Nóg ʼn baba amper in Spar gegryp

Die Spar in Mooikloof, Pretoria. (Foto: Google)

ʼn Ma van Pretoria is hewig ontsteld nadat ʼn vreemdeling in Spar ook háár baba probeer gryp het. Die voorval volg skaars twee weke nadat ʼn werknemer van ʼn Spar in Meyersdal ʼn kind uit ʼn trollie getel en met haar probeer wegloop het.

Die ma, wat uit vrees vir haar gesin se veiligheid nie genoem wil word nie, sê wat haar die meeste ontstel, is die gebrek aan bystand wat sy van Spar en sy sekerheidspan gekry het.

“Ek het so ʼn groot bohaai opgeskop en niémand – nie eens die omstanders, bestuur of sekerheidswag – het iets gedoen aan die man wat my kind wou gryp nie,” het die ma Saterdag aan Maroela Media gesê.

Sy vertel sy, haar ma en haar sewe maande oue seuntjie het Vrydag net ná 12:00 by die Mooikloof Spar in die ooste van Pretoria gestop om ʼn paar goedjies te koop. “Ek weet van die voorval ʼn paar weke gelede by ʼn ander Spar, waar ʼn man ʼn baba uit ʼn trollie gevat het, so ons is baie versigtig wanneer ons met my kind in ʼn winkel is,” sê die ma.

Sy sê sy en die kind se ouma het voor die yskas gestaan en haar ma was besig om die pryse van botter te vergelyk. Haar seuntjie was in die waentjie voor haar. “Ek was na my seuntjie toe gedraai, maar het anderkant toe gekyk. Die volgende oomblik hoor ek hoe my ma skree: ‘Nee, nee, nee!’”

Sy het afgekyk en gesien hoe ʼn man met ʼn pers hemp probeer om haar seun uit die trollie te tel. “Ek en my ma het so hard gegil en steeds het die man nie weggetree nie. Ek moes hom wegstamp van die trollie en dit was nogal ʼn groot man gewees.”

Die ma sê sy het histeries gegil en soveel mense se aandag moontlik probeer trek. “Ek het herhaaldelik gegil: ‘Kyk, almal, hierdie man probeer my seun gryp. Bel die polisie, moenie dat die man met die pers hemp die winkel verlaat nie!’”

Sy sê sy en haar ma het net daardie oggend gepraat oor wat hulle sou doen indien só iets met hulle gebeur en sy het nog gesê sy sal probeer om soveel aandag moontlik op hulle te vestig.

“Maar niemand het enigiets gedoen om my te help of die man te konfronteer nie. Die sekerheidswag en bestuur het nader gestaan om te kyk wat aangaan, maar niks gedoen om die man voor te keer nie.

“Ek het my selfoon uitgehaal en ʼn video van die man begin neem sodat ek hom later kan identifiseer, maar hy het op my begin skree en sy vinger baie aggressief in my gesig gewaai. Die sekerheidswag het toe eers nader gekom en mý weggedruk en gesê om te kalmeer,” vertel sy.

Sy sê die man was netjies aangetrek, met ʼn gholfhemp, langbroek en behoorlike skoene. “Hy het vir sy inkopies betaal en doodluiters by die winkel uitgestap asof niks fout is nie.” Die man se verweer was glo dat hy net vir die baba wou hallo sê.

Die vrou se ma het die bestuur ná afloop van die voorval gekonfronteer en gevra hoekom hulle nie ingegryp het nie. “Hul antwoord was dat die man ʼn gereelde klant by die Spar is en hulle sien hom elke dag. Hy woon daar naby die Spar en hy is nie ʼn vreemdeling vir hulle nie.

“Dit is vir my baie kommerwekkend dat hulle aanvaar mense is onskuldig omdat hulle gereelde klante is. Ons is ook gereelde klante by die Spar.”

Die bestuurder het nietemin gesê hy is jammer dat die voorval vir die gesin trauma veroorsaak het, en gesê hy sou nooit toelaat dat die man met haar baba wegloop nie.

Die ma het ʼn klag van poging tot ontvoering by die Boskop-polisiestasie aangegee en die eienaar van die Spar het intussen aan haar gesê dat hulle hul volle samewerking aan die polisie sal gee. Die eienaar, net bekend as Costa, wou nie op Maroela Media se navrae reageer nie. “Ek werk op Saterdae, ek kan nie nou hierop kommentaar lewer nie. Ek was ook nie in die winkel toe dit gebeur het nie. Ek het met die ma gesels en ek hoop sy kan vrede vind.”

Die ma oorweeg dit nou om vir traumaberading te gaan, aangesien die hele voorval haar erg getraumatiseer het. “Ek het agterna so gebewe. Dit gebeur regtig in enkele sekondes. Ek wil nooit weer alleen gaan inkopies doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karen ·

Jammer maar dit is totaal onaanvaarbaar van die Spar se kant af.
Ek sal nie meer die Spar gebruik nie!

KatjieDeKat ·

Dis nie net n Spar ding nie. Mens behoort Nerens op die planeet jou klein kind vir n oomblik uit jou visie te hê nie. Hierdie wêreld is nou maar eenmaal te siek en gevaarlik, veral deesdae. Ek onthou, as kind, was dit so baie anders. Nie nou meer nie. Now this planet is a shark tank, a hostile jungle full of predators. Of miskien het ons destyds as kinders in SA, maar net in n veilige borrel geleef. Miskien was dit elders, altyd so gevaarlik soos nou.

Nie Verbaas ·

Maak n saak teen die Spar se eienaar en die veiligheidswag wat haar gestamp het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.