Maroela se Grootse Afrikaanse Grap van Alle Tye is…

Om die Grootste Afrikaanse Grap van Alle Tye te vind was ʼn ernstige saak vir die organiseerders. Van die begin af het ons kopgekrap en bepeins. Ons het nagedink en herbesin. En natuurlik tussendeur ook hardop gelag.

Ná ons lesers genooi het om hul gunstelinggrappe in te skryf, het ʼn span kundige beoordelaars – almal grapmakers in eie reg – saam deur ‘n oes van 874 grappe gesif om uiteindelik die top-50 en daarna die top-10 saam te stel.

Hierna het Maroela Media se lesers en die luisteraars van talle gemeenskapsradiostasies aan die beurt gekom en maande lank saam gelag en saam gestoei oor die beste Afrikaanse grap. Dis mos nou nie sommer net ‘n hierjy titel nie – dis ‘n grap wat die toets van tyd moet deurstaan. Dit is dáái grap waarvoor jy elke keer lag as jy hom weer hoor. ʼn Grap wat jou laat glimlag as jy sommer so onverwags aan hom terugdink. ʼn Grap wat jy maklik kan oorvertel en ʼn grap wat jy in enige geselskap kan vertel.

Uiteindelik is meer as 17 000 stemme uitgebring en dié grap het lag-lag gewen:

Die Grootste Afrikaanse Grap van Alle Tye

Ou Jan se hond is dood en hy gaan na die kerkkantoor om vir die dominee te vra of hy sy geliefde hond se begrafnis uit die kerk kan hou.

Die dominee sê vir hom: “Nee broer Jan, die reëls en regulasies van die kerk bepaal dat ons nie diere uit die kerk uit kan begrawe nie.”

Jan sê: “Dit is nou regtig jammer, ek was bereid om om R100 000 te spandeer op die begrafnis.”

Dominee: “Nee wag broer Jan, jy het nooit aan my genoem dat hierdie ʼn NG-hondjie was nie!”

Luan Jacobs het tydens die uitdunrondes die grap ook in video-formaat vir ons opgeneem:

Die wenners van die Mauritius-vakansies

‘n Uitsig oor die beeldskone Long Beach, Mauritius. (Foto: Verskaf)

Biela Liebenberg (36) wat tussen Klerksdorp en Wolmaransstad boer, het heel eerste dié grap ingeskryf en hy wen dus ʼn vakansie vir twee na Mauritius met die komplimente van World Leisure Holidays.

“My meisie, Lieselle de Villiers, het die skakel vir die kompetisie vir my aangestuur, en ek het besluit kom ons vat ʼn kans,” vertel Biela, wat die selferkende grapmaker van sy vriendekring is.

Aanvanklik het dit hom diep in sy arsenaal van grappies laat grawe om die perfekte grappe te vind, maar hy het sy volle kwota van drie gesinsvriendelike grappe vir die kompetisie ingeskryf.

“Die honde-begrafnis was eintlik my derde keuse en ek het nie vir een oomblik gedink dit sal die gewildste grap wees nie.

“Ek en my meisie hou al sedert die aankondiging van die toptien styf duim vas, maar toe Maroela Media my bel, het ek onmiddellik in hoendervleis uitgeslaan want ek het geweet dit is goeie nuus.”

Biela se goeie sin vir humor het vir hom ʼn vakansie vir twee in Mauritius ter waarde van R70 000 besorg, met die komplimente van World Leisure Holidays. Die vakansie sluit onder meer sewe nagte se verblyf vir twee persone by die vyfster Sugar Beach Resort op die eilandparadys in die Indiese Oseaan in.

Hy glo die Grootste Grap-kompetisie is net die regte medisyne vir lesers in hierdie vreemde tye en Rachel Venter stem heelhartig saam.

Rachel, van Vaalwater in Limpopo, het die tweede prys van ʼn R50 000 vakansie in Mauritius met die komplimente van World Leisure Holidays losgeslaan bloot omdat sy aan die stemmery deelgeneem het. Sy en haar man gaan van die geleentheid gebruik maak om hulle 20ste huweliksherdenking op dié manier te vier.

“Ons familie geniet dit om grappies te vertel, dit is mos maar eie aan ons Afrikaanse mense. Ons het ʼn goeie sin vir humor,” lag Rachel.

‘Ons wou ʼn verskil maak’

Afrikaners is natuurlik vinnig om ʼn grap oor enige situasie te vertel. Die veldtog was vir Maroela Media belangrik, nie oor die hoeveelheid inskrywings of mense wat gestem het nie, maar om mense ʼn rede te gee om te glimlag.

“Maroela wou met hierdie veldtog ʼn verskil maak en mense ʼn rede gee om positief te wees. Dit was ook belangrik om die kultuur van grap vertel, wat eie is aan Afrikaans, te laat herleef,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.

Sy sê oral waar Maroela Media met mense oor die kompetisie gepraat het, is daar sommer gou nog ʼn grap of twee vertel.

“Ek dink ek het vanjaar meer grappe vertel en gehoor as ooit te vore. Dit was wonderlik om vir mense ʼn rede te gee om te kan lag in moeilike tye.”

Lombaard sê al drie die grappe in die topposisie is lekker Afrikaanse, en ook eg Suid-Afrikaanse grappe.

“Ek dink mense kan met die grappies identifiseer en dit gaan nie noodwendig in ʼn ander taal of kultuur snaaks wees nie.”

In die tweede en derde plek …

Hierdie twee grappe het dit net-net nie gemaak nie, maar hou hulle gerus ook byderhand vir wanneer jy volgende keer ʼn grap moet vertel.

  • Die diens

Eendag merk die dominee ʼn klein seuntjie in die voorportaal van die kerk op wat aandagtig na ʼn groot gedenkplaat teen die muur staan en kyk. Dit is oortrek met name en daar was klein landsvlaggies weerskante.

Die dominee loop nader, kom staan langs die seuntjie, en sê saggies: “Goeiemôre, my seun.”

“Môre, dominee,” sê hy, met sy oë nog vasgenael op die plaat. “Dominee, wat is dit hierdie?”

Die dominee antwoord: “Wel, my seun, dit is ʼn gedenkplaat vir al die jongmanne wat in die diens gesterf het.”

In doodse stilte en met groot eerbied staan die twee voor die plaat en staar na die name. Uiteindelik, in ʼn skaars hoorbare stemmetjie en bewend van vrees vra die seuntjie:

“Watter diens, dominee? Die oggend- of die aanddiens?”

  • Kallie, Gerrie en Mike op ʼn eiland

Kallie, Gerrie en Mike is gestrand, al vir maande op ʼn pragtige eiland. Eendag spoel daar ʼn bottel uit met ʼn briefie in. Hulle maak dit oop en lees: “Ek is ʼn goeie-wens-bottel. Elkeen van julle kry een wens.”

Kallie se dadelik: “Ek wens ek was nou op my plaas.” Woeps weg is Kallie.

Gerrie kyk so en sê: “Ek wens ek was nou by my eie huis.” Woeps weg is Gerrie.

Ou Mike kyk so rond, krap sy kop en sê: “Sjoe, ek wens ou Kallie en ou Gerrie was nou hier!”

Dié radiostasie wen

Verskeie Afrikaanse gemeenskapsradiostasies landswyd het ook hul luisteraars aan die lag gekry met dié veldtog. Baie geluk aan Radio Helderberg 93.6fm wat ʼn kontantprys van R10 000 van Maroela Media wen omdat hulle luisteraars loshande die meeste aan dié veldtog deelgeneem het.

Radio Helderberg is ʼn gemeenskapsradiostasie gebaseer in Somerset-Wes in die Wes-Kaap, sowat 48 km van Kaapstad. Die stasie se uitsendingsgebied sluit in Somerset-Wes, Strand, Gordonsbaai, Sir Lowryspas, Nomzamo, Lwandle, Firgrove en Macassar. Die stasie se voetspoor strek ook na dele van die Kaapse Skiereiland, die suidelike en noordelike voorstede, die Weskus, Stellenbosch, Elgin, Grabouw, Villiersdorp, Hermanus en Gansbaai.

Die stasie saai uit in Afrikaans, Engels en isiXhosa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.