Misdaad woed maar BBP’s word teen R2 miljard beskerm

Argieffoto (Foto; cocoparisienne/Pixabay)

Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, se uitlating dat Suid-Afrika ’n “baie veilige plek” is met “slegs drie” internasionale toeriste wat sedert 1994 in dié land dood is, skets ʼn prentjie van ʼn regering wat tred met realiteit verloor het. Só sê Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Maroela Media het vroeër berig Sisulu het gesê dit is ’n rekord van veiligheid. “Ons voorsien maksimum sekerheid vir toeriste.”

Bosman meen egter dit is nodig vir ʼn indringende besinning oor die totale misdaadsituasie in Suid-Afrika want elke strategie van die regering teen misdaad, het tot dusver skouspelagtig misluk.

“Suid-Afrikaners is hierdie week weer geruk deur nog sinnelose moorde. Die moord op die Duitse toeris, plaasmoorde en aanvalle is alles deel van die daaglikse statistiek. Terwyl 71 Suid-Afrikaners daagliks vermoor word, kan geen minister die versekering gee dat die land se mense of besoekers aan die land veilig is nie. Dit skets ʼn prentjie van ʼn regering wat tred met realiteite verloor het.”

Bosman sê sy grootste bekommernis is dat die slagoffers – ook toeriste – met verloop van tyd maar net nog misdaadstatistieke word.

“ʼn Top-toeristebestemming in ʼn Kaapse strand by Kampsbaai het gister die moord op twee mense in helder daglig aanskou. Dit is maklik om onverskillig en traak-my-nie-agtig met misdaad en sy gevolge om te gaan as ʼn mens 24 uur ʼn dag beskerming ontvang. Terwyl ʼn verdere R2 miljard in 2022 spandeer word aan BBP-polisieskerming – vir die president, adjunkpresident, voormalige presidente en voormalige adjunkpresidente, besoekende staatshoofde en hul gades, asook 62 nasionale hooggeplaastes – beleef die gemiddelde Suid-Afrikaner ʼn lae intensiteit misdaadoorlog. Verlede jaar is bereken dat dit sowat R8 miljoen vir elke individuele BBP aan beskerming kos met 209 BBP’s wat beskerming ontvang.”

Die vraag moet egter gevra word: Wat moet nog gebeur alvorens die Suid-Afrikaanse regering daadwerklik optree? Misdaad, wetteloosheid en die gepaardgaande kommer oor die verval van die strafregstelsel in Suid-Afrika en die sabotasie van infrastruktuur bereik nou ʼn keerpunt. Nuwe planne kan nie werk indien daar nie vertroue is in die polisieminister en sy polisie leierstruktuur nie.

“Die Suid-Afrikaanse publiek verdien minstens ʼn onkreukbare polisiediens in die tydperk waar misdaad en korrupsie gedy. Dit kan slegs geskied met leierskap wat verbind is daartoe om misdaad te bestry. ʼn Besoek aan ʼn misdaadtoneel alleen gaan nie help nie. Beloftes alleen bring ook nie oplossings nie en effektiewe en sigbare polisiëring met integriteit word vereis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Alfred E Neuman ·

Hulle is, soos in enige piesang republiek, bang vir hulle eie mense.

AndrewL ·

Daar is baie polisiestasies wat gebuk gaan onder personeeltekorte. Tog word elke minister deur groepe lyfwagte opgepas en rondgery.

Dan word hul huise nog opgepas – of hul daar is of nie. Nie deur konstabels nie – nee hulle kan nie so verneder word nie! Dit moet Sersante wees wat die werk verrig wat deur gewone graad D of C wagte gedoen kan word.

Dit is so duidelike dat die publiek aan die leeg gemelkde agterspeen moet (probeer) suig.

Meerkat ·

Daar is net te VEEL MOORDE.

TOERIS OF GEWONE BURGER.
DIT BLY SKANDELIK DAT DIT NIE BEHEER KAN WORD NIE.
MOORD IS MOORD MAAK NIE SAAK OP WAT SE PERSONE DIT IS NIE.

DIE REGERING MOET DIT NET BEGIN HERKEN EN IETS DRASTIES BEGIN DOEN.

Hasie ·

Ek sien geen rede sat die ministers en Kie so beskerm word nie … As hul ongesiens deur mense beweeg sal niemand eers weet hul is daar nie. Trek soos almal aan en jy is veilig .Maar nee hul wil soos die Hollywood aktwurs rondry en dink hul is gewild. Net omdat hul dink hul is beroemd is hul nie gewild nie. Hul maak hulself teikens sodat hul hul ” belangrikheid” ten toon Kan stel …belaglik !

christo ·

Hoeveel spandeer gewonder burgers aan hulle eie veiligheid? Gewapende reaksie R700, voertuig opsporingstelselle R600, kameras R2000. Aftrekbaar van belasting?? Nee, SARS soek mos meer belastingbetalers.

Lillian ·

Hoekom is hulle so bang? Ons bewapen onsself want ons polisiediens is so pateties.

annie ·

Verhale oor hoe dit in ANC-geledere en die kampe van uitgewekenes gegaan het wat gereed gemaak het om SA met mag te takel, dui op ‘n voorspel van wat ons nou beleef met dieselfde hoofspelers in beheer van sake. Miskien is dit juis hoekom daar gereeld so rojaal geskenk word aan die vorige buitelandse ondersteuners; om hul monde toe te hou oor wie hierdie mense eintlik is… en destyds was?

Andries MT ·

As ons land so veilig is het hulle mos nie al die beskereming nodig nie. Of hoe.

Kobus ·

Nogal gister gewonder of Cele alleen by die misdaadtoneel opgedaag het en of hy omring was met talle wagte. Dalk moet toeriste aandring dat ons ministers deel van hulle toergroepe word. Hulle sal veilig voel en die ministers sal al die pad op TV wees. Wen / wen

Marelize ·

Ons weet mos nou al vir ‘n geruime tyd hulle gee nie rerig om vir Jan publiek nie. Jy moet net jou belasting betaal en stil bly.

Gerrie ·

Voor 1994 het Kabinetsministers een personeellid gehad wat sy motorbestuurder was, sowel as sy BBP beskermer. Vergelyk dit met Bheki Cele se groot getal geweerdraende wagte. Hoef ek meer te sê oor FREEDUMB.

My siening ·

En ek kry niks van my belasting maar die skurke word teen miljoene belasting geld beskerm. Puten het die ANC dit geleer!

Nico ·

Die president en sy ministers is bang vir hul eie mense daarom ry hullemet die blou lig beskerming. Sisulu maak jou ogies oop en kyk na die algemene veiligheid in ons land selfs die toeriste is nie meer veilig nie. Duitsland gaan julle opdraende gee oor die moord van die Duitse toeruste.

Samuel ·

Mag ek net daarop wys dat in Kaapstad is die afgelope week 13 mense doodgeskiet? Is dit hoe ‘n veilige land en stad lyk? NIEMAND moet vermoor word nie, of dit nou ‘n toeris of gewone landsburger is.

Karina ·

Vat hulle beskerming weg, eerste Cele se beskerming sodat hulle kan voel hoe die land se inwoners voel om enige tyd ‘n teiken vir misdaad te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.