OB ‘verleentheid’ vir SA

Die hooggeregshof In Pretoria. (Foto: Twitter)

“Ons hoop dit bring ʼn einde aan haar rampspoedige termyn in die amp.”

Só het die DA Dinsdag gereageer ná nóg ʼn striemende hofuitspraak teen die Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane.

ʼn Volbank regters van die Pretoriase hooggeregshof het vroeër vandag Mkhwebane se verslag insake skenkings aan pres. Cyril Ramaphosa se CR17-veldtog ter syde gestel.

Ramaphosa het die hof gevra om die verslag in hersiening te neem nadat Mkhwebane bevind het hy het die parlement mislei oor ʼn R500 000-skenking van die oorlede sakeman Gavin Watson. Mkhwebane het ook bevind die veldtog was deurspek met bewerings van geldwassery.

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die hof het egter haar verslag én die remediërende stappe wat Mkhwebane aanbeveel het, ter syde gestel. Die regters het bevind geen openbare geld was by die veldtog betrokke nie en dit het dus buite die mandaat van die OB se kantoor geval.

Hulle het ook bevind Mkhwebane se bevindings was nie net irrasioneel nie, maar ook roekeloos.

“Die howe het net weer bevind dat Mkhwebane nie in staat is om haar verantwoordelikhede op ʼn bevoegde, billike en onpartydige manier na te kom nie,” het DA-leier John Steenhuisen in reaksie op die uitspraak gesê.

“Opeenvolgende hofbeslissings teen haar, asook foto’s van bekende staatskapingsagente soos Mosebenzi Zwane en Bongani Bongo by haar 50ste verjaardagparty, steun die DA se siening dat Mkhwebane nie geskik vir die amp is nie, dat haar aanstelling polities gedrewe was, dat sy haar by die pro-Zuma-faksie van die ANC skaar en dat haar aanstelling uit die staanspoor ʼn staatskapingsontplooiing was.”

Die DA het reeds ʼn mosie om Mkhwebane van haar amp te onthef by die parlement ingedien.

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Twitter)

“Dit was duidelik irrasioneel van Mkhwebane om te bevind dat Ramaphosa voor die parlement se etiekkomitee moet verskyn. Die president is nie ʼn lid van die huis nie en het bedank ná sy verkiesing [tot president]. Hy is gevolglik nie onder die gesag van die komitee nie.”

Steenhuisen sê Mkhwebane moet die edel ding doen en bedank. “Haar onbevoegdheid het die president nou skotvry gelaat, terwyl hy inderwaarheid veel het om te verklaar.”

Hy sê die tersydestelling van die verslag moet ook nie vanselfsprekend as ʼn bewys van Ramaphosa se onskuld op al die beskuldigings teen hom beskou word nie.

Die VF Plus stem saam met die amptelike opposisie dat die uitspraak bewys dat Mkhwebane onbevoeg is en sê die hof se bevinding dat sy “heeltemal irrasioneel, onverantwoordelik en deurmekaar” is, is uiters ernstig.

“Dit is nie net vir haarself ʼn verleentheid nie, maar ook vir die kantoor van die OB en vir Suid-Afrika,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê.

“Die VF Plus sê Mkhwebane moet onmiddellik bedank.”

Thandi Modise, speaker van die parlement. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Thandi Modise, speaker van die parlement, het ook die hof se bevinding rakende die remediërende stappe teen Ramaphosa verwelkom. Modise was die tweede aansoeker. Haar betrokkenheid is beperk tot die tugstappe wat die OB die speaker beveel het om teen Ramaphosa te doen.

“In die tersydestelling van die OB se remediërende aanbevelings en moniteringsmeganisme het die hof bevind dit was onvanpas, ondoeltreffend en het inbreuk gemaak op die parlement se grondwetlike funksies en verantwoordelikhede, asook dat dit teenstrydig was met die beginsel van magskeiding,” het die parlement gesê.

“Die speaker is tevrede met die uitspraak omdat dit die magte van die OB, waar dit verband hou met die parlement, duidelik maak en die beginsel van die skeiding van magte, waarop ons grondwetlike demokrasie gebou is, verder versterk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johanncb ·

Wanneer gaan die dame besef watter verleentheid sy veroorsaak? Dit moes reeds lankal tot haar deurgedring het!

Cherokee ·

As dit nie was dat sy so pro-zuma is nie, sou ek vir haar jammer begin voel het.

marius ·

Het hy homself verontskuldig deur sy seun te misbruik of nie ?

Scalla ·

En wat van Modise se diere mishandeling saak, speel vir tyd.

Louis ·

Kry die regte mense op julle onderhoudskomitee’s en vra vrae wat van X-staalgehalte is of gebruik leuenverklikkers. Ons is moeg dat mense in poste sit wat ons belastinggeld opslurp en min vir die land beteken.

Johan Venter ·

Ek lees elders vanoggend Mmusi Maimane sê die bloedneus-uitspraak gister in die hooggeregshof in Pretoria teen adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), laat steeds ’n ernstige kwessie onbeantwoord.

Dié kwessie gaan oor watter voordeel pres. Cyril Ramaphosa en sy seun Andile uit hul verhouding met die fasiliteitsmaatskappy Bosasa geput het, sê Mmusi Maimane, oud-DA-leier wat nou die organisasie One South Africa Movement lei.

Maimane het die klagte teen Ramaphosa by die OB ingedien omdat die president volgens hom in November 2018 die parlement doelbewus mislei het oor sy bande met Bosasa.

“Dit gaan oor verantwoordbaarheid. Watter voordeel het hy en sy seun uit hul bande met Bosasa getrek,” wil Maimane weet.

Johan Venter ·

En op die Toyota US Woordfees in Stellenbosch het ‘n gespreksgenoot aan Tim Du Plessis gesê Pres. Cyril Ramaphosa kan nie met Margaret Thatcher vergelyk word nie – hy is eintlik meer soos Jacob Zuma.

Wondermaarnet ·

Ons staatspresident is die grootste verleentheid en so ook sy ANC voorgangers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.