OB moet vlieënde Cele se vlerke knip

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Die DA het Maandag ʼn klag by die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) teen Bheki Cele, minister van polisie, ingedien vir sy beweerde blatante minagting van belastingbetalersgeld toe hy ʼn amptelike polisiehelikopter gebruik het om hom die afgelope naweek na die bekendstelling van die ANC se manifes by die Moses Mabhida-stadion in KwaZulu-Natal te karwei.

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, het vroeër aan Maroela Media gesê Cele se helikoptertruuk was ʼn growwe misbruik van staatshulpbronne en hy moet betaal vir elke vlugminuut wat die helikopter in die lug was.

Hy sê nou Cele gaan doodeenvoudig voort om belastingbetalers se geld te verbrand vir sy persoonlike voordeel, “iets wat in direkte stryd is met die etiekkode vir lede van die uitvoerende gesag”.

“Dit is die tweede agtereenvolgende keer dat Cele belastingbetalersgeld misbruik. Net verlede jaar is duisende rande aan sy persoonlike assistent bestee om saam met hom na die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk te reis. Die OB ondersoek reeds hierdie saak ook.

“Min. Cele se blatante verontagsaming van die etiese kode en magsmisbruik is ʼn aanduiding van die toestand waarin ons die land se polisiëring is.

“Met steeds toenemende misdaadsyfers pleit polisielede landwyd vir meer hulpbronne om misdaad te bekamp, maar hier het ons minister noodsaaklike staatshulpbronne as sy eie persoonlike taxi gebruik,” sê Whitfield.

Hy sê Cele het nie net opgetree op ʼn wyse wat ʼn minister nie betaam nie, maar ook sy posisie misbruik om homself onnodig te bevoordeel en hulpbronne te misbruik; “duidelike oortredings ingevolge die etiese kode”.

As sodanig het die DA die OB se kantoor versoek om ondersoek in te stel en ʼn beslissing te maak rakende die volgende kwessies:

  1. Dat die gebruik van die polisiehelikopter vir privaat/party-gebruik was en nie strook met die uitvoering van Cele se pligte as minister nie.
  2. Dat Cele beveel word om alle koste wat aangegaan is wees die persoonlike gebruik van die helikopter aan die polisie terug te betaal, waaronder brandstof, huurtyd, lughawebelasting en enige ander koste wat as gevolg daarvan aangegaan is.

Whitfield sê ʼn minister van polisie het slegs uitvoerende toesighoudende magte en is nie verantwoordelik vir enige “op-die-grond-operasies” nie, ondanks Cele se opmerkings hieroor in verskeie onderhoude.

“Dit is duidelik dat hy in sy hoedanigheid as ANC-lid by die stadion was en enige gebruik van staatshulpbronne is streng verbode.

“Bheki Cele se tirannieke heerskappy oor die polisie moet eindig. Met pres. Cyril Ramaphosa wat Cele om elke draai beskerm om enige verdere uittog van ANC-kiesers, veral in KZN, te voorkom, is die enigste manier om Cele te verwyder om die ANC-bewind ook te beëindig.”

Brig. Athlenda Mathe, woordvoerder van die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (Natjoints), het vroeër gesê dit is onwaar dat die polisiehelikopter vir Cele se persoonlike gebruik aangewend is. Sy sê die helikopter is, nes met enige ander groot byeenkoms, ontplooi om die groot skare te monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

koos10 ·

BC wil sooooo graag nog die Nasionale Kommisaris van die SAPD wees. Die huidige een moet maar na sy pype dans.

Elizabeth ·

Uittarting. Niks minder. En ja, hy hou daarvan om in die nuus te wees. Streel sy ego. Hy het geen trots. Net arrogansie .

Casper ·

Brigadier Mathe,van wanneer af is hoedman by skare beheer betrokke.Ek neem aan die naaldekoker was dus die heeltyd in die lug en hoedman was nie by die verrigtinge nie.

Johan ·

Laat hom betaal! Hy kàn mos… En natuurlik sal die woordvoerder van Natjoints n ander weergawe hê.. Ek glo nie die DA sal sulke bewerings maak sonder enige bewyse nie.

Protea ·

Hy moet bedank. Dis lankal tyd. Hy is nie ‘n voorbeeld vir ander SAPS lede nie……

Danie ·

Vlerke se voet hy is soos n stoomroller wat net aandonne… maak eenvoudig net soos al die ander.Wie gaan hom keer? Dalk as die petrol opraak en hopelik n duikslag uitvoer tot n goeie uitkoms.

Trinity ·

Ai tog. As sulke gedrag maar tog net by die Ministers gebly het. Die man op straat op geen idee hoe fondse misbruik word in die groter gedeelte van die staatsdiens nie. Probeer ‘n mens dit keer of net doen wat reg is, word jy gedreig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.