Nóg ʼn voorval: Nie eens direktief stuit korrupte metrobeamptes

Anuschka Jacobs (29). (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Skok, angs en vrees.

Dít was die emosies wat  Anuschka Jacobs (29) ervaar het toe ʼn lid van die Tshwane-metropolisie haar die keuse gegee het om vir ʼn hele naweek in “Sunnyside se gevaarlike tronkselle” opgesluit te word, óf R3 000 op te dok en huis toe te gaan.

Die voorval, een van die jongste in ʼn vlaag voorvalle wat die afgelope paar maande aangemeld is, het verlede Vrydag omstreeks 22:15 by die Atterbury-afrit op die N1-noord in Pretoria plaasgevind toe Jacobs tydens ʼn kwansuise padblokkade voorgekeer is.

Jacobs, ʼn onderwyseres, was op pad huis toe nadat sy saam met vriende by ʼn restaurant geëet het.

“Ek kan sien jy is dronk,” het die TMPD-beampte, ʼn vrou, volgens Jacobs aan haar gesê kort nadat sy stilgehou en haar rybewys oorhandig het.

Jacobs het egter voet by stuk gehou dat sy nie onder die invloed van drank is nie en het selfs gevra om ʼn blaastoets te doen. “My masjien werk nie, maar ek kan sien jy is dronk,” was die beampte se antwoord volgens Jacobs.

Jacobs het in dié stadium besef sy is nou in troebel water en dat die beampte haar waarskynlik wil afpers.

“Ek het nie geweet wat om te doen nie – sy wou net glad nie na my luister nie. Ek was aanvanklik nie benoud om afgetrek te word nie, want ek het geweet ek is nie dronk nie en het niks verkeerd gedoen nie. Ek het dit as ʼn roetine-padblokkade beskou.”

Die beampte, wie se voornaam aan Maroela Media bekend is, het gedreig om Jacobs na die Sunnyside-polisiestasie te neem en glo gesê sy hoop maar Jacobs “oorleef dit”.

“Ek het begin huil en gesoebat om te ry, maar sy wou niks weet nie. Sy het my gevra of ek seker is ons ‘kan nie ʼn plan maak nie’, anders gaan sy my Sunnyside- of Brooklyn-polisie toe vat.

“Ek het geweet sy soek geld om my te laat gaan en ek het toe maar gesê ek sal my vriende bel om geld te bring.

“Sy het gevra of ek dink sy is stupid en gesê ek moet by my banktoepassing ingaan en my selfoon vir haar gee. Sy wou sien hoeveel geld in my rekening was. Ek het net ʼn paar dae tevore salaris gekry en die geld wat oor was, was my geld vir die res van die maand. Sy wou egter alles hê.”

Argieffoto bloot ter illustrasie van die Tshwane-metropolisie. (Foto: TMPD/Twitter)

Jacobs verduidelik dat die beampte geld deur middel van FNB se e-wallet-funksie oorgeplaas het. In so ʼn geval word ʼn pin na ʼn selfoonnommer gestuur wat dan gebruik kan word om geld by ʼn kitsbank te onttrek.

Die beampte het egter nie haar eie selfoonnommer gegee nie, maar beveel dat die kode na Jacobs se selfoon gestuur word.

“Sy het iemand gebel wat vermoedelik reeds by ʼn kitsbank gewag het en die pin vir hulle gegee. Net so is R3 000 uit my rekening. Ek kan nie help om te wonder of sy my geld oor die naweek by Menlyn gaan blaas het nie …”

Die beampte wou glo nóg R1 000 hê, maar ʼn limiet op Jacobs se bankrekening het dit nie toegelaat nie, selfs al het die beampte self probeer om die limiet aanlyn te verhoog. Jacobs moes selfs haar foon af- en aanskakel om te kyk of dit nie dan sal werk nie.

Ná sowat 40 minute se heen-en-weerdery het die beampte skielik Jacobs se selfoon en rybewys in haar voertuig gegooi en haar beveel om te ry.

Jacobs het die voorval die volgende dag by ʼn DA-raadslid aangemeld, wat die saak verder gevoer het. Sy is eindelik met ʼn lid van die Tshwane-metropolisie se integriteitseenheid in verbinding geplaas, wat Sondag saam met haar na die Brooklyn-polisiestasie is om ʼn klag aanhangig te maak.

“Ek gaan dit nie net los nie. Sy moet afgedank en aangekla word. Dit is die mense wat veronderstel is om ons op die pad te beskerm.”

Die saak word tans ondersoek en Jacobs het reeds met ʼn ondersoekbeampte gepraat. Sy word ook deur die Tshwane-metro bygestaan.

‘Meer as direktief nodig om probleem te pak’

Die voorval kom kort nadat ʼn direktief uitgereik is wat motoriste toestemming gee om ʼn metropolisiebeampte se aanstellingsertifikaat te vra en selfs ʼn foto van die beampte of sy of haar voertuig te neem.

Dit is een van verskeie interne en eksterne maatreëls wat ingestel is nadat die metropolisie self talle klagtes ontvang het van korrupsie, uitbuiting en afpersing van motoriste deur TMPD-beamptes.

Die TMPD het oor die afgelope ruk ook gereeld nuusopskrifte gehaal oor dié skrikbewind wat sommige korrupte beamptes in die strate van Tshwane voer.

Tshwane-burgemeester, Cilliers Brink. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Baie mense is egter nie so geneë om klagtes aanhangig te maak nie. Hulle is veral bang vir enige gevolge omdat hulle wél geld aan korrupte beamptes betaal het – al het hulle in daardie stadium geen ander uitweg gesien nie. Dit wil egter voorkom of die gety gaandeweg begin draai en al hoe meer mense die voorvalle amptelik begin aanmeld.

Cilliers Brink, Tshwane se burgemeester, is bewus van Jacobs se voorval.

“Die stryd teen korrupsie en misdadigheid in die Tshwane-metropolisie sal beslis meer verg as ʼn enkele direktief,” het hy vandeesweek aan Maroela Media gesê.

“Ons het hier te make met gevestigde netwerke van korrupsie: mense wat hul lewenstyle aangepas het met omkoopgeld. Maar ons is vasbeslote om hierdie netwerke uitmekaar te haal en die omkoop-ekonomie binne die metropolisie te verwoes.

“Die manier waarop ons Anuschka gehelp het, wys dat daar ʼn vasbeslotenheid binne die Tshwane-metro is. Dis veral die kantoor van die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, Grandi Theunissen, wat hierdie vasbeslotenheid bevestig.”

Brink sê die aanstelling van ʼn permanente metropolisiehoof sal ook ְʼn geleentheid bied om behoorlike bevel en beheer in die metropolisie te herstel, en beleid en munisipale verordeninge te hersien wat die werk van beamptes rig.

Stryd ‘nie hopeloos nie’

Theunissen sê hoewel korrupsie in die TMPD wydverspreid is, glo hy dit is ʼn stryd wat beslis gewen kan word. Daar is tans reeds meer as 30 interne dissiplinêre verhore aan die gang en sommige sake word eersdaags ook in die hof aangehoor. Theunissen is self ʼn getuie by drie van die sake wat onlangs teen vermeende korrupte beamptes aanhangig gemaak is.

Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in Tshwane. (Foto: Verskaf)

“Sodra ons ʼn presedent geskep het dat mense skuldig bevind, afgedank en in sommige gevalle tronkstraf opgelê word, sal dit die regte boodskap begin uitstuur. Dit raak al hoe warmer vir hulle [korrupte TMPD-beamptes],” sê Theunissen.

“Dit is die eerste keer in jare dat daar so baie amptelike sake is wat ernstig ondersoek word en waar hofsake hangend is. Ongelukkig neem hierdie prosesse bietjie lank. Ek glo ons sal teen einde Julie al van ons eerste positiewe resultate sien.”

Theunissen sê die Tshwane-metro het ook verskeie maniere om vermeende korrupte beamptes op te spoor wanneer klagtes ingedien word. Hy wou egter nie veel hieroor verklap nie.

Dit bly egter belangrik dat slagoffers die voorvalle aanmeld.

Motoriste word ook aangemoedig om kalm te bly wanneer hulle in so ʼn penarie beland en om nie van hulself maklike teikens te maak nie.

*Die volgende Tshwane-metronommers kan ook in noodgevalle soos dié geskakel word, of gebruik word om voorvalle aan te meld:

012 358 7095

083 657 2998

083 437 7987

081 507 5052

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

nieskynheilig ·

Sy werk nie by hulle nie. Sy werk van haar pondok af. MAAR, wat soek jy daai tyd van die nag daar, SA, word wakker.

ELSE ·

Se jy dus n persoon moet liewers nerens heengaan nie? Hierdie gebeur nie net in die donker nie hoor. Ek is bly dat Anuschka vertel wat gebeur het.

ABDP ·

Ons het een aand vanaf ‘n teater stuk af gekom en is op die selfde afrit afgetrek met dieselfde storie. Ons het nie eens ENIGE IETS gedrink het. Ons mag lewe in SA en ook in die aand iets gaan doen. Sy was geregtig om die aand saam mense na ‘n restaurant toe te gaan. Moet ons almal van die pad af bly sodat boewe kan doen wat hulle wil. As mens verantwoordeliks is, mag jy iets in die aand gaan doen.

Brombeer80 ·

Volgens die land se grondwet het enige iemand die reg om nie afgepers te word deur enige iemand nie en tot vryheid en sekerheid (dit sluit vrye beweging in), veral n metro polisie beampte, maak nie saak hoe laat in die aand dit is nie. Hulle is veronderstel om jou veiligheid te verseker, nie om misdaad te pleeg teenoor die publiek nie.

JvR ·

Al die reels wat jou glo beskerm is van nul en gener waarde in so n situasie.

KatjieDeKat ·

Wat n vieslike skande. Laat my dink aan die”highwaymen” van ouds wat koetse beroof het.

Pretorianer ·

So, hoe moeilik kan dit wees om Donderdae tot Saterdae aande 2 voertuie van die teen-korrupsie eenheid te laat rondry na die gewone plekke waar hierdie goed plaasvind?

OU SAAR ·

Is dit net vir die TMPD wat die direktief geld? Glo my, hier op die platteland in die Noord Kaap gaan dit nie veel beter nie. Korrupsie onder verkeersbeamptes en polisiebeamptes is ook aan die orde van die dag. Om nie eers te praat van die openlike rasisme nie. Dis regtig verregaande hoe dinge nou hand uit ruk in die land.

Martie Smartie ·

Al wat gaan werk is om undercover traps te stel op n gereelde basis en die korrupte goed daar en dan te arresteer.

Yvonne ·

Ons pragtige land is verval in misdaad van die wat reeds werk het…..hoeveel mense wat ek van weet sal so diep dankbaar wees om n pos erens te kry wat vir hulle kos op die tafel sal gee…….Amen

Amelia ·

Indien so beampte gevang word betaal af en gee sy pensioen geld vir die wat so gedryg is en gooi beampte in sunny side tronk

Andries ·

Hoe seker is ons dat hierdie “rowers” TMPD beamptes is? Dit is nie so moeilik om uniforms en blou ligte te bekom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.