Moenie dié geld gebruik, waarsku Sabric

geld 4 kontant rand

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) het ʼn beroep op mense gedoen om op die uitkyk te wees vir groen gevlekte banknote in en om Gauteng en KwaZulu-Natal.

Dié note, wat gevlek word sodra dit uit ʼn kitsbank gesteel word, doen die afgelope week die ronde nadat vandale honderde kitsbanke in dié provinsies geplunder het.

Maroela Media het vroeër berig dat onluste verlede naweek in KwaZulu-Natal en Gauteng uitgebreek het. Intussen is honderde apteke, drankwinkels en supermarkte tydens die onluste geplunder of afgebrand, en nou word kitsbanke ook geteiken.

Nischal Mewalall, uitvoerende hoof van Sabric, sê sedert talle kitsbanke geplunder is, is daar ʼn toename in gevlekte kontant wat mense gebruik.

“Kitsbanke berg kontant in spesiale houers wat beskerm word met kleurvlek-tegnologie wat geaktiveer word sodra iemand die houer probeer oopbreek. Sodra dit geaktiveer is, word die kontant met groen kleurstof bedek wat dit onbruikbaar maak.”

Mewalall het ook gewaarsku om nie goedere of dienste aan diegene te verskaf wat met gevlekte kontant betaal nie, aangesien hierdie banknote geen geldwaarde meer het nie.

“Indien jy in besit is van gevlekte kontak maak jy jouself skuldig aan ʼn misdaad en kan jy vervolg word.”

Meld enigiemand in besit van gevlekte kontant by Stop Misdaad, 08600 10 111, aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Nou waarom word dieselfde inkproses nie gebruik in geldtrommels tydens die vervoer van geld nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.