Luister: ‘Genade, gebede dra my’ sê Candy Benson ná gesondheidstryd

Candy Benson kuier by Maroela Media. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Soos die blondekop sangeres Candy Benson nou borrelend voor ʼn mens sit en gesels, sal jy skaars kan glo dat sy twee jaar tevore by die dood omgedraai het en sedertdien verskeie storms moes trotseer.

Candy se lewe is behoorlik op sy kop gekeer toe sy in 2021 met Covid-19 gediagnoseer is. Die virus het in daardie tydperk hoogty gevier en haar pa, Marc, het sy stryd teen dié virus verloor terwyl Candy self nog in die Netcare Olivedale-hospitaal om haar eie lewe geveg het.

Daar was uiteindelik ʼn lig aan die einde van Candy se gesondheidstonnel toe sy by dr. Emmanuel Taban, ʼn bekende pulmonoloog in Midstream, aangeklop het vir raad oor die blywende skade wat haar longe opgedoen het weens haar stryd teen Covid-19-verwante longontsteking.

Sy kon uiteindelik in 2022 weer begin sing, en het onlangs die trefferliedjie, “Net oor jou”, uitgereik. Dié snit vaar uiters goed op radiostasies landwyd. Om te sing en op te tree het weer ʼn huppel in Candy se stap gesit.

Tog is die seer in haar helderblou oë duidelik sigbaar wanneer sy gesels oor haar pa, met wie sy ʼn baie hegte band gehad het, en die verbreking van haar verlowing.

Candy, bekend vir liedjies soos “7 dae in die somer” en “Stywer vas”, gesels in Maroela Media se ateljee oor haar nare ervaring met Covid-19 en die nadraai daarvan in haar lewe.

“Ek onthou net ek het ʼn drup in elke arm en selfs in my nek gehad,” sê sy oor haar hospitalisasie in Julie 2021.

“Ek was altesaam 74 dae in die waakeenheid en vyf maande in en uit die hospitaal. My pa is nege dae nadat ek opgeneem is, ook opgeneem met Covid-19. Net ʼn paar ure daarna is hy oorlede.”

Cindy en Marc Benson. Hulle is die sangeres, Candy Benson, se ouers. (Foto: Facebook)

Cindy, Candy se ma, moes op dokters se aanbeveling dié verpletterende nuus van haar dogter weerhou.

“Ek was self in ʼn kritieke toestand en ek sou moontlik self my lewe verloor het as ek die nuus dan gehoor het,” onthou Candy.

Sowat ʼn maand en ʼn half het verloop voordat sy uitgevind het haar pa is oorlede.

“Daar was tye [toe ek siek was] wat ek nie eers my eie naam kon onthou nie. Ek het psigose as gevolg van die steroïde ontwikkel, so ek het met tye selfs gedink ek het in ʼn inrigting vir geestesversteurdes beland. Ek het geen idee gehad wat om my aangaan nie.”

Toe sy begin bykom, het sy begin agterkom sy hoor nie van haar pa nie. “Ons familie is so geheg aan mekaar en ek het heeltyd vir my ma gevra hoekom hy nie my WhatsApp-boodskappe beantwoord nie.

“Sy het heeltyd verskonings gemaak, maar uiteindelik het ek begin angstig raak en my ma het besef die tyd het gekom om die nuus te breek.”

Oor die besonderhede van die verbreking van haar verlowing wil sy nie te veel uitwei nie, maar erken haar hart was aan flarde.

“Dit was baie hartseer, maar dit gesê, is dit nie die ergste ding waardeur ek al is nie. Ek is al deur erger en ek voel die Here het my deur alles bygestaan. Ek kan getuig van hoe ek sy teenwoordigheid in die hospitaal gevoel het. My geloof was altyd groot, maar nou is dit net soveel groter.”

Candy Benson en haar ma, Cindy. (Foto: Facebook/Candy Benson)

Nou, sowat twee jaar later, glo Candy dit was net die Here se genade, en die onwrikbare bystand van haar ma, wat haar gehelp het om te midde van die storms staande te bly.

“Mense wat ek nie eers ken nie, het vir my gebid en my deurgedra. Ja, ek het seergekry, maar jy dink my storie is erg? Ek is seker daar is derduisende mense daarbuite wat soveel erger as ek moes deurmaak.”

“Net oor jou” gaan juis oor seerkry en verlies, sê Candy. “Almal van ons weet hoe dit voel en ons almal bou mure rondom ons wanneer ons seergekry het.”

Vincent Gordon het die liedjie geskryf, waarna Candy haar eie stempel daarop afgedruk het met ʼn voetstamp-ritme en haar engelstem, wat glo nou laer klink weens nodules op haar stembande.

Candy is gesond en gelukkig. (Foto: Facebook/Candy Benson)

“Die liedjie gaan daaroor om iemand nuut in jou lewe in te laat, wat jy kan toelaat om die mure te help afbreek. Dit is baie moeilik as jy jou vingers verbrand het.”

Candy sê sy moes leer om na haar liggaam te luister en haarself te vertrou. “Ek moes my liggaam kans gee om reg te kom. My herstelpad het soveel langer gevat as wat ek gedink het en ek moes soveel geduld met myself hê.

“Ek het ook geleer dat daar mense daar buite is wat werklik omgee. Sonder daardie mense sou ek nie so sterk gewees het nie. Ek het ál die liefde gevoel.”

“Net oor jou” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Candy Benson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.