MTBR-reaksie: ‘Dit was oë toeknyp en hoop op die beste’

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (Foto: Reint Dykema)

Enoch Godongwana, minister van finansies, het hom weerhou van belangrike besluite rondom enorme begrotingskrisisse deur dit bloot na ʼn volgende begrotingsrede te verskuif.

Godongwana het Woensdagmiddag met die bekendmaking van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) gesê die staat se begrotingstekort het met R54,7 miljard toegeneem.

“Staatskuld hou aan groei en groei, terwyl daar steeds geen werklike stappe is om dit die hoof te bied nie,” sê Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI). “Die onder-invordering van R56 miljoen se belasting en die gebrek aan beplande optrede is ʼn som wat op net een uiteinde afstuur – nóg meer en meer skuld.

“Ons begrotingstekort is yslik en beloop nou al amper 5% van die BBP. Hierdie begroting was regtig ʼn begroting van oë toeknyp en hoop op die beste. Die ANC spandeer ons bankrot, maar wil geen uitgawes besnoei nie en kan ook geen nuwe inkomste genereer nie. Die minister weet die land en die verbruiker is op hul knieë. Tog skep hy onafwendbaar ʼn situasie waar hy belasting gaan moet verhoog, al gaan dit nie meer inkomste genereer nie en net die verbruiker knak.

“Maar dan gaan hy nóg duurder skuld aan sodat rente nou die tweede grootste item in die begroting is. Daar is in werklikheid géén harde besluite geneem nie. Die R350-toelaag bly, al het ons geen fiskale ruimte daarvoor nie,” sê Mulder.

‘Minister misluk om kader-soustrein te stop’

Enoch Godongwana (Foto: Presidensie)

“Die regering bly bestee bo sy middele op ʼn onproduktiewe en hoogs verbruikende wyse,” meen David Ansara, hoof van die Vryemarkstigting.

“Belastingbetalers kan eenvoudig nie die omvang van staatsbesteding bekostig nie. Daar moet dringend ernstige besnoeiings gemaak word.”

Die minister se aanduidings van “fiskale verantwoordelikheid” word verwelkom, maar is geheel en al onvoldoende in die lig van die krisis, sê Ansara. “Sy kollegas wil nie hê dat die soustrein tot stilstand kom nie, en as gevolg hiervan was hy nie in staat om enige substansiële aankondigings te maak wat werklike fiskale verantwoordelikheid in die openbare diens sou inlei nie. Hy stel groot besnoeiings in toekomstige jare voor, maar ons het hierdie narratief al voorheen gehoor.”

Volgens Ansara is dit tyd vir optrede. “Die Vryemarkstigting dring daarop aan dat die regering begin om staatsbesteding te beperk deur weg te doen met enige kabinetsportefeulje en -departement wat nie duidelik deur die Grondwet vereis word of noodsaaklik is vir die werking van die ekonomie nie. Ons doen ook ʼn beroep die regering om finansieel onvolhoubare planne soos die Nasionale Gesondheidsversekering of die basiese inkomste toelaag te laat vaar.”

‘Balanseertoertjie vir Suid-Afrika?’

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. (Foto: Du Preez de Villiers)

“Die minister het inderdaad net weer die reeds stukkende meubels herrangskik op die sinkende skip,” meen Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Suid-Afrika is op koers om oor ʼn fiskale afgrond te stort en daar word volhard met die benadering wat ons tot hier gebring het.”

Jarelange wanaanwending van Suid-Afrika se fondse en aanhoudende korrupsie, tesame met die beperkte bestuur en beheer van uitgawes in staatsinstellings is steeds ʼn groot probleem.

“Dit is kommerwekkend dat die staat se uitgawes al vir 15 jaar, sedert die finansiële krisis van 2008, jaarliks inkomste oorskry het. Daar is jaarliks ʼn gaping tussen aankondigings en die realiteit van uitvoering. Solank die regering volhard op sy pad van kaderontplooiing en SEB en nie kundigheid alleen as kriterium sal toepas in die aanstelling van poste nie, is die begroting nie noodwendig tot voordeel van Suid-Afrika se mense nie.”

Ekonomiese groei is die enigste volhoubare oplossing vir ons land se krisis en nie die verdere leen van geld wat teen hoë rentekoerse terugbetaal moet word met fondse wat nie daar is nie.

“Elke probleem wat ons land ervaar kan teruggeneem word na die negatiewe beleidsomgewing waarbinne bedrywe moet funksioneer. TLU SA glo dat daar baie dringend na die negatiewe gevolge van kaderontplooiing, transformasie, swart ekonomiese bemagtiging, onteiening sonder vergoeding en ander kruppelende beleid gekyk word, aangesien hierdie beleid ʼn enorme bedreiging vir Suid-Afrika se ekonomie en ʼn groot afskrikmiddel vir potensiële beleggers is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Miskruier ·

Daar sal nooit genoeg wees as helfte van die bevolking nie werk nie.

Gert ·

Indien jy weet daar is nie geld nie maar wel aangaan om met skuld oor te bestee, dan is dit mos duidelik dat daar iets anders aan die gang is. Het hul dalk al klaar die land se einde beplan met oorgawe na n nuwe buitelandse meester. So om skandelik aan te hou skep op die landsburger se rekening maak hom vry maar laat n baie diep gat waarin die SA landburger hom dalk nie self sal kan uitkry indien daar nie nou opgetree word nie.

Henry ·

wag tot hulle nie meer geld oorsee kan leen nie
hulle moet hulle eie toelae en salarisse sny dit is nou die regering.

Alex ·

Om alles op te som, en dit is so genoem dat daar is n sous trein, waneer Politiek met besigheid inmeng. Dit is die resultate van self verryking agv inmenging. Nou wil hulle belasting op om dit te gebruik om hulle skuld te delg, ek kom ons is eerlik, dit gaan ook nie daarvoor gebruik word nie. Geld het die Regering mal gemal tot op n punt dat hulle nie die elende sien wat twee derdes van die bevolking in sit nie.

Euodia ·

Treurige toedrag van sake. Betaal die onderpresterende premiers, ministers burgermeesters en almal wat net stoele warm hou minder,!!! Raak ontslae van adjunk ministers en woorvoerders en kommissies. En laat mense wat aangestel is die werk doen.

Jack ·

Dit is eintlik so hartseer.Die klomp gaan aanhou bestee en droogmaak ten spyte van waarskuwings en goeie voorstelle van kundige mense.En as alles to stilstand kom gaan die mense net verdwyn en die gemors vir iemand anders los.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die regime is doodeenvoudig nutteloos. Wat nou? Die DA en sy pakt sal verslaan word by die stembus. Somalië hier kom ons. Breek weg Wes-Kaap. Vinnig.

annie ·

Hierdie burger van Nêrensland soek ‘n bloedige oorlog want nêrens sal dit kan afstig nie. Daar is nie eers wapens vir so ‘n opstandjie nie. Hoekom mense aanspoor om te sterf? Die Kaap behoort reeds aan Oosterlinge en ander gelowiges. Diegene wat daar bly moet rustig aanbly en bid vir die res. Sommiges mag dalk nog binnekort uitgejaag word, of…

Willem ·

Ons moes nooit die massas se skole afgebrand het nie, nou sit ons met n klomp idiote in die parlement. Zuma met sy merkwaardige vermoee om bedrae te lees het die wereld se aandag aangegryp. Dit moet hemels wees om nie n clue te he hoeveel geld R1m is nie, veral as jy biljoene in die rooi is.

Republikein in die Wes Kaap ·

Gewone belastingbetalers is magteloos. Groot firmas kan wel die bal aan die rol kry deur oorbetalings aan SARS te staak. Maar besluitnemers daar is ook maar kaders. Die staat is ook ‘n groot werkgewer. Werkers kan wel staak, maar staatsamptenare sal nie maklik staak nie. Die geen werk, geen betaling beginsel geld ook.

Manie ·

Hoe vinniger ons help om die regering oor die afgrond te stoot, hoe vinniger kan ons van vooraf begin.

Republikein in die Wes Kaap ·

In die Wes-Kaap kan ons van vooraf begin. Maar in die ander provinsies is die skade net te groot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.