Meer krag vir SA danksy Sun City

Sun City het meer as 2 500 sonpanele laat installeer. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die vakansieoord Sun City doen sy naam behoorlik gestand nadat ʼn grootskaalse sonkragaanleg hier geïnstalleer is, wat nie net dié oord se ligte help aanhou nie, maar ook meer krag aan Jan Alleman beskikbaar sal maak.

Die meer as 2 500 sonpanele stel Sun City nou in staat om die las op die nasionale kragnetwerk aansienlik te verminder.

TM Lesetla, senior operasionele ingenieur by Tsebo Energy Solutions, wat die stelsel geïnstalleer het, verduidelik dat Eskom nog altyd Sun City anders benader het wanneer dit by beurtkrag kom.

“Die oord word in kennis gestel dat hy op ʼn sekere tyd sy vraag na krag met ʼn sekere persentasie moet verminder. Met hierdie sonkragaanleg sal Sun City permanent minder van Eskom se krag gebruik. Dit beteken dat daardie kapasiteit aan die onmiddellike omgewing beskikbaar gestel word om te gebruik.”

Die aanleg sal ʼn ekwivalent van 2 367 571 kWh opbrengs per jaar verseker, wat direk in Sun City se interne kragnetwerk ingestoot word.

“Dit is genoeg krag om 329 gemiddelde-grootte huishoudings vir ʼn jaar van krag te voorsien,” sê hy.

“Op dae wat die son genoegsaam skyn, wat die meerderheid van die jaar is, sal die aanleg ʼn ekwivalent van 14% van Sun City se kragbehoeftes aan die kragnetwerk beskikbaar stel, wat tot voordeel van die netwerk en die plaaslike gemeenskap sal strek.”

Teen Desember sal die aanleg sy piekkragopwekkingskapasiteit van 1,4 MW bereik, wat deur 12 kragomsetters gedryf word.

Die oord beplan om nog 209 sonpanele te laat installeer, asook nog ʼn kragomsetter. Dit beteken daar sal altesaam 2 793 sonpanele en 13 kragomsetters wees om Sun City aan die gang te hou.

“Sun City is soos ʼn klein dorp op sy eie, en die sonkragkapasiteit is deel van die energiemengsel wat by die oord gebruik word,” sê Lesetla.

Die oord maak ook gebruik van altesaam 18 kragopwekkers wanneer die nood druk.

Dit betaal vir homself

Aubrey McElnea, uitvoerende hoof van Tsebo, sê die aanleg by Sun City het reeds alle verwagtinge oortref. Hy het aanvanklik beraam dat die aanleg jaarliks ʼn besparing van soveel as R3,2 miljoen vir die oord sal beteken, maar in die laaste twee maande was daar reeds ʼn energiebesparing van 413 871 kWh. Dit beteken dat meer as R1 miljoen gespaar is, met inagneming van beide energie- en vraagverminderings, wat die doeltreffendheid en waardeaanbod van die oorskakeling na hernubare energie-oplossings beklemtoon.”

Teen hierdie koers sal die aanleg ter waarde van R16 miljoen binne vyf jaar vir homself betaal het.

Die aanleg het ʼn verwagte lewensduur van meer as 25 jaar, mits goeie voorkomende instandhouding gedoen word.

Brett Hoppe, bestuurder van Sun City, sê die behoefte vir hierdie aanleg is nie alleenlik vir die kostebesparing gedryf nie, maar ook weens die voortslepende kragkrisis in die land, en die behoefte om ʼn meer volhoubare manier te vind om die oord aan die gang te hou.

Soos dit nou staan sal die aanleg Sun City se jaarlikse CO2-vrystelling tot 2 510 metrieke ton per jaar verminder.

“Dit is ʼn positiewe bydrae in die veg teen klimaatsverandering en ʼn meer volhoubare toekomsvooruitsig,” sê hy.

Sun City maak lank reeds gebruik van doeltreffende beligting, HVAC-aanpassings en herkonfigurasies en gasaangedrewe waterverhitting.

Die plan is egter om heeltemal onafhanklik van die nasionale kragnetwerk te word.

In die proses om die sonkragaanleg te bou is 23 werksgeleenthede geskep vir individue uit die plaaslike gemeenskap.

“Die werkers is vier maande lank op ʼn kontrakbasis aangestel en het op die ou end ongeveer 12 600 m² teëls verwyder sodat die sonpanele geïnstalleer kan word,” sê Lwazi Mswelanto, Sun City se volhoubaarheidsbestuurder.

Hoewel dit ʼn uitdaging was om die panele by ʼn 25 m hoë gebou op te hys, is geen beserings in die oprigting van die aanleg aangemeld nie.

“Sun City het nog altyd gefokus op gemeenskapsontwikkeling en al die projekte wat ons aanpak help om die gemeenskappe met vaardighede toe te rus,” sê Mswelanto.

“Ons gemeenskappe maak staat op Sun City vir indiensneming en ons maak weer staat op hulle om dienste te verskaf sodat ons ʼn groter diens aan ons besoekers kan verskaf. So vir ons is dit van kardinale belang om aan ons gemeenskappe te kan teruggee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marina ·

By sun city word dit toegelaat maar wat het met
Vredeford gebeur???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.