NGV: ‘Laat LP’s eerste hul mediese fondse opgee’

(Foto: Pixabay)

Solidariteit het Donderdag parlementslede – wat ten gunste van die aanvaarding van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)-wetsontwerp gestem het – versoek om hulle eie mediesefondsdekking “summier te kanselleer en om daardie bydraes aan die departement van gesondheid oor te betaal”.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die organisasie glo dat die kampvegters vir hierdie spesifieke universele gesondheidsorgskema – met die ANC-regering aan die stuur – as pioniers van die NGV na vore moet tree.

Dit kom ná die NGV-wetsontwerp Woensdag deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) en vroeër deur die parlement aanvaar is.

Maroela Media het vroeër berig afgevaardigdes van agt uit die nege provinsies het ten gunste van die wetsontwerp gestem, met slegs die Wes-Kaap se afgevaardigdes wat teen die wetsontwerp gestem het.

Du Buisson sê verskeie berigte toon egter dat parlementslede se mediese fondse (in 2021-’22) ongeveer R5 500 per maand gekos het. Dit is ʼn bedrag van 2,65 keer meer as die gemiddelde mediesefondskoste.

“Die Parmed-fonds, wat spesifiek vir parlementslede voorsiening maak, bied ook beter voordele as die topplanne van alle ander fondse.”

Hy sê parlementslede wat ten gunste van die NGV is, besef klaarblyklik nie die gevolge wat die skema vir hulle op persoonlike vlak gaan inhou nie.

“Die staat begroot tans ongeveer R5 000 per persoon per jaar vir openbare gesondheidsdienste. Parlementslede sal dus slegs ʼn 13de van hul huidige voordeel ontvang sou die NGV onmiddellik ingestel word.”

Hy meen egter dat niks die werklikheid so laat insink soos om dit aan eie bas te voel nie.

“Dit is dalk die enigste manier om te voorkom dat gewone mense se reg op behoorlike gesondheidsorg – en hulle persoonlike keuse daaroor – geskend word. Laat parlementslede dit dan eerste voel.

“Die selfvoldaanheid waarmee die minister van gesondheid, Joe Phaahla, die NGV se lof in die NRP besing het – en die wyse waarop hy die NGV se kritici beledig – skep die indruk dat hy die ideale kandidaat as NGV-proefkonyn sou wees,” sê Du Buisson.

Hy sê Solidariteit is daarvan oortuig dat die NGV-kampvegters maar sku sal wees om te erken dat hulle self aan mediese fondse behoort.

“Benewens die wesenlike uitgawe wat aan huidige parlementslede se mediese voordele bestee word, word daar jaarliks ongeveer R81 miljoen aan mediesefondsbydraes vir voormalige parlementslede bestee.

“As private mediese fondse kwansuis onnodig is, behoort dit vir die huidige regering maklik te wees om voormalige parlementslede te oortuig dat dit geldmors is om hulle mediese sorg enigsins langer te dek,” sê Du Buisson.

“Laat pionier Phaahla en sy volgers deur hulle voorbeeld lei voor die res van ons onder hulle dwaasheid ly. Intussen sal Solidariteit alles in die stryd werp om ʼn einde te maak aan hierdie NGV-gekheid.”

Hy sê Solidariteit het lankal reeds besluit om die planne “om eienaarskap oor ons gesondheid te kaap” in die hof te beveg.

“Sou pres. Cyril Ramaphosa as die volgende stap in die wetmakende proses ook sý handtekening onderaan die NGV-wetsontwerp voeg, is ons regspan oorgehaal om onmiddellik met litigasie te begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johann ·

He he he…VAT SO! In your face kaders. Laat hulle sommer saam met the people wat hulle in mag hou, in rye gaan staan by klinieke en staats hospitale.

Ore ·

Voeg by;sal die Parlementslede wat so vurig ten gunste van die NGV is ,in rye wag om by ‘n dokter uit te kom? Soos ek verstaan wag jy jou beurt af en het nie die keuse van ‘n dokter nie. Is ons hooggeplaastes bereid om deur ‘n Kubaanse dokter behandel te word? Ek glo nie, hulle reel gou ‘n “staats besoek” aan Rusland om daar behandel te word. En , o ja, en dan is daar natuurlik die pot goud wat geplunder kan word waar elkeen hom/haarself kan vergryp aan die fondse.

snaaks ·

Sodra een van hulle siek is klim hulle in n vliegtuig en gaan dan na die dokters toe.

domheks ·

Sal wil sien of hulle dadelik hulle medies sal kanselleer! Voorbeeldige kaders!

Ryan ·

Ek hou baie van Solidariteit se plan. Die media moet elke dag op hierdie voorstel hamer totdat die voorstanders van di NVG toegee, of oorgee, in welke geval albei uitkomste baie goed vir die belastingbetalende publiek sal wees.

Theo ·

Suid-Afrika is in ‘n stryd om lewe of dood rakende die NGV. Elke mens met meer as een breinsel moet dit tog besef, dan nie? SA’ners sal meeding met miljoene onwettige immigrante vir gesondheidsorg deur onbevoegde mediese personeel. Waarom kan SA’ners dit dan nie ook so ernstig opneem soos wat hulle die Rugby Wêreldbeker opneem nie?

tweeling ·

Kom ek sê iets: die meeste van die parlementslede het nie ‘n idee (geen indiepte kennis) waarvoor hulle stem nie. Dit gaan oor die party en niks anders nie.

Wendy ·

Ds nt di laaste doodsnik om di groot gros wat in elk gval ni n fonds ht ni by di stembus te kry want hyt geen ander wortel om te swaai. Wie dink hulle is hulle om te besluit watter dr ek mag sien of nie. ?? Beslis ni een wat 28% moes kry om te slaag nie.

Pieter ·

lol ja laat die wat hierdie ding goedkeur sonder goeie rede eerste in hulle eie strik trap.

domheks ·

Die kaders is te verhewe om van plaaslike mediese dienste gebruik te maak. Vlieg op belastingbetalers se onkoste Rusland toe vir behandeling. Wonder of hier iemand is om te vetaal vir die kubaanse dokters?

Michael ·

Daar behoort ‘n wet te wees dat geen parlementslid aan ‘n privaatfonds mag behoort nie. Die wet moet bepaal dat LP’s net staats mediese sorg moet gebruik of hulle moet self betaal vir eie mediese behandeling, maar geen lidmaatskap van enige fonds nie.

Ronél ·

Hierdie is ‘n perd wat hulle nie eens sal kan ry nie, wat nog opsaal…………………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.