Misdaadsyfers: Byna 7 000 afgelope drie maande vermoor

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag die misdaadsyfers vir die tweede kwartaal bekend gemaak. (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Die getal kontakmisdade wat gepleeg word styg met elke kwartaal en die misdaadsyfers in die tweede kwartaal is geen uitsondering nie.

Benewens moorde en seksuele misdrywe het ernstige kontakmisdade, soos aanranding en poging tot moord, weer toegeneem wanneer dit met die statistieke in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar vergelyk word.

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag die misdaadsyfers vir die tweede kwartaal bekend gemaak. Hoewel hy daarop gewys het dat moord met 0,8% afgeneem het, het die statistieke getoon dat kontakmisdade oor die algemeen met 2,1% toegeneem het.

Die aantal gevalle van aanranding het met 959 gevalle toegeneem en gevalle van roof met 443 in vergelyking met die statistieke in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Aanranding met die doel om ernstig te beseer het met 2,5% gestyg, terwyl poging tot moord ʼn stewige styging van 12,3% getoon het.

Hierdie misdade het meestal in Gauteng plaasgevind.

Tussen Julie en September is altesame 6 945 mense vermoor; dit is 59 minder mense as in die eerste kwartaal. Uit die mense wat in hierdie tyd vermoor is, was 881 vroue en 293 kinders.

Altesame 35 polisiebeamptes is ook in hierdie tydperk vermoor, asook 19 wetstoepassingsbeamptes verbonde aan private veiligheidsdienste en die nasionale, provinsiale en plaaslike regering.

Cele sê dat die effense afname in die getal moorde in die kwartaal geensins as ʼn oorwinning beskou word nie.

“Die tweede agtereenvolgende daling in die land se moordsyfer is geensins ʼn aanspraak op enige oorwinning deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nie,” het hy gesê.

“Hoewel dit in sommige gebiede aan die afneem is, is een moord een te veel.”

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Cele sê dit was nogtans bemoedigend om te sien dat KwaZulu-Natal en Limpopo beduidende dalings in die moordsyfer aangeteken het.

Daar was onderskeidelik ʼn afname van 13,7% en 11,2% in moorde in die onderskeie provinsies, wat beteken dat daar 254 minder mense in KwaZulu-Natal vermoor is en 30 minder in Limpopo vergelyke met dieselfde tydperk verlede jaar.

Dit ondanks die feit dat KwaZulu-Natal verskeie massa-skietvoorvalle, waarin drie menselewens of meer op ʼn slag geëis is, gehad het.

“Hoewel die Inanda- en Umlazi-polisiestasie in KwaZulu-Natal steeds die hoogste moordsyfer in die land het, het hulle nogtans ʼn afname in moorde in hierdie tydperk aangeteken.”

Die Oos- en Noord-Kaap het geringe dalings in die moordsyfer aangeteken. Teenoor die moordsyfer wat agt minder in die Nood-Kaap is, is dit slegs een in die Oos-Kaap.

“Dié syfers is ook ondanks die feit dat die Oos-Kaap verskeie skietvoorvalle aangeteken het, wat dikwels deur dwelms aangevuur is,” het Cele gesê.

Vyf provinsies, naamlik Mpumalanga, Gauteng, Wes-Kaap, die Vrystaat en Noordwes het almal meer moorde tussen Julie en September aangeteken vergelyke met dieselfde tyd verlede jaar. Die Wes-Kaap het 114 meer moorde gehad, gevolg deur Gauteng wat 46 meer gehad het.

Luidens die statistieke word die meeste mense in Suid-Afrika steeds vermoor tydens argumente en misverstande in sosiale omgewings.

“Vuurwapens, messe en skerp voorwerpe word dikwels as moordwapens in hierdie gevalle gebruik,” sê die minister.

Vuurwapens was in byna die helfte van alle moorde in die tweede kwartaal gebruik, maar Cele sê die SAPD is besig om een na die ander vuurwapen uit die omloop te verwyder. In hierdie tydperk het die polisie op 2 175 onwettige vuurwapens beslag gelê.

Seksuele misdrywe

Volgens die jongste misdaadsyfers was daar ʼn 1,5% daling in seksuele misdrywe tussen Julie en September vanjaar.

Daar is nogtans 10 516 verkragtingsvoorvalle by polisiestasies regoor die land aangeteken.

Byna die helfte van al hierdie gevalle het by die slagoffer se huis plaasgevind, of by dié van die verkragter. Die verkragter was ook in meeste gevalle bekend aan die slagoffer as ʼn familielid, familievriend of buurman.

Die statistieke dui daarop dat daar in die tweede kwartaal ook 61 verkragtings by laer- en hoërskole plaasgevind het, maar dat nie al die slagoffers noodwendig leerders was nie. Die meerderheid van gevalle (46) was wel leerders wat ander leerders verkrag het.

KwaZulu-Natal (2 127) bly steeds ʼn brandpunt vir verkragting, gevolg deur Gauteng (2 096) en die Oos-Kaap (1 655).

Volgens Cele het die polisie werk daarvan gemaak om meer ondersteuning aan verkragtingslagoffers te bied. Die historiese agterstand in DNS-toetsing van 240 000 is ook intussen gepak.

“Forensiese laboratoriums landwyd is in werkende toestand en al die nodige kontrakte, wat deurslaggewend is vir die funksionering van laboratoriums, is gereed,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Papsak ·

Toe Cele baie hoe moord syfer dink jy nie dit is volkmoorde nie maar jy doen niks nie niks om oor te spog nie ne !!!!!!!!

Jack ·

Nee wat.Was die man in die privaat sektor was hy al LANKAL afgedank.Jy kan nie teen stats baklei nie en die onskuldige bloed vloei in Suid Afrika.

Jacobus ·

Dit gaan slegter hier as in Gaza. Ons is in n volskaalse burgeroorlog.

Marlene ·

Absoluut! Ons is eintlik permanent in ‘n staat van oorlog. Maar dan wil ons vir Israel en Oekranië voorskryf

Ore ·

Net hy kan trots wees op sy werk. Stem saam met Jack, hy sou laaaankal sy pos kwyt gewees het in die privaatsektor.

Tuta ·

Absoluut weersinswekkend wat in ons land aangaan – dis ‘n oorlogsone elke liewe dag!

JohanR ·

Wat se houvas het die ou oor Cyril Ramaphosa dat hy hom nie kan afdank, en iemand bevoeg aanstel? Bheki Cele moet op die oomblik die mees nuttelose minister wees!

Francois ·

En die ANC regering gebruik die oorlog in Gaza as menslike skild om hulle mislukking agter weg te steek… En is blind vir hulle kamerade in Sirië, Rusland en Iran se duiwelswerk.

Strandloper ·

Moet apartheid se skuld wees nes die groot rampoker alles daaraan toeskryf

Oosieoos ·

Swakker en meer useless as hulle kan jy nie kry nie skandalig rampie se trots

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.