‘Los die ramptoestand; ANC ís die ramp’

Pres. Cyril Ramaphosa sê die instelling van nog ‘n ramptoestand – dié keer om die beurtkragkrisis te pak – word oorweeg. (Foto: ANC/Twitter)

Wil die ANC sy kanse by volgende jaar se nasionale verkiesing verbeter, of wil die regerende party met die moontlike instel van ʼn ramptoestand werklik die land se voortslepende kragkrisis pak?

“Dit is twee kante van dieselfde munt,” sê prof. Theo Venter, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Johannesburg.

“Eskom is waarskynlik die grootste opponent in volgende jaar se verkiesing en die ANC gaan dit voel. Daar is egter niks wat hy eintlik in die volgende paar maande [aan die kragkrisis] kan doen nie,” sê Venter.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag, ná afloop van die ANC se lekgotla, gesê beurtkrag moet veel vinniger gepak word en dat die stappe om dit gedoen te kry, reeds uitgespel is.

“Daar was heelwat sprake oor ʼn nasionale ramptoestand, soos ons gedoen het toe Covid-19 ons in die gesig gestaar het, en daar is wye ooreenstemming dat ons in daardie rigting moet voortgaan.

“Werk is reeds binne die regering aan die gang om te bepaal of daar voldoen word aan die wetlike vereistes vir die afkondiging van ʼn nasionale ramptoestand,” het die president gesê.

Die DA vra nou al maande lank dat ʼn ramptoestand oor Eskom verklaar moet word. Ghaleb Cachalia, die party se woordvoerder oor openbare ondernemings, sê Ramaphosa het die plan tot nou ten gunste van sy energie-aksieplan verwerp.

Ramaphosa het boonop vroeër gesê ʼn ramptoestand is nie nodig om regulasies in te stel wat net gesonde verstand vereis nie.

Nog kans om te plunder

‘n Polisiebeampte staan by sy voertuig tydens ‘n patrollie tydens die Covid-19-inperkingstyd om die aandklokreël af te dwing. Sommige waarsku teen vergrype indien ‘n nuwe ramptoestand afgekondig word. (Argieffoto: Wikus de Wet/AFP)

Connie Mulder van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) dink ook nie ʼn ramptoestand is die oplossing nie. Hy sê daar is bestaande wetgewing wat gebruik kan word om die probleem te pak en indien nog krag nie op lang termyn by die netwerk gevoeg word nie, gaan ʼn ramptoestand nie veel help nie.

“Ek sien dit as ʼn ramp wat ʼn ramptoestand wil verklaar. Die ANC is ʼn ramptoestand.”

Hy sê niks stuit die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, om ʼn versoek vir noodkrag in die Staatskoerant af te kondig nie. En as Mantashe die probleem is, stuit niks vir Ramaphosa om hom die trekpas te gee nie.

“Ons enkele grootste krisis is die ANC se totale onvermoë om die krisis die afgelope 16 jaar te bestuur. As die vorige ramptoestand ons enigiets geleer het, is dat dit korrupsie versnel. Daar was enorme vergrype onder die oënskynlikheid van ʼn krisis,” sê Mulder.

Die DA se versoek was vir ʼn noodtoestand – spesifiek tot Eskom beperk – om te verseker rampverligtingsgeld kan by ander departemente en staatshulpbronne geneem en herlei word om Eskom se oopsiklus-gasturbines intussen aan die loop te hou.

Cachalia sê die verklaring van ʼn ramptoestand sal die regering toelaat om die hekkies wat hy self in die pad gestel het uit die weg te ruim, en ook die struikelblokke en opgeblaasde koste in die vorm van onpraktiese arbeidswetgewing, vereistes oor lokalisering, kaderontplooiing en voorkeurverkryging, te omseil.

Venter sê die doel met ʼn ramptoestand sou wees om byvoorbeeld die verkrygingsketting te verkort; dat die tyd wat dit duur om ʼn spesifieke onderdeel te bekom – weens die omslagtige burokratiese proses wat Eskom gedwing word om te volg – van ʼn paar maande na ʼn paar dae verkort kan word. Dit kan ook lei tot die verdere ontplooiing van die weermag by kragsentrales om misdadigheid te help stuit.

“As dit positief aangewend word – en ons is maar altyd sinies hieroor – kan daar ook groter druk op plaaslike regerings en staatsdepartemente wees om hul Eskom-rekeninge te betaal,” sê Venter.

Die afkondiging van ʼn noodtoestand moet egter aan bepaalde vereistes voldoen en gaan waarskynlik in die howe betwis word, sê hy. Suid-Afrikaners het tydens die Covid-19-noodtoestand baie skoolgeld betaal en Venter sê daar is rede tot agterdog – juis omdat die regering vantevore nie vertroue in sy hantering van die proses geskep het nie.

Die burgerregtegroep AfriForum het verlede jaar al gewaarsku dat hy die hof op ʼn dringende basis sal nader, sou die regering besluit om weer ʼn ramptoestand in te stel.

Venter sê dit lyk of die ANC die voorgestelde instelling van ʼn noodtoestand gaan gebruik om mense te probeer oortuig dat hy wel ernstig is om die kragkrisis op te los.

“Dit is egter ʼn klassieke voorbeeld van ʼn politikus wat ʼn sin vir dringendheid onder sy eie volgelinge probeer skep – vir ʼn probleem wat hyself geskep het.

“Vir my is dit ʼn aanduiding dat die ANC groot teenstand in die politiek verwag.”

Mulder sê hy “sidder” as daar byvoorbeeld gedink word aan die aankoop van noodkrag ingevolge ʼn ramptoestand. Die regering beplan onder meer om noodkrag by die Turkse Karpowership te koop in ʼn ooreenkoms wat die land miljarde rande gaan kos. Die proses is verstrengel in hofsake en daar is veral kritiek op die 20 jaar lange ooreenkoms vir ʼn sogenaamde noodkontrak.

Mulder sê as die kragkrisis vroeër opgelos word, sal dit beteken Suid-Afrika sal vir die volle duur van die ooreenkoms Karpowership se krag moet koop. “Dit lyk na korrupsie en onder ʼn ramptoestand is daai korrupsie nog makliker,” waarsku hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Riaan ·

Dit is baie dom van ons Suid-Afrikaners om die politieke party wat die probleem veroorsaak het in beheer van die oplossing te plaas. Die ANC moet van die aardbol af verwyder word.

LANA is ELANè ·

My redenasie ook. Gaan mens se verstand te bowe dat daar nog mense is wat dink dit sit in die regerende party se broek om enige iets te laat werk. Gee hulle iets om te “korrupteer”, en dit gebeur dadelik.en met groot sukses en onder mens se neus. Ugh ek haat die onvermoë van die mense wat slegs hulself bevoordeel met ons bepastinggeld.

Shakespeare ·

Die wreedste en liederlikste ramp of katastrofe wat Suid Afrika nog ooit getref het. VIVA ANC/EFF VIVA !!

Christo ·

Moenie die ANC blammeer nie, blammeer diegene wat die ANC elke keer in daai stoele stem. Solank as wat daardie mentaliteit nie gaan verander nie, gaan dit net slegter en slegter gaan met die land. Kom ons sit eerder agteroor en vreet ons KFC, voordat ons werk en hierdie land iets maak om van trots te wees.

Amelia ·

As daar wel van die Karpowership krag voorsien word gaan daar mos ook weer water wees mense dit is hoe anc aan bewind gaan bly deur geen water geen krag geen kos ens en krag word van Karpowership gekoop sal daar mos nou n groot ophef van anc gemaak word “Hul mos dan land gered van hongersnood ens en wie steek weer die geld in hul sakkke Die is al lankal beplan en uitgewerk selfde met die ramp toesand hoeveel pleke sluit weer mense sonder werk salarisse wat virminder Nee hfier is iets aan gang

kaplyn ·

Ja ek stem saam. En as die Karpower skepe na 20 jaar hulle ankers optrek en wegseil dan sit ons nog steeds met ‘n kragprobleem en ‘n natuurramp daar waar die skepe vasgemeer het.

Jacobus ·

Maak nie saak wat sê plan of toestand gebruik moet word nie – hou aub net die klewerige hande uit die gelaai! Dit geld eintlik vir elke ANC STROOPTOG!

marius ·

Jou mishoop het nou ‘n riool put geword hoofseun . Julle kan nie .

Johanna ·

Mense die wat stem vir ANC EN EFF weet nie van beter NIE. Hulle kla en plunder oor swak dienslewering maar Dan kom die T hempie en kospakkie en Dan stem hul maar weer vir die partye. Pateties. Volgens Siener van Rensburg Gaan die wiel draai. En volgens my geloof in God glo ek so

domheks ·

Ramaphosa is die ramp in SA! cANCer kan nie hul lang vingers uit die geld laai hou nie!

MariavR ·

Iemand het nou die dag gesê: ‘n ramp wat jy self veroorsaak het, is ‘n skande … nie ‘n ramp nie.

Casper ·

Karpowrships word te sterkste aanbeveel deur Mantashe en alle ander projekte om krag te bekom deur eskom word deur Mantashe afgekeur.My vraag is hoekom,meer geld vir sy beursie.Hoe gaan die ramptoestand ons enigsins tot voordeel strek.Die oplossings word vir die regering gegee maar hulle weier om dit te implementeer.

JohanR ·

Ek is soe gretig om my kruisie in 2024 te trek. Jammer ek kan hom net een keer trek. Hoop ek kan sien…..ANC 40%.

annie ·

So ‘n inperking sal lank bly. Die ANC voel bedreig en wil dit gebruik om rus en vrede te vertoon voor die volgende verkiesing wat Cyril self as bedreigend aandui; die eintlike dreigende ramp dus hul party se moontlike neerlaag. Sommer ‘n klomp vlieë met een klap in beheer te hou? Die skade aan die ANC is meer van belang as die skade aan die ekonomie. Eskom… O, Eskom… Ja, ja ons werk daaraan…

Elma ·

Connie Mulder, jy praat die heilige waarheid. So bek kort jêm!

Annamarie ·

Nuwe kaartjie wat nou weer gespeel gaan word, totdat die 2024 verkiesing verby is.
Kyk hoe lekker lag CR.

KaRoOkWaGgA ·

Is dit weer bonus tyd vir die regering? Hulle ramp toestand gaan net eenvoudig weer in hulle sakke in. Kry die krag voorsienings netwerk onder staats beheer uit en ek is seker dinge sal binne ‘n paar maande op dreef begin kom. Ongelukkig is dit nie iets wat oornag herstel kan word nie. So kortom – NEE VIR ‘n RAMP (of RAMAPOSA) TOESTAND!

Andrew ·

n Rukkie terug skeeu die DA Ramaposa moet beskuldig en verwyder word (so asof Steenhuisen volgende in lyn is),net om later hul kortsigtige woorde terug te trek toe hulle besef wie volgende in lyn is.
Rondom Eskom vra die DA vir n rampstoestand en gee dus die ANC die maandaat om so iets in te stel. Weerneens kortsigtig, waar was die DA toegelaat om checks and balances uit te voer met Covid? 6 mense in n kamer het sommer dit gedoen.

Eskom kan nie meer krag genereer nie, tensy hy Kusile klaar maak en Medupi op vol produksie kry. Dus moet hy nuwe stasies bou.
So of Eskom bou die stasies of die privaat sektor bou dit. Die privaat sektor het nie opgeblaasde kostes in die vorm van onpraktiese arbeidswetgewing, vereistes oor lokalisering, kaderontplooiing en voorkeurverkryging, om te omseil deur middel van n rampstoestand te verklaar nie.

Glad nie goeie strategiese vernuf wat ten toon gestel word nie.

LANA is ELANè ·

Die karpowership is net ñ ander woord vir ancpowership met voordeel slegs vir die ANC regering. Privatiseer ESKOM, en hou die regerende party se gulsige hande weg van ESKOM en belet alle politieke partye om betrokke te wees by ESKOM.
Laat gaan al die mense wat nie die vaardigheid in enige posisie by ESKOM het nie, en vervang hulle dadelik met vaardigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.