Man gesoek in saak van vermoorde ingenieur

 

Thys van Niekerk

Niemand is al in hegtenis geneem sedert Thys van Niekerk (64), ʼn gewilde siviele ingenieur, se liggaam vol steekwonde op ʼn plaas naby Cradock in die Oos-Kaap aangetref is nie.

Volgens ao. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, is die polisie in Cradock egter tans op soek na Andrew Kroukamp (28), wat moontlik antwoorde oor die moord kan hê.

Maroela Media het vroeër berig Van Niekerk het alleen in die huis op die plaas Uitkyk gewoon terwyl hy as inwonende ingenieur, verbonde aan die maatskappy SNA Civil and Structural Engineers, aan ’n padherbouprojek op die R390-roete tussen Cradock en Hofmeyr gewerk het. Hy sou vir die duur van die projek (sowat drie jaar) in dié huis gebly het.

Die projek het sowat twee maande gelede begin en dit sou Van Niekerk se laaste groot padbouprojek gewees het. Hy sou daarna amptelik as ingenieur afgetree het.

Die polisie is egter omstreeks 09:30 Woensdagoggend na die toneel ontbied waar hulle Van Niekerk met steekwonde aan sy bolyf aangetref het. Die aanvaller(s) het na bewering ook sy keel afgesny.

“Die verdagte(s) het met Van Niekerk se Toyota Prado gevlug. Dié voertuig is later met twee pap bande op die Conway-pad in Hofmeyr gevind,” het Nkohli vroeër aan Maroela Media bevestig.

Enigiemand met inligting wat kan help met waar Kroukamp hom bevind, word versoek om die ondersoekspan by 082 319 8876 te bel. Die inligting kan ook anoniem via Stop Misdaad by 08600 10111 gedeel word.

(Foto: Verskaf)

Van Niekerk se roudiens sal eerskomende Saterdag om 12:00 in die Church Unlimited in Mbombela, Mpumalanga, plaasvind:

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peetjie ·

Help my asb reg as ek verkeerd is … Hoe is die persoon sê naam dan bekend as hy nog nie in die hof verskyn het nie? Ek het dan verstaan ñ beskuldigde se naam mag slegs bekend gemaak word as Hy in die hof verskyn het.. ek vra maar net…

Vettiemaragartos ·

Die polisie is opsoek na hom. Hy kan moontlike inligting oor die moord hê. Hy word (nog) nie aangekla van moord nie.

Roek ·

@Peet , die persoon word verdink “person of interist” daar is ‘n “BOLO uit “be on the look out ” hulle moet die besonderhede bekend maak sodat hy moontlik verbind kan word en dan volg die proses ! Ek hoop ek maak sin !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.