Moord op fluitjieblaser: ‘Hulle moet sê wie gee opdrag’

Babita Deokaran is verlede week vermoor.

Ses mense is Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg skuldig bevind en gevonnis twee jaar ná die moord op Babita Deokaran, waarnemende finansiële hoof van die Gautengse departement van gesondheid.

Phakamani Vincent Hadebe, Mhlangano Phinda Ndlovu, Sanele Mbhele, Siphakanyiswa Dladla, Zitha Radebe en Siphiwe Thabane Mazibuko het skuldig gepleit op aanklag van moord en is tot tussen ses en 22 jaar tronkstraf gevonnis.

Hadebe en Mbhele is tot 22 jaar tronkstraf opgelê, terwyl Dladla, Radebe en Mazibuko elkeen tot effektief 15 jaar tronkstraf gevonnis is. Ndlovu is tot ses jaar tronkstraf gevonnis.

Deokaran is in Augustus 2021 buite haar huis in Winchester Hills, in die suide van Johannesburg, doodgeskiet. Die moordenaars is drie dae ná die moord op Deokaran in Rosettenville aangekeer.

Luidens berigte het Deokaran, wat kort tevore haar dogter by die skool gaan aflaai het, se huiswerker by die hek vir haar gewag. Sy was glo net op pad om in Deokaran se voertuig te klim, toe daar op hulle losgebrand is. Die vrou is nie beseer nie.

Deokaran is wyd geloof vir die rol wat sy gespeel het om korrupsie bloot te lê. Sy was een van die meer as 320 getuies in die ondersoek na bedrog met onder meer persoonlike beskermende toerusting (PPE) in die private en openbare sektor.

Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het in reaksie op die skuldigbevinding en vonnisoplegging gesê daar moet nou openbaar gemaak word wie die mans opdrag gegee het om Deokaran te vermoor.

“Ek hoop die pleitooreenkoms sluit soveel moontlik inligting in oor diegene wat wou keer dat Deokaran grootskaalse korrupsie by die Tembisa-hospitaal en elders blootlê. Enigiets minder sal ʼn bespotting van geregtigheid en ʼn slag vir Deokaran se familie wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Karoo ·

Uitendelik is hulle vas. Maar wie het die opdag gegee, want hulle moet tog saam sit!!!

Nommer 7 ·

Hoe meer hulle praat, hoe minder tronkstraf gaan hulle kry. Die wat die opdrag gegee het is die eintlikes wat gestraf moet word.

JohanR ·

Blaas die fluitjie en hulle kom vir jou. Geen beskerm in die land vir fluitjie blasers.

ES ·

Eintlik in geen land nie. Kyk vir Edward Snowdon. Kruip al amper ‘n dekade in Rusland weg vir die VSA. Fluitjieblasers is nooit veilig nie…

MJLS ·

Sterkte aan die slagoffer se naasbestaandes.
Gelukkig seëvier geregtigheid. Mag hulle nooit vir parool in ag geneem word nie. SA is alreeds misdaad voos.

Hendrik ·

Geregtigheid sal eers geskied as die opdraggewers ook agter tralies is.

tweeling ·

Ek stem, die pleit ooreenkoms maak dat 2 van die skurke 3 jaar minder as lewenslank gaan sit. Baie swak en dan gaan hulle dalk nog vroeër op parool

Ian ·

Kry hulle die ligte vonnis ter beskerming van die eintlikke opdraggewer. Is dit n tweede Phla Phala toesmeerdery?

Elizabeth ·

Wie van die begunstigdes het die opdrag gegee? Ons wil weet. Dit is ons reg. Ons weet ook dit kom van bo????????

ES ·

Ek hoop hulle word gevang, maar dis hoogs waarskynlik dat die persone wat opdrag gegee het vir ‘n ander persoon opdrag gegee het wat weer vir ‘n ander persoon opdrag gegee het ens. ens. Die uiteindelike persone wat verantwoordelik is sal op die ou einde nie blootgestel word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.