Lug in pype los Johannesburg weer sonder water

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Rand Water/Twitter)

Hoewel Rand Water se dae lange instandhoudingswerk Vrydagoggend al afgehandel is, het lug in sekere waterpype nou daartoe gelei dat mense in Johannesburg steeds sonder water sit.

Rand Water sê omdat die waterstelsel byna drie dae leeg was, is dit “waarskynlik dat daar lug in die pype is”.

“Om hierdie probleem op te los, moet sekere pypleidings in die stelsel afgeskakel word om die lug vry te laat wat tydens die instandhoudingsproses in die pype gekom het,” het Rand Water gesê.

“Dit sal help verseker dat die pypleidings wat pas herstel of vervang is, nie deur lugdruk beskadig word nie.”

Lug in waterpypleidings keer dikwels dat water deur pype vloei en kan dikwels weens die druk ʼn pypleiding beskadig.

Volgens Rand Water is sy pypleidings tans onder geweldige druk, daarom moet gebiede wat lekkasies het ten alle koste vermy word “aangesien die lekkasies tot ernstige beserings of selfs dood kan lei”.

Rand Water het Dinsdag begin met ʼn 58 uur lange tydperk van instandhoudingswerk aan die Eikenhof-pompstasie. Daar is ook instandhoudingswerk aan die Zwartkopjes-pompstasie, en by die Vereeniging- en Zuikerbosch-waterbehandelingsaanleg gedoen.

Rand Water het reeds gemaan dat diegene wat in hoogliggende gebiede in en om Johannesburg woon dalk eers oor ʼn paar dae weer water sal hê.

Aangesien verskeie gebiede se reservoirs ook in hierdie tyd leeggeloop het, gaan dit selfs nog langer neem vir gebiede soos Krugersdorp om aan al sy inwoners water te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.