Nege meter lange walvis uit vissersnet gered

Die walvis is bevry nadat hy in ʼn vissersnet verstrengel geraak het. (Foto: NSRI)

Reddingswerkers van Gqeberha (Port Elizabeth) het Donderdag gespook om ʼn nege meter lange walvis te bevry wat in ʼn vissersnet verstrengel geraak het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse walvis-ontknopingsnetwerk (SAWDN), sê ʼn boot het gisteroggend naby St. Croix-eiland in Algoabaai gevaar om na walvisse te kyk toe hulle ʼn jong boggelrugwalvis gesien het wat in toue en vissersnet verstrengel was.

Die eienaar van die boot het om 11:00 die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) ontbied om die walvis te help.

“Die booteienaar het gesê die walvis was moeg, maar nog gesond,” sê Lambinon.

Terwyl die NSRI na die walvis gesoek het, het dit nader aan die hawe van Gqeberha in die rigting van Koega beweeg.

“Die nege meter lange walvis is eindelik opgespoor, maar hy was moeg en lusteloos,” sê hy.

“Die walvis het ʼn 17 meter lange tou agter hom aangesleep en was in ʼn vissersnet verstrengel met twee dryfbakens daaraan vas.”

Om te keer dat die walvis onder die water induik, het die NSRI in samewerking met die walvis-ontknopingsnetwerk groot dryfbakens aan die walvis vasgemaak. Die jong walvis was egter so gedaan dat die dryfbakens nie eens nodig was nie.

Die span het met behulp van gespesialiseerde toerusting aan die vissersnet begin sny, wat veral om die walvis se stertvin gekoek het.

“Die tou en die vissersnet was dik en ondanks die spesiale toerusting het dinge stadig gevorder,” sê Lambinon.

“Selfs nadat ʼn aantal strategiese snye gemaak is en van die visserstoerusting om die walvis losgekom het, moes die reddingspoging gestaak word nadat ʼn snypaal gebreek het.”

(Foto: NSRI)

Die NSRI en lede van die walvis-ontknopingsnetwerk het van die walvis wegbeweeg en kajuitraad gehou oor hoe hulle die walvis met die oorblywende snypaal gaan bevry.

ʼn Ruk later het die spanne die NSRI se 8,8 meter lange reddingsboot langs die walvis in posisie gebring en nog dele van die vissersnet losgesny. Die dryfbakens het losgekom en die walvis was eindelik bevry.

“Die walvis het dadelik begin swem nadat hy bevry is,” sê Lambinon.

Die reddingspoging het eindelik langer as vier uur geduur.

Gegewe bestaande littekens, vermoed spesialiste dat die vissersnet en ander toerusting wat om die walvis gekoek het aanvanklik om sy kop was, maar mettertyd verder afgeskuif het.

Monsters is ingesamel vir navorsing en al die vissersgereedskap en dryfbakens is aan wal gebring om ondersoek te word.

“Ons is vol vertroue dat die walvis gaan oorleef, want hy is nog baie gesond.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Onbaatsugtig ja Riette, maar moet nie vergeet dat die probleem deur mense veroorsaak is. So dit was nie sommer net ‘n geskenk nie. Dit was mense wat reggemaak het wat mense verbrou het. Hulle skuld die walvis ‘n blikkie tuna vir pyn en lyding. Gelukkig is die dier nou okay.

Bolandse Nooi ·

Kry die Chinese en Nigeriërs almal uit ons land en vaarwaters uit en 80% van die probleme wat ons tans ondervind, is opgelos. Maar die politieke wil is mos nie daar nie!

Cherokee ·

Nooi, daar is spekulasies dat Suid Afrika deel gaan word van Sjina. Wat het van Sjinese en Sjina geword? Dìt was nog eg Afrikaans.

Karoo ·

NSRI…. julle is ook altyd gewilig om te help, baie baie dankie aan julle en die personeel van die walvis-ontknopingsnetwerk asok die eienaar van die boot wat die walvis gewaar het en dit spoedig aangemeld het.

Delia ·

As mens n ekstra sent het, is dit nou n organisasie om te ondersteun, behalwe al die diere organisasies

Sê maar net ·

Daai is een gelukkige walvissie! Dankie tog hulle kon hom help! Welgedaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.