‘Lang herstelpad’ lê voor vir Vernon Koekemoer

Linda Coetzee en Vernon Koekemoer. (Foto: Verskaf)

ʼn Lang herstelpad lê nog vir Cassie Booyse, beter bekend as die internetsensasie Vernon Koekemoer, voor nadat hy Maandag weer ʼn heupoperasie ondergaan het.

Só sê Linda Coetzee, Booyse se lewensmaat van die afgelope nege jaar, aan Maroela Media.

Booyse (66) het Maandag ʼn vierde operasie ondergaan nadat hy sedert 2019 drie onsuksesvolle operasies ondergaan het.

Booyse is die afgelope twee jaar bedlêend weens dié mislukte operasies en was in soveel pyn dat hy in September vanjaar weer in die hospitaal beland het.

Volgens Coetzee is die “goeie nuus” dat dokters by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, waarheen Booyse verlede week oorgeplaas is, nie van sy been verwyder het nie.

“Die dokters het sy heup en die been skoongemaak. Hulle het ook ʼn spasieerder in sy heup geplaas. Dit is ʼn prostese wat gebou is met sement en antibiotika en sal help om enige bakterieë wat agtergebly het, te beveg,” verduidelik Coetzee.

Cassie Booyse in 2008. (Foto via Facebook)

Booyse moet oor sowat ses weke weer deur dieselfde proses gaan indien die infeksie nie opgeklaar het nie. “Sodra die infeksie opgeklaar het, kan hy weer ʼn heupvervanging ondergaan.”

Coetzee sê hoewel dit onder omstandighede goed gaan met Booyse, is hy nog swak en sukkel hy met sy bloeddrukvlakke.

Booyse is voorheen in die Tambo-gedenkhospitaal in Boksburg behandel. “Dit het skielik gebeur dat hulle ʼn bed vir hom gehad het by die Charlotte Maxeke-hospitaal. Daar is ʼn beduidende verskil tussen die hospitale. Ek voel verlig, want ek weet nou hy is in goeie hande. Ek dank die Here daarvoor.

“Hy het ongelooflik baie pyn, maar dit sal binnekort beter met hom gaan. Ons is dankbaar vir almal se omgee, gebede en liefde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

LANA is ELANè ·

Ek is so dankbaar saam met die twee mense, dat daar in SA steeds mense met harte van goud is wat omgee en help waar hulle kan.

Suzette ·

Baie sterkte en voorspoed. Glo en vertrou die slag sal als goed afloop

Koos 100 ·

Sterkte Cassie. My broer het bykans dieselfde as jy beleef, en vandag loop hy. Gebruik ‘n kierie maar hy is regop. Bly net glo en vertrou.

Marcello ·

Ons almal weet mos hoe dit gaan in Staats Hospitale, nog een, nog-een ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.