‘Nou weet hulle’: Dricus oor dáái geveg, SA’ners se selfvertroue en sy gesin

Dricus “Stillknocks” du Plessis het in sy gimnasium met Maroela Media gesels. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Hulle weet nie wat ons weet nie.”

Sewe eenvoudige woorde wat die UFC-middelgewigkampioen Dricus “Stillknocks” du Plessis op die ingewing van die oomblik ná ʼn geveg gesê het, het intussen ʼn bekende slagspreuk eie aan Suid-Afrikaners geraak.

Dricus (30) het met Maroela Media gesels in die CIT- (Champions in Training-)gimnasium in Hatfield, Pretoria, waar hy en sy span hom voorberei het vir die grootste geveg van sy loopbaan.

Die Pretoriase vegter het die wêreld se verbeelding aangegryp toe hy kort ná sy geveg teen Robert Whittaker dié sewe Afrikaanse woorde geuiter het. Dit was sy sege teen dié Australiese vegter wat gesorg het dat hy in die finale ronde teen die Amerikaner Sean Strickland te staan kom.

ʼn Paneel bestaande uit altesaam 32 beoordelaars, onder wie ontleders, afrigters en ander atlete van oor die wêreld, het egter voor sy geveg teen Robert in dié Aussie se guns gestem om die geveg te wen.

“Die hele paneel het my onderskat, maar ons [hy en sy span] het hier geweet ek gaan wen,” verduidelik Dricus en beduie na die binnekant van die gimnasium, wat hy saam met twee ander vennote besit.

“Nou weet hulle wat ons weet”

Dricus du Plessis spog met sy titel en die Suid-Afrikaanse vlag. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Hy het nie verniet gesê “nou weet hulle wat ons weet” nadat hy in ʼn geskiedkundige oomblik met Sean in Toronto, Kanada, afgereken het nie, sê Dricus.

“Hulle dink hulle weet wat dit vat om te wen, maar hulle weet nie wat ʼn Suid-Afrikaner weet van hoe om ʼn moeilike situasie onder druk te hanteer nie.

“Hulle het geen idee waardeur ons as nasie al is en die veerkragtigheid wat ons as gevolg daarvan het nie. Ondanks ontelbare probleme in die land wen ons nog steeds Wêreldbekers, ons wen nog steeds Grammys, en ons vat nog steeds wêreldtitels.”

Dis wanneer jy Suid-Afrikaners in ʼn hoëdruksituasie plaas dat hulle presteer, meen Dricus.

“Ons is gebore daarvoor. Dis in ons DNS. Hulle weet nie hoe ver ons bereid is om te gaan om te wen met een punt en ons land trots te maak nie.”

Daar is niks wat Sean in die kryt vir hom kon sê wat hom kon kwaad maak of van stryk kon bring nie.

Dricus du Plessis tref Sean Strickland met ’n goeie regterhou tydens hul geveg. (Foto: X/UFC)

“Ek is geestelik onbreekbaar. Daar is niks wat enigiemand vir my kan sê wat my van koers af kan gooi nie, want wanneer ek veg, is ek nie Dricus nie, ek is net ʼn entiteit. Daardie entiteit het nie ʼn persoonlikheid nie, so hy bly onaangeraak en kan nie beïnvloed word nie.

“Sodra jy jou opponent kan kwaad maak, het jy reeds die helfte van die geveg gewen. Sean het van die begin af probeer om my op die verhoog te boelie en ek het dit nie toegelaat nie. Hier in Suid-Afrika is ons ʼn bietjie anders aanmekaargesit. Die dinge wat hom kwaad maak, is die dinge waaroor ons hier in Suid-Afrika rondom die braaivleisvuur lag.”

Selfvertroue

Dricus skryf sy selfvertroue toe aan die grondslag wat sy ouers, Japie en Gerda, vir hom en sy twee ouer broers gelê het.

Hy vertel sy ouers het hulle as kinders aan alles blootgestel, van danslesse en musiekinstrumente tot sportsoorte soos krieket en tennis, maar hy sê hy het altyd uitgeblink in kontaksport, veral rugby.

“My ouers het ons van die een rugbywedstryd en judokompetisie na die ander rondgery. Hulle het by my die ingesteldheid gekweek dat jy hier is om te wen, sonder dat hulle ooit enige negatiewe druk om te presteer op ons geplaas het.

“Hulle is ongelooflike ouers en ek sal ook graag eendag my kinders so wil grootmaak. Al wanneer hulle kwaad geword het, is wanneer ek wou opgee. Dit was nie eintlik ʼn opsie nie.”

Hy en sy twee broers het ook as leerders aan die Hoërskool Hartbeespoort teen mekaar meegeding.

“Toe albei my broers die rugbybeker van die jaar gewen het, het ek geweet ek wil dit ook wen. Nou is ons al drie se name op die beker aangebring.”

Hy skryf die ander aspek van sy selfvertroue toe aan die feit dat hy weet hoeveel hy insit voor ʼn geveg.

“Ek gaan nooit ʼn geveg in met valse selfvertroue nie. Ek weet hoeveel tyd ek in die gimnasium deurbring. Dit is maklik om vir jouself te jok oor jou voorbereiding, maar dit sal alles aan die lig kom wanneer jy in die kryt kom. As jy reeds twyfel in jou vermoë om te wen, kan ek nie dink hoeveel te meer jy twyfel as jy onvoorbereid is nie.

“Ek weet daar is niemand in hierdie sport wat harder werk as ek nie. Vandat ek op 16 jaar besluit het ek gaan ʼn UFC-kampioen word, het ek aanhou werk daarvoor. Dit was elke dag my missie en waarvoor ek geoefen het. Ek het my voorberei vir die groot oomblik.”

Dricus se wortels

Dricus en een van die gimnasium se geliefde afrigters, Vusi Jokazi, oefen gereeld saam. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Al is hy nou ʼn openbare figuur wie se professionele en privaat lewe skielik in die kollig is, probeer hy die mense naaste aan hom, soos sy ouers en sy meisie, die boksafrigter en model Vasti Spiller, sover moontlik uit die openbare oog en van sosiale media af hou.

“Mense wil graag saam met my foto’s neem en oor my stories skryf en ek omarm hierdie fase in my lewe ten volle, maar ek het ook ʼn goeie tyd saam met my vriende en kan soms stoute goed aanvang. Ek is nie bang daarvoor om myself te wees nie, maar die mense naaste aan my het nie daartoe ingestem nie.”

Dricus is op Welkom in die Vrystaat gebore, en het vir ʼn kort rukkie daarna in die Pretoriase Moot gewoon voordat hy na Hartbeespoort saam met sy gesin verhuis het.

Hy woon egter vandag steeds in die Moot-omgewing. Al het hy oornag ʼn wêreldbekende figuur geword met ontluikende vegters wêreldwyd wat opkyk na hom as rolmodel, voel hy dit is belangrik om altyd te onthou waar sy wortels geplant is.

Dricus du Plessis en sy meisie, Vasti Spiller, tydens ‘n verskyning op “Ontbytsake”. (Foto: Ontbytsake/Facebook)

“Ek het grootgeword saam met plat-op-die-aarde mense, ʼn ma en pa wat op die myne gewerk het, en ʼn gemeenskap wat waardes gehad het. Ek is ongelooflik dankbaar vir die ouers wat ek het, vir die voorbeeld wat hulle vir my gestel het, en dat ek nog altyd na hulle kon opkyk.

“My ouers het hulle rûe af gewerk om altyd net vir my en my broers die beste te kon gee. Hulle het niks vir hulleself gedoen nie. Maak nie saak waar jy vandaan kom nie, jou voorbeeld is wat bepaal wie of wat jy uiteindelik gaan wees.

“Ek kan nie sien hoe ek nié suksesvol kan wees met ouers soos myne nie.”

  • Maroela Media het saam met Dricus in sy gimnasium gekuier. Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gaitsigubib ·

Ek sou graag wou verneem wie dink jy spring op watter bandwagon, maar dis ongelukkig n verbode vraag.

Patch ·

Dricus, jy is ‘n pragtige voorbeeld vir soveel jongmense. Die manier waarop jy van jou ouers praat maak my hart sommer warm. Bly altyd nederig, moet nooit dat die roem na jou kop gaan nie. My twee volwasse seuns bewonder jou as vegter en mens. Ons is trots op jou!

George ·

@Patch, “n pragtige voorbeeld”wat mense spot wat as kind misbruik was?

George ·

Dis my opinie op die ou, julle kan hom ophemel, maar sy onderhoude en “trash talk” het my gewys wie hy werklik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.