingsmetode.”

Groenewald gee wel toe die ekonomiese herstelplan ʼn lang en moeisame tog sal wees wat groot aanpassings sal verg.

“Die goeie nuus is dat ʼn regering wat die land en sy mense eerste stel, dit wel kan doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Althes ·

Dis ñ goeie uitdaging VF+. Kom ons kyk of die ANC wél sy burgers eerste gaan stel.

Anton ·

Die ANC sal nooit die burgers van SA eerste stel nie. Dis nou al vir amper 30 jaar lank bewys. In Afrika gaan dit oor “stomach politics” en “my time to eat”.

Samuel ·

Ek lees en luister na al hierdie mooi planne en edele gedag

Republikein in die Wes Kaap ·

Die keuse is eenvoudig: Óf afstigting in ‘n onafhanklike land óf gaan voort en trek saam in klein groepies oor die hele land en wees tevrede met alles wat die regime na jou kant toe gooi. Bly net uit die pad van die meerderheid en hou op kla en eis. Dit klink doenbaar, maar sodra ‘n Soedan scenario uitspeel het jy probleme.

Marina ·

Hoe 5% van die bevolking so n “bedreiging” vir die res kan inhou, gaan my verstand te bowe. Regstellnde (wegstellende) aksie is dan maar eintlik net n rookskerm vir hul minderwaardigheids kompleks. Die 5% onderhou n standaard wat die res nie kan/ wil bereik nie! En so ploeg SA agteruit. Geloofwaardigheid voor kundigheid lei altyd tot n economiese ramp.

Jaco ·

Gee regrukwerk by eskom & ander vervalle staatsbedrywe vir wit mense met die regte opleiding en ondervinding.As dít ‘n uiters bitter pil is vir die ANC om te sluk, vat dan dáárdie wit mense se stemreg weg. Die geen stemreg word dan die “straf” vir apartheid. Dis darem beter as geen werk. Topbetuur+ander werkers kan swart bly.Ander swart werkers hoef ook nie “ondergeskik” aan dié wit sleutelwerkers te wees nie. Hulle kan buite-om en agter die skerms dinge regkry en direk aan topbestuur rapporteer. Al daardie swak staatsinstellings gaan uiteindelik regkom en dus nog werkskepping bevorder.
Voordat almal my nou kruisig oor stemreg wegvat: vanaf 1994 sê BAIE wit mense my hulle stem nie meer nie. Ek hoor gereeld “ons het ons kans gehad. Dis nou ‘hulle’ kans”. Eskom en treine en munisipaliteite wat elke dag 100% reg werk is in elk geval ‘n veel groter behoefte/reg as om 1 keer elke 5 jaar ‘n kruisie te trek. Dink buite die boks.

Schalk ·

Stem nie saam nie. Dit sal negatiewe taktiek wees en baie kan net 100 mense wees. Positiewe denke en aksies kan meer gronde wen

Chris dupreez ·

Ek verstaan nie wat hy bedoel by n plan ontwikkel het nie. Dit lyk vir my na n klomp voorstelle, wat baie goed lyk en sinmaak

annie ·

Geen koalisie werk nie. Daar is juis al meer partye omdat mense uit partye stap. Nie een van die partyleiers sal onder ‘n ander leier dien nie. Kyk hoe gaan dit nou al.

WILLEM ·

SEB en Regstellende aksie se gevolge is korrupsie en self verryking. Vaardighede moet ontwikkel word voordat aanstellings gemaak word. Ons land benodig ‘n goeie regering en nie ‘n smag na individuele mag nie.

Chris ·

Suid-Afrika het nie “200” partye nodig nie. Baie wil net ‘n plek hê om te ekep. Vorm nou partye met dieselfde beleid en hou by slegs maksimum 4 partye. Laat kiesers dan self besluit vir wie wil stem. Daar’s te veel van die ANC ministers wat soos ‘n kat op ‘n warm sinkplaat tussen partye rondspring. Vir wat? Dit wys hul ontevredenheid met hul party, maar wanneer geld praat, verander hul weer.

Gideon ·

Dis mooi planne, of eerder mooi drome….vf+ het geen seggenskap nie….ons moet dood eenvoudig die anc uitstem en dit gaan net gebeur as ons DA stem, of mens hulle nou like of nie dis die realiteit

Annelien ·

Dis is ongelukkig die enigste manier, stem vir die DA sodat ons eers die meerderheid stemme kan kry om die ANC uit die weg te kry en dan kan mens begin werk aan al die ideale.

Republikein in die Wes Kaap ·

Probleem is dat wittes het hul aptyt vir politiek verloor het. Ook Afrikaners. Ons is minder as 5% van die bevolking en word as speelbal gebruik.

Gaitsigubib ·

Ek lag so lekker as jy se hulle moet DA stem, seker net sodat die DA later die Nuwe DA kan word en dan saam smelt met die ANC. Hulle durf nie te veel “inklusief” te word nie, dan het hulle nounou n interne demokratiese verkiessing en dan sit hulle weer met die geroosterde pere. Sekere mense leer nooit nie. Ek kan maar praat, maar dit sal nie help nie.

Herman L ·

Soos in die verlede het die VF+ weer sinvolle en praktiese voorstelle om SA se probleme te pak. Dit is egter belangrik dat ‘n veel groter deel van die bevolking aan die voorstelle blootgestel word in die hoop dat hulle sal besef dat daar beter alternatiewe as die ANC is.

Republikein in die Wes Kaap ·

En dit sluit wittes in wat later boetes opgelê word ondat hulle nie SEB aandeelhouers het nie. Of te min SEB werkers in bestuursposte.

Hendrik ·

Die enigste rede hoekom die regering hom nie aan die staatsinstellings onttrek nie is as gevolg van korrupsie – dan is daar geen voertrog vir die ANC nie. Ek stem vir die VF+ se manier want dit kan werk.

Gaitsigubib ·

As jy net n gryntjie respek het vir jouself, het jy nie veel van n ander opsie nie. Die DA se vorige leier het bloot n bespotting gemaak van blankes wat vir die DA gestem het. Hulle was dan in n koalisie met die EFF, wat skreeu “maak dood die Boer” as hulle net n halwe kans kry! Ag nee sies man, mens meng nie met die semels nie dan gaan die varke jou mos vreet?

Papsak ·

Ek stem ons moet reg stem en die anc uit stem staan op staan en stem reg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.