Misdaadintelligensie se rol by Phala Phala bekyk

Pres. Cyril Ramaphosa saam met Zizi Kodwa. (Foto: Twitter)

Die parlement se gesamentlike staande komitee oor intelligensie gaan nou die adjunkminister van staatsveiligheid, Zizi Kodwa, se beweerde betrokkenheid by die omstrede Phala Phala-saak ondersoek.

Die komitee sal ook die bewerings ondersoek dat fondse bedoel vir misdaadintelligensie gebruik is om ʼn geheime ondersoek na die rooftog op pres. Cyril Ramaphosa se plaas te finansier. Die rooftog het in 2020 plaasgevind.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die nasionale vergadering, het vandeesweek Jerome Joseph Maake, voorsitter van die gesamentlike staande komitee oor intelligensie, versoek om te oorweeg om spesifieke bewerings oor die Phala Phala-aangeleentheid te ondersoek.

Die versoek volg nadat die leier van die DA, John Steenhuisen, die speaker gevra het om ʼn aparte ad hoc-komitee te stig om verskeie bewerings wat verband hou met die saak te ondersoek.

“Die speaker het die versoek van die hand gewys aangesien sy van mening is dat van die bewerings waarna die DA verwys, deur ʼn bestaande parlementêre struktuur oorweeg kan word – die gesamentlike staande komitee oor intelligensie,” lui die parlement se verklaring.

Die parlementêre komitee se ondersoek sal onafhanklik voortgaan van die onafhanklike paneel wat op die been gebring is om te besluit of daar genoeg bewyse bestaan om Ramaphosa in ʼn staat van beskuldiging te plaas. Persone wat deur partye in die parlement aanbeveel word sal deel vorm van dié paneel.

Die DA voer aan dat Kodwa van die Phala Phala-rooftog geweet het, maar gekies het om die saak geheim te hou eerder as om dit by die toepaslike owerhede aan te meld.

Die amptelike opposisieparty beweer ook dat Kodwa vir genl.maj. Wally Rhoode, hoof van die presidensiële beskermingseenheid, vergesel het tydens geheime interaksies tussen die Suid-Afrikaanse en Namibiese owerheid.

Namibië se polisiehoof het reeds ontken dat dié land enigsins gehelp het om die rooftog by Ramaphosa se luukse plaashuis toe te smeer.

Steenhuisen het in sy brief aan Mapisa-Nqakula gesê dat gerugte ook die ronde doen dat ʼn geheime misdaadintelligensiefonds gebruik is om die ondersoeke te finansier wat gehelp het om die vermeende diewe op te spoor, met die doel om die miljoene dollar terug te kry.

Die DA beweer dat byna R2 miljoen per maand uit hierdie fonds bestee is om ʼn “spesiale taakspan te stuur om president Ramaphosa se private wildsplaas te bewaak”.

“Sou dit waar wees, sal dit ʼn blatante misbruik van ons belastingbetalers se geld wees,” het Steenhuisen gesê.

Mapisa-Nqakula het reeds die DA se bewerings aan Maake oorhandig, wat nou die saak verder sal vat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Nee kyk. Só lieg jy en jou pelle pelle julle uit elke hoek in ‘n Phala Phala sirkel uit. Farmgate klug.

domheks ·

Hond eet hond! Hier is weereens ‘n bewys dat cANCer en kie almal hande in koekieblik het. Die onderduisheid van CR en sy meelopers. Betaal seker onder die tafel deur, dan sal die strorie mooi verdraai word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.