Ohrigstad-plaasmoorde: ‘Moontlike verdagte’ in ondersoekspan se visier

Hegte vriende Hennie Claassen (78) en Anneke Claassen (76) is Saterdag op die plaas Klipfonteinhoek vermoor. (Foto: Verskaf)

Bosveld Misdaadondersoeke het ʼn “moontlike verdagte” ná die grusame moord op Anneke Claassen (76) en haar goeie vriend Hennie Claassen (78) van Ohrigstad geïdentisfiseer, het oudkol. Sakkie Louwrens Donderdag aan Maroela Media gesê.

Louwrens sê die verdagte is egter nog nie positief met die moorde verbind nie, en dat hulle in dié stadium nog net “vermoed dat die persoon dalk iets daarmee te doen kon hê”.

Die ondersoek is tans nog in ʼn sensitiewe stadium en Louwrens kon dus nie veel meer daaroor uitbrei nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Anneke en Hennie Saterdag helder oordag in hul afsonderlike huise op die plaas Klipfonteinhoek naby Ohrigstad vermoor is. Hulle is vermoedelik deur twee tot drie aanvallers oorval, gemartel en daarna aan die brand gesteek. Niks is gesteel nie en niemand is al in verband met die moorde aangekeer nie.

Anneke en Hennie se geliefdes het intussen die kundigheid van Bosveld Misdaadondersoeke, onder leiding van Louwrens, ingeroep om met die ondersoek te help en seker te maak dat alle leidrade behoorlik opgevolg word.

Anneke, ʼn bedrewe sakevrou, was die bestuurder van die Eggo-grotte, ʼn gewilde toeristeaantreklikheid, en ʼn hotel op dié plaas wat al ʼn eeu in die Claassen-familie se besit is.

Hennie, ʼn vriend van die Claassen-familie, het jare lank in sy eie huis op dieselfde plaas gewoon, net ʼn entjie van die hoofhuis waar Anneke gebly het.

ʼn Gesamentlike gedenkdiens word Saterdag vir hulle op die plaas gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.