‘NGV moet terug parlement toe’

Argieffoto (Foto: Bret Kavanaugh/Unsplash)

Die aanvaarding van die wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het wydverspreide kritiek ontlok en die boodskap is deur die bank dieselfde: Stuur die wetsontwerp terug parlement toe.

Verskeie versoeke is aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om die wetsontwerp vir heroorweging na die parlement terug te stuur. Business Unity South Africa (Busa) en Business for South Africa (B4SA) het selfs ʼn formele petisie hieroor aan Ramaphosa gestuur.

Sakelui glo die wetsontwerp, in sy huidige formaat, is nie net onwerkbaar, onuitvoerbaar en onbekostigbaar nie, maar ook ongrondwetlik, op substantiewe sowel as prosedurele gronde.

“Ons bekommernisse, aanbevelings, navorsing, data en insette, asook dié deur verskeie kundiges en belangegroepe, is summier geïgnoreer deur die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid, wat deur die wet verplig word om te verseker dat die wetsontwerp behoorlik opgestel is om die land se gesondheidsorg die beste moontlike kans op sukses te gee,” sê Martin Kingston, voorsitter van B4SA.

“Daar is boonop geen wysigings aan die wetsontwerp aangebring nie, insluitend dié wat self deur die departement van gesondheid voorgestel is. Dit is uiters kommerwekkend vir ons land en demokrasie.”

Cas Coovadia, uitvoerende hoof van Busa, sê hy moet dit egter duidelik stel dat sakelui nie die wetsontwerp in sy geheel verwerp het nie.

“Ons het deurlopend die beleidsrigting ten opsigte van universele gesondheidsorg gesteun. Ons insette was bedoel om die grondwetlike, befondsing en praktiese tekortkominge in die wetsontwerp reg te stel,” sê Coovadia.

“Ons glo bloot dat die portefeuljekomitee vir gesondheid en die NRP ongrondwetlik opgetree het deur die wetsontwerp deur te stoot sonder behoorlike oorweging van hierdie bekommernisse.”

‘Goedkoop stemme’

Verskeie politieke partye is ook nie tevrede met hoe die gebeure Woensdag afgeloop het nie.

Die DA sê die vinnige deurvoering van die wetsontwerp was bloot ʼn verkiesingsfoefie deur die ANC om stemme te wen.

“Die waarheid is dat die NGV-wetsontwerp niks meer is nie as ʼn goedkoop verkiesingsveldtog voor volgende jaar se verkiesing,” sê Michele Clarke, die DA se woordvoerder oor gesondheid.

“Die ANC weet dat sy nalatenskap van kaderontplooiing, korrupsie en mislukkings onsmaaklik is vir die Suid-Afrikaanse publiek, en in plaas daarvan om die magdom probleme in die openbare gesondheidsektor en die res van die land te takel, het hy die irrasionele NGV deurgevoer in die hoop om kiesers te mislei om te glo dat dit ʼn regering is wat omgee.

“Maar die NGV is nie die antwoord op Suid-Afrika se gesondheidsorgprobleme nie.”

‘Deurslaggewende besluit’

Die ANC het die aanvaarding van die wetsontwerp verwelkom, en sê dit is die eerste stap om te verseker dat alle Suid-Afrikaners toegang tot gehalte‑gesondheidsorg het.

“Die NGV-wetsontwerp het die lengte en breedte van ons land deurkruis om almal die geleentheid te gee om betrokke te raak,” sê Ethel Nkosi, ANC-LP.

“Gemeenskapslede, werkers en burgerlike organisasies het almal hul stemme bygevoeg om hierdie noodsaaklike wetsontwerp te steun.”

Die ANC sê hy wag nou angstig vir Ramaphosa om die wetsontwerp te aanvaar.

Nkosi het ook kennis geneem van sekere groepe wat regstappe teen die aanvaarding van die wetsontwerp wil doen.

“Ons is ewe vasbeslote om die winste wat hierdie vir ons demokrasie gaan lewer in die howe en op straat te verdedig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Frikkels ·

Ons is vasbeslote om hierdie wetgewing wat vir ons as kaders persoonlike winste gaan genereer, op straat en in die howe te verdedig!

JohanR ·

‘NGV moet terug parlement toe.’ NGV moet in ‘n diep gat gegooi word en diep diep diep begrawe word. Miskien daai gat wat in Australia uitkom! Net nog ‘n plan vir kaders om skatryk te word, en vir die ANC om nog iets in SA op te neuk! Weet iemand miskien watter kaders gaan dik vreet as die wetgewing deurgaan? Kyk maar uit vir die groot Audi’s, BMW’s en Mercedez!

Bolandse Nooi ·

Hulle gáán dit deurvoer, “come hell or high water”, net soos met die Bela-Bela wetgewing.

Papsak ·

Ja ek stem nou voor verkiesing word daar gespring om te wys wat hulle kan doen maar na verkiesing kom bitter pil ons kan eindlik niks doen nie ha ha haaaaaa

Schalk ·

Net nog vorm van belasting op die gewone werker. Die werklike groot probleem is die onwettige instromelinge wat net gaan gehelp word en die wat geforseer word om te betaal gaan al minder word. Desperate poging van die kaders om vir oulaas goedkoop politiek te gebruik vir gewildheid.

Althes ·

Ek het Solidariteit se artikel gelees. Ek stem volkome saam met hul. Laat die ANC parlementslede hul parlementmediese plan eerste opgee. Hul kan proefkonyn speel. Ek dink die mediese dekking per persoon is maar R5000 met die NGV.
Nietemin laat ons dit beveg.

koos ·

Natuurlik sal die ngv deurgaan en wet word. Wat verwag julle van mense wat jaar-in en jaar-uit aanhoudend vir die cANCer regime stem? Maak my siek man. Demokrasie en Afrika kan nie bymekaar gegooi word nie, kyk maar net na Zim.

Christina ·

En as die wet deurgaan, hoeveel medici sal hier aanbly, hulle is die mense wat dit kan bekostig om te emmigreer, dan sit ons met die Kubane.

Andre ·

…dink iemand nog die A en C steur hom aan kritiek?
Dit gaan net oor nog meer sjielings wat eie sakke toe sal gaan!

J. J. ·

Die pionne het opdrag van die wêreld raad vir gesondheid gekry, sodat hulle die land kan beheer en ons lewens kan beheer.

annie ·

Wat mens baie insiggewend en interessant vind in die Bybel is dat gebeure, goed of sleg, om verskeie redes plaasvind. Straf vind soms plaas ook vir die persoon/persone wat glo hulle is die verontregtes. Ons Afrikaners/wittes sal moet begin besef ons moet ook tot inkeer kom en nie net die hele tyd skreeu soos lammetjies ter slagting gelei nie. Waar is ons dominees deesdae? Tjoepstil of voltyds by hul vakansiegemeentes? En ons skatryk dokters? In die buiteland by kongresse terwyl hul pasiënte moet wag en rondskarrel vir hulp?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.