Nog twee vas oor Thabo Bester-ontsnapping

Thabo Bester. (Foto: AFP)

Nog twee voormalige werknemers van die G4S- private veiligheidsmaatskappy is in verband met die omstrede ontsnapping van die veroordeelde misdadiger Thabo Bester in hegtenis geneem.

Die verdagtes, wie se name nie bekend gemaak is nie, is vroeër deur G4S in die pad gesteek. Hulle is by hul onderskeie woonplekke in Bloemfontein in hegtenis geneem en sal Woensdag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Brig. Athlenda Mathe, die polisie se nasionale woordvoerder, sê die twee word van regsverydeling aangekla en dat hulle ʼn gevangene gehelp het om uit wettige aanhouding te ontsnap.

Die ondersoekspan het tot dusver agt verdagtes in hegtenis geneem, en sê dat daar moontlik nog arrestasies kan wees.

Vyf verdagtes het ook vroeër die maand in dieselfde hof verskyn.

Onder dié verdagtes is Bester se vriendin, dr. Nandipha Magudumana, haar pa, Zolile Sekeleni, en nog twee beskuldigdes, Teboho Lipholo en Senohe Matsoara, en nog ʼn voormalige veiligheidswag van G4S.

Die saak teen hulle is tot 16 Mei uitgestel wanneer Bester ook weer in die hof moet verskyn. Die beskuldigdes staan tereg op verskillende aanklagte, onder meer moord, dwarsboming van die gereg, medepligtigheid en brandstigting.

Maroela Media het vroeër berig dat die verbrande liggaam wat tydens Thabo Bester se bisarre ontsnapping in Bester se tronksel aangetref is, uiteindelik uitgeken is as dié van Katlego Bereng Mpholo.

Mpholo is as vermis aangemeld by die polisie voordat Bester sowat ʼn jaar gelede tydens ʼn gewaagde ontsnapping uit die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein verdwyn het. ʼn Verbrande liggaam is in Mei verlede jaar in sel 35 aangetref, wat die owerhede aanvanklik laat glo het dat hy homself aan die brand gesteek het.

Bester is vroeër deur die Tanzaniese polisie aangekeer nadat hy en Magudumana landuit gevlug het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amelia ·

Hierdie saak lyk eerder of hir n slang in gras is hoeveel is dan nou einlik betrokke

SjN ·

Daar moet nog meer mense wees wat tjo tjo geld gekry het en wat betrokke was en hulp verleen het, hoop daar is n paar fluitjieblasers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.