Lisensies, rybewyse wel uitgereik ondanks ou boetes  

(Foto: Maroela Media)

Motoriste wat ʼn afdwingingsbevel vir verkeersoortredings ontvang het, sal wel voorlopig hul motorlisensies en rybewyse kan hernu.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het vandeesweek bevestiging van die Agentskap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA) hieroor gekry. Dit nadat talle klagtes ontvang is van motoriste wat gevind het dat afdwingingsbevele teen hulle uitgereik is vir ou verkeersboetes, wat hulle verhoed om hul voertuiglisensies of rybewyse te hernu.

Die verkeersowerhede gebruik glo ou boetes om afdwingingsbevele uit te reik en betaling te eis voordat lisensiehernuwings toegelaat word. In baie gevalle blyk dit dat motoriste nooit bewus gemaak is van hul uitstaande oortredingskennisgewings nie, wat van die owerhede vereis word, sê adv. Stefanie Fick, uitvoerende direkteur van Outa.

“Outa het ontdek dat RTIA oortredingskennisgewings wat so ver terug as 2019 dateer, omskakel in afdwingingsbevele, wat ʼn motoris verhoed om ʼn voertuiglisensie of rybewys te hernu. Die afdwingingsbevele word dan teen die voertuigeienaars se besonderhede in die nasionale voertuigregisterstelsel (NaTIS) gelaai, wat vereis dat die motoris of voertuigeienaar hierdie uitstaande boetes moet betaal voordat hul lisensies uitgereik kan word.”

Fick verduidelik dat daar ʼn sekere proses is wat gevolg moet word sodra ʼn motoris ʼn boete vir ʼn verkeersoortreding opgelê word. “Eerstens sal ʼn oortredingskennisgewing aan die oortreder uitgereik word om hom of haar van die oortreding in te lig. Hierdie oortredingskennisgewing moet alle relevante inligting bevat wat met die oortreding verband hou, insluitend dat die oortreder binne 32 dae vanaf die kennisgewing daarop moet reageer – hetsy deur die boete te betaal of te betwis.”

Indien ʼn oortreder versuim om binne 32 dae op te tree, moet die RTIA ʼn hoflikheidsbrief aan die oortreder uitreik en beteken. Die doel van ʼn hoflikheidsbrief is om te verseker dat ʼn oortreder ingelig word oor die oortreding wat hy of sy gepleeg het en die gevolge daarvan. Slegs sodra ʼn oortreder versuim het om binne 32 dae op ʼn hoflikheidsbrief op te tree, mag die RTIA na 64 dae ʼn afdwingingsbevel uitreik en beteken.

“Waar die RTIA versuim het om die hoflikheidsbrief betyds uit te reik en te beteken, het die RTIA ʼn oortreder van die geleentheid ontneem om aan ʼn oortredingskennisgewing te voldoen, wat ʼn ernstiger gevolg het. As dit die geval is, beteken dit dat die RTIA versuim het om sy eie proses te volg en nie bloot die ou oortredingskennisgewing na ʼn afdwingingsbevel kan omskakel nie. In hierdie omstandighede kan die afdwingingsbevel as onwettig en ongeldig beskou word,” sê Fick.

Outa het aan die RTIA geskryf en die RTIA se dringende ingryping versoek om hierdie twyfelagtige invorderingspraktyke op te los. “Die RTIA het Outa in kennis gestel dat hy die bewerings wat ontvang is ondersoek en tot tyd en wyl die ondersoek afgehandel is, sal ʼn afdwingingsbevel nie ʼn motoris kan verhoed om ʼn motorlisensie of rybewys te hernu nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Surfer ·

Die probleem hier is, hoe word ons ingelig? Ons epos addresse is op die stelsel, maar jy ontvang geen waarskuwing daar nie. Hoe nou? Meeste van ons het nie meer posbusse nie omdat die meeste poskantore toe gemaak het of hul posbusse toegemaak het. So waar word jy ingelig? Party het nie Internet nie? So hier is n groot “loophole”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.