NVG moet regter vervolg, óf …

AfriForum sê die aantal gevalle van geslagsgebaseerde geweld waarmee die privaatvervolgingseenheid te doen kry, is onrusbarend en ʼn aanklag op die toewyding en vaardigheid van wetstoepassers. (Argieffoto: Josh Hild/Pexels)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ʼn brief aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) in Gauteng gestuur waarin hy vra dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sy besluit heroorweeg om nié ʼn waarnemende regter vir seksuele aanranding te vervolg nie.

Die eenheid verteenwoordig ʼn vroueadvokaat wat glo seksueel deur die man aangerand is.

AfriForum sê as die NVG nie sy besluit heroorweeg nie, is hy bereid om die waarnemende regter privaat te vervolg.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dit is “weersinwekkend” dat die man wat van die misdaad beskuldig word ʼn waarnemende regter is. Nel sê dit blyk boonop dat die man se rol in die gemeenskap en sy loopbaan as regsgeleerde ʼn invloed gehad het op die NVG se besluit om hom nie te vervolg nie. Die man is onder meer benoem om voor die regterlike dienstekommissie (RDK) te verskyn om as regter oorweeg te word.

Die slagoffer het ook die Balieraad, die Johannesburgse Vereniging van Advokate en die Raad vir die Regspraktyk (LPC) genader, maar glo min tot geen ondersteuning van die professionele liggame ontvang nie.

“Die privaatvervolgingseenheid het wel die dossier bestudeer en volgens ons is daar genoeg bewyse om te vervolg. Die NVG laat nóg ʼn slagoffer van geweld teen vroue en kinders in die steek deur te weier om vervolging in te stel.

“Verder het hulle nie eens die moeite gedoen om met die klaer te beraadslaag nie. Ons moet daarom met hierdie skrywe weereens die NVG uitdaag om die regering se beloftes na te kom dat sake van geslagsgebaseerde geweld geprioritiseer sal word en te bewys dat dit nie bloot lippediens is nie,” sê Nel.

Hy het die klaer in die saak as dapper bestempel en sê sy het besluit om hierdie soort misdadige gedrag teen vroue te beveg.

“Die advokaat het tydens samesprekings aan ons gesê dat vrouwees in Suid-Afrika ʼn gevaarlike beroep geword het. Dit is waarom sy wil standpunt inneem en sodoende verseker dat ʼn omgewing geskep word waar haar dogter, asook ander vroue, gemaklik sal voel om ʼn loopbaan na te jaag sonder om die slagoffers te word van ‘magtige’ en klaarblyklik onaantasbare mans, veral in die werkplek.”

Nel sê die aantal gevalle van geslagsgebaseerde geweld waarmee die privaatvervolgingseenheid te doen kry, is onrusbarend en ʼn aanklag op die toewyding en vaardigheid van wetstoepassers om die kwesbares in die samelewing te beskerm.

Natasha Venter, raadgewer by die privaatvervolgingseenheid, sê sake soos dié kan ingewikkeld wees en die eenheid het ʼn groeiende neiging by die NVG geïdentifiseer om eerder te weier om sulke sake te vervolg in die hoop dat die klagtes sal weggaan.

“Die privaatvervolgingseenheid het die vaardighede en ervaring in ons kantoor om te verseker dat geregtigheid vir almal sal seëvier,” sê Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Shakespeare ·

Ons land van melk en heuning het verander na n land van slim en dryfsand.

Johannes ·

Net nog n bewys dat die regering CR se toesprake oor geslagsgeweld ook as n pandemie beskryf lee woorde sonder enige betekenis is. Hoe wil hulle he ons moet hulle glo as hulle niks van wat hulle se ernstig opneem of standpunt inneem nie .

Di ·

SO beskerm hulle almal mekaar en kom met als weg – verrot tot in die howe. Hoop van harte dat hierdie skuldige die nodige straf kry wat hom toekom. Dankie aan Afriforum wat weereens bereid is om op te staan teen hierdie korrupte spul.

Samuel ·

Die waarnemende regter is natuurlik ‘n vriend van CR en Hoedman. Hulle beskerm mekaar tot op die einde. Adv. Gerrie Nel en Afriforum, dankie vir julle durf om die groot kanonne aan te vat.

Wielspore ·

Ons enkelopende buurman bly nou seker 3 jaar langs ons en in hierdie tydperk het hy 4 hou vroue gehad, die laaste een bly nog by hom. Die vorige 3 het sporadies uitgetrek en in elke geval was dit ‘n kwessie van dat hy hulle aangerand het, nommer 3 het uit die erf gevlug terwyl hy haar met ‘n mes gejaag het.
Daar is ongelukkig ‘n slegte kultuur onder heelwat mans wat vrouens mishandel en seksueel misbruik. As waarnemende regter behoort die persoon eerder ‘n voorbeeld te wees as ‘n oortreder. Ontslaan en vervolg hom.

Hennie J ·

Ja Yvonne, ek stem saam. Om alles te kroon is die insellings wat ons moet beskerm, die ergste besmet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.