Medelye stroom in vir vlieënier ná Bultfontein-vliegongeluk

Christiaan Wiid (Foto: Christiaan Wiid, Facebook)

Die vlieënier wie se liggaam Vrydagoggend in die vliegtuigwrak in die Bultfontein-omgewing in die Vrystaat gevind is, is geïdentifiseer as Christiaan Wiid (52). Wiid was ʼn vlieënier vir SAL en het ook voorheen vir die Suid-Afrikaanse Lugmag gevlieg.

Volgens kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, is sy familie intussen van die ongeluk in kennis gestel.

Maroela Media het vroeër berig die polisie en boere van die omgewing het Donderdagaand onverpoos na die vliegtuig gesoek nadat dit vermis geraak het. Die vliegtuig het in daardie stadium gewasse in die omgewing van Bultfontein en Hoopstad gespuit.

ʼn Polisiehelikopter is Vrydagoggend omstreeks 05:00 in die lug opgestuur om na die vliegtuig te soek. Die vliegtuigwrak is binne 10 minute in ʼn mielieland op die plaas Klipveld in die Bultfontein-omgewing opgemerk.

Wiid is op die toneel dood verklaar.

Chrisiaan se passie was om te vlieg (Foto: Facebook)

Wiid het vir AgMan Aviation gewerk en was ook ’n vlieënier by die Suid-Afrikaanse lugredery FlySAA. Hy het ook jare gelede vir die Suid-Afrikaanse Lugmag gevlieg.

Medelye vir Wiid het op Facebook ingestroom. Sy geliefdes beskryf hom as ’n goeie mens met die sagste hart.

“Rus in vrede, my vriend. Van ’n hoogs opgeleide vegvlieënier in die Lugmag tot ’n lugdiensvlieënier in die SAL. Jy het gesterf terwyl jy gedoen het waarvoor jy lief was. Mag jou siel in vrede rus. Dankie vir die goeie tye wat ons saam gehad het,” skryf Brian Emmenis.

“Chris, jy was ’n vriend en broer. Ek kan nie die lewe sonder jou voorstel nie. Mag jy hoog vlieg. Nou het jy permanente vlerke van jou eie. Dankie dat jy die ongelooflikste persoon, vriend, vlieënier en vertroueling was. Woorde kan nie verklaar hoeveel jy gemis gaan word nie,” skryf Angelique Botes-Guthrie op Wiid se Facebookblad.

“My hart is stukkend, ek kan nie glo dat jy weg is nie. Ek ken jou al van Airlink-dae af. Jy was my gunsteling en die beste kaptein. Jy het altyd gelag en daarop aangedring dat ek jou op jou naam noem en nie ‘kaptein’ nie. Jy was altyd in ’n vriendelike bui,” skryf Lerato Lee Nhleko.

Die berig is gewysig.

Die vliegtuigwrak is in die veld gevind (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Hy was ongetwyfeld ‘n kranige vlieënier en iets moes skeefgeloop het.Ek ken jou nie vriend maar nou kan jy vlieg net waar jy will en nooit sal jy weer in ‘n ongeluk wees nie.

Elsabe ·

Ek huil oor iemand wat ek nie geken het. Mag jul vir wie hy ‘n familie-lid, vriend, kennis, kollega, rolmodel was, berusting kry in die wete dat Christiaan by Jesus is – Veilig.

Cabytheron ·

Ai, dit is so hartseer. Hy was duidelik ‘n geliefde mens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.