Ramaphosa vs. Mkhwebane: OB kry opstopper

(Argieffoto)

Die Pretoriase hooggeregshof het Dinsdag in ʼn snydende uitspraak alle bevindings van die Openbare Beskermer (OB) teen pres. Cyril Ramaphosa in haar verslag oor die finansiering van sy presidentsveldtog ter syde gestel.

Ramaphosa het die hof gevra om adv. Busisiwe Mkhwebane se verslag oor die skenking van R500 000 wat sy presidensiële verkiesingsveldtog (CR17) in 2017 van wyle Gavin Watson van die maatskappy Bosasa ontvang het, in hersiening te neem.

Mkhwebane het bevind dat Ramaphosa die parlement mislei het oor hierdie skenking en dat sy veldtog om president van die ANC te word, deurspek was met bewerings van geldwassery.

ʼn Volbank regters het nou bevind Mkhwebane het ʼn regsdwaling gepleeg en haar magte in die ondersoek oorskry.

Die hooggeregshof In Pretoria. (Foto: Twitter)

Die hof het bevind geen openbare geld was by die veldtog betrokke nie en dit het dus buite die mandaat van die OB se kantoor geval. Die hof het ook bevind dat Mkhwebane se verwarring oor regspunte soos dié haar hele verslag teen die president besoedel het.

Oor die kwessie van geldwassery het die hof gesê dit lyk asof Mkhwebane haar bevindings daarop gegrond het dat Ramaphosa sy veldtogrekening opgestel het met die doel om omkoopgeld van skenkers in ruil vir politieke gunste te vra.

Mkhwebane het gesê daar was prima facie-bewys van geldwassery rakende die Watson-skenking, maar die hooggeregshof het bevind daar is geen bewyse om haar bevindings te staaf, óf haar najaag van die bewerings te regverdig nie.

“Die OB het allesbehalwe ʼn oop gemoed aan die dag gelê toe sy die ernstige bevindings op ongegronde aannames gemaak het. Haar bevindings was nie net irrasioneel nie, maar ook roekeloos.”

Die hof was net so krities oor Mkhwebane se gevolgtrekking dat die maatskappy se skenking – en ook die skenkings van ander maatskappye – werklike kommer oor staatskaping veroorsaak.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die hof het die OB se bevindings ter syde gestel, asook die remediërende stappe wat sy teen die president voorgeskryf het. Haar opdragte aan die speaker van die parlement en die nasionale direkteur van openbare vervolging was ook ʼn oorskryding van haar kantoor se magte, het die regters bevind.

Volgens die regters het Mkhwebane hierdeur die diskresionêre magte van die speaker probeer omseil en die onafhanklikheid van die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag probeer ondermyn.

Sosialemediagebruikers het uiteenlopend op die uitspraak gereageer. Sommige het gesê dit is duidelik dat die OB ʼn verleentheid vir Suid-Afrika is en afgedank moet word, terwyl ander voet by stuk hou die uitspraak is ʼn aanduiding dat die regbank gekaap is.

Die jongste bevinding – een van talle teen Mkhwebane – gaan waarskynlik meer skietgoed verskaf aan diegene wat die OB van haar amp wil laat onthef.

Die DA is aan die voorpunt van dié proses en het verlede maand ʼn gewysigde mosie by die parlement ingedien om Mkhwebane die trekpas te laat kry. Die DA voer aan Mkhwebane is onbevoeg vir haar pos, onder meer op grond van die groot aantal hofuitsprake wat verskeie van haar bevindings al ongeldig verklaar het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

lollapot ·

Raak ontslae van die vrou! Sy is en bly ‘n verleentheid . . .

johan ·

Die vrou weet niks kan sy nie net in die pad gesteek word nie.

Johan Venter ·

Ek haal ‘n deel van die gebeure, asook die presiese woorde van Cyril Ramaphosa, uit die Engelse pers van destyds aan:

“In Parlement president Ramaphosa reacted to a question from the DA and said he confronted his son about the Bosasa payment of R500,000-00, Andile Ramaphosa explained that the money was for advisory services provided to Bosasa.

He advises both local and international companies and this payment, I can show you Mr Maimane that I asked him at close range whether this was money that was obtained illegally, unlawfully and he said this was a service that was provided.”

Ons sien dus Andile ontken nie die betaling van R500,000-00 aan hom nie.

Vervolg ….

Johan Venter ·

Vervolg van vorige kommentaar:

Waarom het Ramaphosa in die parlement daaroor gejok? Daarna verander hy sy storie en vertel dat die R500,000-00 ‘n skenking aan hom/Cyril was vir sy veldtog om presidentskap van die ANC en dat hy nie van die skenking bewus was nie.

Dus blyk dit uit bogemelde dat die gesprek, soos hy dit vertel het, met sy seun nooit plaasgevind het nie. En die bewys van daardie betaling aan sy seun?

Ook ongeag die uitspraak van die hof dat hy nie aspris vir die parlement gejok het nie, het hy vir die parlement, en ons almal wat dit op TV gesien het, vertel dat hy sy seun vas in die oë gekyk het toe hy hom na sy sake met Bosasa uitgevra het, soos ek hier voor aangehaal het.

Vervolg ….

Johan Venter ·

Vervolg van vorige kommentaar:

Het Cyril Ramaphosa kluitjies gebak? Lees gerus die artikels by die onderstaande skakels, veral die laaste twee, asook die twee kommentare van Andreas onderaan die voorlaaste artikel en die 2 de kommentaar van Paul onderaan die laaste artikel.

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/ramaphosa-stilte-is-ook-n-antwoord/

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/ramaphosa-voor-grootste-toets-tot-dusver/

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/so-bevind-ob-teen-ramaphosa/

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/ramaphosa-sing-ander-deuntjie-oor-bosasa-betaling/

Magda ·

En sy is aangestel deur HOM – duidelik is HY en SY ONBEVOEGD – Kyk maar in watse gemors ONS eens mooi / skoon / Veilige en ekonomies goed ons Land is . ANC julle is die GROOTSTE VERNEDRING VIR ENIGE LAND EN BEHOORT JULLE SELF TE VERSKOON VAN ALLE POSTE.

Johan Venter ·

My kommentaar hier bo verwys. Dus, ’net’ omdat die OB haar magte oorskry het en die hof teen haar beslis het, beteken dit nie dat Cyril nie gejok het nie. Ook omdat sy onbevoeg bevind is, maak dit nie van hom minder van ‘n kluitjiesbakker nie.

Wondermaarnet ·

Geen openbare geld was betrokke nie? Waar het Watson dan die geld gekry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.