NGV nou nóg ʼn tree nader aan wet

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Hush Naidoo Jade/Unsplash)

Die wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is nou nóg ʼn amptelike tree nader om as wetgewing goedgekeur te word nadat die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) Woensdag sy ANC-meerderheid gebruik het om die wysigingswetsontwerp onveranderd in te stem.

Afgevaardigdes van agt uit die nege provinsies het ten gunste van die wetsontwerp gestem, met slegs die Wes-Kaap se afgevaardigdes wat teen die wetsontwerp gestem het.

Die wetsontwerp sal nou aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur word vir oorweging en om as wet onderteken te word, of dit terug te verwys na die wetgewer.

Die debat oor hierdie wetsontwerp is verlede week ter elfder ure uitgestel nadat ʼn beroep op die NRP gedoen is vir verdere konsultasies.

Skaars ʼn paar uur nadat die NRP die wetsontwerp aanvaar het, het burgerregtegroepe en politieke partye egter met litigasie gedreig sou dit verder deurgevoer word.

“Sou een laaste beroep op die president om daarvan af te sien óók op dowe ore val, is dit hof toe oor die NGV, en dáár sal Solidariteit alles in die stryd werp om dit te keer,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI).

AfriForum het ook onderneem om ʼn tweeledige strategie te dryf waarin daar openbare druk op die president geplaas word om nié die wetsontwerp te onderteken nie en opposisiepartye en drukgroepe verenig in ʼn gesamentlike grondwetlike hofsaak teen NGV.

“Ramaphosa het ʼn grondwetlike verpligting om ʼn wetsontwerp wat enige kommer by hom wek terug te stuur om hersien te word, terwyl die Konstitusionele Hof finaal oor die grondwetlikheid van wetsontwerpe kan beslis,” sê Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder oor die NGV.

Solidariteit het vroeër vandeesweek in ʼn skrywe ʼn aanmaning aan Ramaphosa, die ministers van finansies en gesondheid, asook die nasionale tesourie gestuur en aanbeveel dat hulle planne vir die NGV onmiddellik gestaak word.

Die doel van die aanmaning was om die partye die geleentheid te gee om vóór litigasie met Solidariteit in gesprek te tree om sodoende ʼn kostebevel in persoon vry te spring.

Solidariteit sê nou hy het by elke openbare geleentheid kommentaar gelewer om die onwerkbaarheid van die NGV uit te lig. Moeite is gedoen om ook die gevare van die voorgestelde NGV aan die hand van koste- en doktersverslae te illustreer.

Ondanks dié pogings het eers die Nasionale Vergadering en nou ook die Nasionale Raad van Provinsies die wetwysiging goedgekeur.

Volgens AfriForum het die ANC eenvoudig net sy planne deurgevoer ondanks die feit dat bykans elke gesondheidskenner daarteen gewaarsku het.

“ʼn Regering wat sy eie magsposisie belangriker ag as die gesondheid van die landsburgers – kan daar nóg laer gedaal word?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ryan ·

Die CancER stel glad nie belang om beter gesondheids sorg aan die armes te verskaf nie , maar wel om die res van ons af te trek na hul swak gesondheids sorg. Die perfekte kommunistiese model: Almal moet gelyk wees in die suffering, behalwe die politici.

Jedi Knight ·

Dit smaak my 1992 se JA hoendertjies kom nou so die een na die ander huis toe. Die volgende hoendertjie is die pensioenfonds enetjie. Ek sien hom in die verte……

Karoo ·

Maak nie saam wat, die “minderheid” suig altyd aan die agterste speen. Pas jou gesondheid op, sodat jy ‘n beter kaans het op goeie versorging vir die erge goed wat jy niks aan ka verander nie.
Medies is ons duurste uitgawe…. ek weef nie eers oor 10 jaar of ek dit gaan kan bekostig nie want die firmas is nie dom nie… hulle stoot alles op om te “skep” terwyl hulle kan.

Yolandie ·

Kan sien ons kom al nader aan die verkiesings tyd want die regerende party raak desperaat en ruk nou al wat ‘n haas uit die hoed om daai stemme vir die “previously disadvantaged” te werf……ten koste vd hele SA. Die huidige belasting model is klaar skeef getrek want daar is slegs 1/3 vd bevolking wat gemelk word om belasting te betaal…….die grants is nie volhoubaar nie en die elite bly kurrup en skep soveel hulle kan. Die einde is insig.

Pieter ·

So mooi voor die verkiesing. Klink my stemme is belangriker as lewens…

Pieter ·

Net nog ‘n rede om hierdie ouens uit te kry. Die logika trek net een kant toe en die res maak net nie saak nie. Maar dis die res wat elke keer dinge moet maak werk…

Thinus ·

As hierdie wet ingestem word is ek weg. Ek is baie lief vir my land en ek het nog altyd gesê ek sal graag hier wil bly en ʼn lewe hier bou, maar as die regering nou finaal die mediese sorg van die land vernietig gaan ek my goed vat en waai en hulle nou finaal los om in nog ʼn zimbabwe of mosambiek te verander. Ek sal baie verdra, maar sodra ek nie meer seker kan wees dat daar goeie mediese sorg oor is vir my familie nie is dit te veel. As die wet deurgaan gaan ons die grootste uittog van gekwalifiseerde mediese personeel sien sedert 1994 en wie gaan dan oorbly om vir die ganse nasie te sorg op die vlak wat hulle belowe?

Aai ·

Die dokters gaan die land verlaat hulle gaan nou almal oorwerk wees en vir min geld.

Republikein in die Wes Kaap ·

Thinus, ek gesels ‘n rukkie terug met ‘n kennis wie se seun by OR Tambo se immigrasieafdeling werk. Hy sê maandeliks verlaat derduisende emigrante die land via Tambo. Kaapstad en Durban is blykbaar nie vêr agter nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.