Nóg uitstel, nóg trane in Benoni-moordverhoor

Daniël Botha. (Foto: Verskaf)

Die verhoor van Gideon Fourie, Jacques de Lange en Sampie Hearn, drie jong mans wat teregstaan weens die moord op Daniël (Danie) Botha, is Maandag vlugtig hervat net om ’n uur later opnuut uitgestel te word.

Die saak is op versoek van die verdediging nou tot 19 Augustus uitgestel. Dít omdat ’n getuie hierdie keer weens ’n werkskrisis nie beskikbaar was om sy getuienis in die Benoni-streekhof te lewer nie.

“Dit is ongerieflik, maar wat kan ’n mens doen?” het landdros Ian Cox oor die uitstel gesê.

Botha se ouers, wat met elke hofverskyning hul plek in die houtbanke agter die beskuldigdebank inneem, was Maandag sigbaar gefrustreerd weens die vertraging.

“Dit voel of die verhoor op spaartyd gedoen word,” het André Pretorius, Botha se stiefpa, ná die verrigtinge buite die hof gesê.

Botha is in die vroeë oggendure van 26 Julie 2018 só erg by ’n kuierplek in Benoni aangerand dat hy later breindood verklaar is.

“Dit is vandag presies vier jaar sedert ek my seun vir die laaste keer lewend gesien het,” het Daniël Botha, Daniël se pa, Maandag gesê.

Ook hý is verby moedeloos.

“Dit voel of daar niemand is wat vir Daniël praat nie.”

Gideon Fourie (Foto: Tania Heyns)

Catharina Pretorius, Danie se ma, se trane het vlak gelê.

“Dit is baie hartseer. Hulle verstaan nie waardeur ons as ouers gaan nie. Om elke keer hier te kom sit sodat alles weer oopgekrap kan word, net sodat die saak weer uitgestel word …

“Ek het nie woorde nie.”

De Lange se getuienis is voor die uitstel aangehoor. Hy ontken dat hy daardie aand by Dingo’s Pub aan Botha geslaan het. Dít ondanks ’n uitsmyter se vroeëre getuienis dat De Lange een van die jong mans is wat Botha aangerand het.

“Dit is vals,” het De Lange in die streekhof oor die uitsmyter se getuienis gesê.

Volgens hom het hy nie gesien wie aan Botha geslaan het nie. Hy het wel gesien hoe Fourie op die dansvloer van ’n beseerde Botha weggetrek word voordat Fourie hom later in sy bakkie gelaai en hospitaal toe geneem het.

Al drie beskuldigdes ontken skuld en is tans op borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Swerwer ·

En so kom Zuma se optrede weer na vore. Zuma het ‘n wesenlike probleem geskep in die Regstelsel.

henndrik ·

In Suid Afrika het die oortreders al die regte en die slagoffer/s geen

Elize ·

Ek voel so jammer vir daardie ouers. Kan die lafaards na vore tree en hulle straf wat hulle toekom soos ‘n man vat.

Casper ·

Elize, ek stem saam met jou. Met een verskil, hulle is nie mans nie, lafaards wel. twee of meer in ‘n groep, dan reken hulle mos; hulle is net die mackie van die plekkie. Kyk hy nou na sy view en likes op sy media platforms. Seker ‘n “media influencer”.

Peter ·

Die groot meneer sal eendag voor die Regter staan en verantwoording doen, dan sal geregtigheid geskied

TO ·

Verstaan ek nie die frustrasie. Ek wag al 14 jaar net vir geregtigheid in my vermoorde seun se saak om nou te hoor die docet wat hof toe gestuur is, SONDER OM MY EENS IN KENNIS TE Stel, is weg

Stefan ·

Hierdie tragiese gebeurtenis wys maar net weer dat alkohol nie goed is vir ons nie. Dit kan maar verban word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.