Man se liggaam gevind ná motor by Voëlklip afstort

(Foto: Verskaf)

Die liggaam van ’n 33-jarige man is Donderdagmiddag om 15:10 uit die water by Heroldsbaai herwin ná hy Woensdagaand met sy motor oor die afgrond by Voëlklip gestort het.

Maroela Media het vroeër berig die polisie in George is omstreeks 19:00 ingelig dat ʼn motor oor die berugte afgrond gestort het.

ʼn Inwoner van die omgewing wat agter die voertuig gery het sê die motoris het oënskynlik bloot by die afgrond afgery. Die inwoner kon egter nie sien of daar meer as een persoon in die voertuig was nie.

“Die motor het nie besonder vinnig gery nie en was reg voor ons motor. Die volgende oomblik is hy reg oor die krans… sommer net so,” het die inwoner aan Maroela Media gesê.

Sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, sê die George-polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek geopen.

“’n Lykskouing om die oorsaak van sy dood vas te stel sal binnekort gedoen word.”

(Foto: Verskaf)

Verskeie soortgelyke voorvalle het die afgelope paar jaar talle lewens geëis.

Voorheen is berig ʼn vrou se liggaam is in Januarie vanjaar uit die water by Voëlklip gebring. Nóg ʼn motor het hierna in Junie oor die kranse gestort.

Dit is ook hier waar Heidi Scheepers (35) en haar twee jong kinders, Cozette en Hugo, in 2019 dood is toe hul Volkswagen Caravelle oor die afgrond gestort het.

Die plaaslike munisipaliteit het reeds in Maart 2021 houtpaaltjies langs die grondpad by Voëlklip aangebring in ʼn poging om motoriste te keer om by die afgrond af te ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Francois ·

Geestesgesondheid raak ‘n groot probleem, veral in “silly season” rondom kersfeestyd. Ai, as iemand só desperaat voel om dit te doen, is dit ongelukkig meestal te laat om te help.

Bolandse Nooi ·

@Francois – soms, net sóms – het geestesgesondheid NIKS te doen met iemand se besluit om selfdood te pleeg nie (hier, neem ek aan, was die oorledenes wat oor hierdie krans gery het, die uitsondering). Soms, net sóms, besluit ‘n mens: tot hier toe en nie verder nie. Die lewe is nie die moeite en gesukkel werd nie, en dit is NIE DEPRESSIE NIE.

Delia ·

Ongelukkig as iemand wil, sal niks hom/haar stop. Net hartseer dat iemand tot op so n desperate punt kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.