Nog geen teken van beleërde SAL, SA Express se jaarverslae

Argieffoto. (Foto: Facebook)

Nie die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) óf SA Express (SAX) gaan die spertyd haal om hul jaarverslae in te dien nie.

Die SAL en SAX moes dié verslae, asook geouditeerde finansiële state en ʼn ouditverslag, vyf maande ná die einde van die boekjaar ingedien het. Dit is nie gedoen nie.

Die DA het Woensdag in ʼn verklaring gesê hy neem met kommer kennis van die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, se brief waarin die parlement ingelig word dat die jaarverslae nie betyds ingedien gaan word nie.

“Die minister het ernstige finansiële probleme by albei rederye voorgehou vir die vertraging,” het Natasha Mazzone, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, gesê.

Die DA gaan nou die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, Khaya Magaxa, vra dat Gordhan kom verslag doen oor waarom die twee staatsrederye aanhoudend versuim om hul pligte na te kom.

“Die kwessies kan nie bloot geïgnoreer word nie. Albei rederye het die land al miljarde rande in reddingsboeie en verkwisting gekos.

“Dié jaarverslae is nie ʼn luukse nie, dit is instrumente wat die parlement toelaat om sy oorsigrol uit te voer en die uitvoerende gesag en amptenare verantwoordelik te hou. Dit word al duideliker dat die departement van openbare ondernemings versuim om dié staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) behoorlik te bestuur en dit is beslis nie die eerste keer dat sukkelende SBO’s versuim om verantwoording te doen vir hul vertoning en besteding nie,” het Mazzone gesê.

Sy het gesê die gebrek aan state dui op ʼn veel dieper krisis waarvan die omvang nie langer verdoesel kan word nie – en dat dit waarskynlik gevolg gaan word deur nóg ʼn pleidooi vir ʼn reddingsboei.

Regeringswaarborge vir staatsinstellings beloop in dié stadium meer as R450 miljard.

“Verlede jaar het die SAL ʼn verlies van R5,5 miljard gely kort nadat hy ʼn reddingsboei van R5 miljard by die staat gekry het. Dit het net meer as ʼn maand geneem voordat uitvoerende hoofde nóg ʼn finansiële reddingsboei geëis het.

“Die SAL se skuld, wat R21,7 miljard beloop, is besig om die staatskas leeg te suig en hou ʼn wesenlike bedreiging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in,” het Mazzone gesê.

Die DA het gesê met die reusebedrae geld wat bestee word om die SAL en SAX operasioneel te hou, kon duisende nuwe werksgeleenthede in die bedryf geskep word.

Die party sê die lugrederye het al te veel omkeerplanne, nuwe rade en nuwe hoofde gehad – en met geen sukses nie.

“Uiteindelik het politieke inmenging alle pogings om die SAL en SAX te red, ongedaan gemaak.”

Volgens Mazzone kry Suid-Afrikaners, ANC-begunstigdes uitgesluit, bitter min waarde vir die geld wat op SBO’s uitgegee word.

Maroela Media het vroeër berig die Vlieëniersvereniging van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (Saapa) dreig boonop om te staak weens die diepgewortelde en voortslepende probleme by die SAL.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Wag asseblief soe rukkie langer…..die verslag is besig om soe bietjie baie verander te word! ‘n Paar nulle word weggevat!

Gert van Wierdapark ·

Hul kry seker nie verslae uit die kon-sultante wat dit moes opstel nie, want die kon seker ook nie betaal word nie. Die kul-sultabte wou seker ook nie gratis vlieg kaartjies as vereffening aanvaar nie!

Pieter ·

Hulle moet nou eers mense van buite aan stel om dit vir hulle te doen het mos net graad een klaar gemaak

leser ·

maak die rederye toe en verkoop die vliegtuie, dalk sal julle ‘n paar rand daarvoor kry

Nic ·

Asb, hou net vas tot Saterdag voor julle staak of verkoop, ek is op `n SAL vlug geboek en wil graag net by die huis kom.

Pieter ·

Jy waag jou lewe broer sal nie met SAL vlieg nie hulle het nie geld om hulle vliegtuie te diens nie ry liewer bus

Keelvol ·

SA gaan net meer en meer agteruit… van die eens pragtige vooruitstrewende land wat ons eens was …
My dogter, n kaptein- vertel daar word nie eers meer na n blanke nuut opgeleide vlieenier gekyk nie – hul gaan maar landuit vir werk.
My kinders is nog van die baie goed opgeleide vlieniers in SA – wat oorsee sal moet gaan. My dogter se vliegtuig sit op grond. Wat n hartseer dag. Na al die harde bene kou van opleiding en die trots om ha vlerkies te kry – dis weg. Al wat oorbly is oorsee gaan. SA verloor sy bestes.

Domvraag ·

Onbekwame mense in poste en posisies. Onder hierdie leierskap sal SAL of SAX nooit regkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.