Mabuza bekommerd oor slagting op paaie

Adj.pres. David Mabuza. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Adj.pres. David Mabuza, wat as president waarneem terwyl pres. Cyril Ramaphosa in die buiteland is, is diep bekommerd oor die slagting wat die afgelope ruk op die land se paaie plaasgevind het, en veral omdat vragmotors by verskeie van die ongelukke betrokke was.

“Elke lewe wat op die pad verloor word, is een te veel,” sê hy.

In KwaZulu-Natal is verskeie noodlottige ongelukke aangemeld. Maroela Media het vroeër berig dat 18 kinders en twee volwassenes Vrydagmiddag in ʼn ongeluk op die N2 tussen Pongola en Piet Retief in KwaZulu-Natal dood is nadat ʼn vragmotor die voertuig waarin hulle gery het reg van voor getref het.

Die voorlopige ondersoek na die voorval dui op ʼn menslike fout en versuim om die padreëls na te kom.

Agt mense is op dieselfde dag in twee afsonderlike ongelukke op die N1 in Limpopo dood. In albei gevalle het die voertuie reg van voor gebots. ʼn Vragmotor was by een van die voorvalle betrokke.

Een van die jongste voorvalle was Maandag naby Ulundi in KwaZulu-Natal, waar ʼn vragmotor in die pad omgeslaan en tot ʼn tweede ongeluk met ʼn ander vragmotor gelei het. Vier voertuie het in die proses aan die brand geraak. Geen sterftes is aangemeld nie en twee mense is beseer.

Volgens Mabuza is die aantal ongelukke waarby vragmotors betrek word, uiters kommerwekkend. Hy sê dit is elke Suid-Afrikaner se verantwoordelikheid om dié soort ongelukke, wat dikwels noodlottige gevolge het, hok te slaan.

“Ons doen ʼn beroep op alle padgebruikers om versigtig en geduldig met ander padgebruikers te wees. Dit kan soveel lewens red.”

Mabuza het mense egter gemaan om nie hul hartseer en frustrasie op vragmotorbestuurders uit te haal nie, maar eerder owerhede die geleentheid te gee om enige probleme te pak.

ʼn Vergadering gaan glo met die vragmotorbedryf gereël word om die uitdagings wat bestuurders in die gesig staar, te bespreek. Die hoop is om oplossings te vind sodat die veiligheid van vragmotorbestuurders en ander motoriste op die paaie verbeter sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Kobus ·

Spoed, geen respek vir die gereg nie want daar daar bestaan nie meer so iets nie. Lisensies wat gekoop word. Alles die somtotaal van die ANC se onvermoee om die land te bestuur.

Christine ·

Daar is altyd consequences vir onvermoë – koop van lisensies en vernietiging van Transnet se spoorvermoë.

Andrè ·

Vragmotor bestuurder voel ñ veer vir die gewone padverbruiker want hy het die groote en gewig agter hom, amper net so erg soos taxi’s

Rooikop ·

Nie alle vragmotor bestuurders is so nie wat van die motoriste wat soos hul agterent ry en net voor hul indruk en verwag die vragmotor Moet dadelik Kan dood stop

Danie ·

Geagte Dawie: doen iets aan die slaggate of eerder dongas wat 90% die werklike oorsaak is

Rocco ·

Wiele val nou letterlik en figuurlik af,
Mabuza. Tyd dat die ANC val!

GWS ·

Die vragmotorbestuurders dink hulle besit die pad en verontagsaam all verkeersreëls en taxi’s is net so erg!

Bella ·

Die een ongeluk het beslis nie aanleiding tot die volgende een gegee nie. Daar was polisie op die toneel wat verkeer gereguleer het. Hier is n aboslute verontagsaming van pad reels, wet en orde, stadig ry met n swaar gelaaide voertuig ens… Die lys is te lank. As ek sien hoe mense vanoggend in n 2 baan pad ry asof dit n 3 baan pad is, en ek sien dit daagliks, dan liewe mnr Mabuza kan jy maar bekommerd wees hoor. Dit maak geen verskil aan die pad toestande en die pad gebruikers se gedrag nie. Worry lekker!

Snuffelgids ·

Begin by daai Blue Light Brigade van julle, die wat so boelie en aggressief is…spoedgrense is mos nie van pas op julle nie, of hoe?

Hennie ·

Snaaks dat padvervoer in die buiteland hoogs gereguleer is. Nie onse ou ZAR nie. Die ANC het alles tot niet laat gaan – BEE verkeerspolisie wat net belang stel in n koeldrank of n R50 noot. Nog n ANC suksesstorie….

Nellene ·

“Passing the buck”! Hoekom is daar so baie vragmotors op die paaie wat nie daarvoor gebou is nie? ANC moet pa staan – hulle het die spoorweg vernietig

Danie ·

Vandat die spoorvervoer deur die regering gekaap is om plek te maak vir die taxi en trok broers.Als oor geld en mag.

Pietertjie ·

Die slagting op die paaie is 100% die ANC se skuld. Dis húlle as regerende party wat verantwoordelik is vir opleiding in wetsgehoorsaamheid en -toepassing.

Delia ·

Ek luister nou na RSG. N blanke man praat. By is n vragmotorbestuurder. Hy sé hulle word gedwing om vragmotors te oorlaai, vinniger te ry as die normale vir vragmotors. As hulle dit nie doen, verloor hulle hulle werk. So gaan alles oor geld??

Danie ·

As n groot mens weet iets is verkeerd dan doen jy dit nie.Eendag in die hof sal hy sien hy staan alleen.

Nie Verbaas ·

Ek verstaan glad nie hoekom jy jou kommer uitspreek oor dit waarvoor julle korrupte ANC ten volle verantwoordelik is nie. Word wakker en gaan doen ondersoek oor hoeveel bestuurders werklik agter die stuur van n motor en nog meer n vragmotor hoort. Julle gemors ANC. Julle onnoselheid en korrupsie het die gemors veroorsaak.

Danie ·

Jare terug was die grense n gevaarlike terrein.Deesdae is die paaie die gevaarlikste.Openbare gebiede met 67 moorde per dag.SA n slagveld.

Zors ·

Vragmotors is nie die probleem nie….Die trein spoornetwerk wat dis-funksioneel is, is die probleem…

SjN ·

Die hele ANC kaders is die probleem, in 28 jaar kon jul nog niks bereik nie, afbreek en plunder ja.

domheks ·

Moenie jou so bekommer nie. Doen iets aan die paaie. Of het jy nog nie die ‘potholes’ raak gesien nie?

Veronika ·

Doen iets daaromtrent, moenie net daar sit en waffel nie!!!!

Nommer 7 ·

Om ‘n bestuurslisensie te kry, moet jy jou padreels ken. Hoe vernuftig jou bestuursvermoe is, word nie getoets nie. ‘n Profesionele Bestuur Kursus behoort ook ‘n voorvereiste te wees.

Nie Verbaas ·

Soos met vlieëniers moet motoriste onderwerp word aan toetse in n simulator. Ons sal dan kan sien hoeveel werklik n lisensie kan besit. In n noodsituasie kan mens vinnig oordeel wat iemand se vermoë is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.