Ohrigstad-plaasmoordslagoffers dié naweek gegroet

Hegte vriende Hennie Claassen (78) en Anneke Claassen (76) is Saterdag op die plaas Klipfonteinhoek vermoor. (Foto: Verskaf)

Die geliefdes van Anneke Claassen (76) en haar goeie vriend, Hennie Claassen (78), sal Saterdag tydens ʼn gesamentlike gedenkdiens op die plaas Klipfonteinhoek van hulle afskeid neem.

Dit sal dan presies ʼn week wees sedert Anneke en Hennie wreed op dié plaas in die Ohrigstad-distrik vermoor is.

Anneke, ʼn bedrewe sakevrou, was die bestuurder van die Eggo-grotte, ʼn gewilde toeristeaantreklikheid, en hotel op dié plaas wat al ʼn eeu in die Claassen-familie se besit is. Sy was ook in beheer van alle bedrywighede op die plaas. Hennie, ʼn vriend van die Claassen-familie, het jare lank in sy eie huis op dieselfde plaas gewoon, net ʼn entjie van die hoofhuis waar Anneke gebly het.

Hul liggame is Saterdagmiddag in hul onderskeie huise aangetref. Hulle is vermoedelik deur twee tot drie aanvallers oorval, gemartel en daarna aan die brand gesteek. Niks is gesteel nie en niemand is al in verband met die grusame voorval aangekeer nie.

Die familie het nou die kundigheid van die span van Bosveld-misdaadondersoeke, onder leiding van oudkol. Sakkie Louwrens, ingeroep om met die ondersoek te help.

Anneke Claassen (76) en Hennie Claassen (78) is in hul afsonderlike huise op die plaas Klipfonteinhoek oorval, gemartel en aan die brand gesteek. Baie van hul besittings is ook in die brand verwoes en beskadig. (Foto: Marcelle Maritz / Vryheidsfrontplus)

“Almal het hulle aanbeveel as die beste om te help met die oplos van plaasmoorde. Ons wil maar net seker maak al die leidrade word opgevolg. Sakkie Louwrens werk nou saam met die polisie en Agri Limpopo,” het Jan-Daniël Claassen, Anneke se seun, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Anneke Claassen (76) en Hennie Claassen (78) is in hul afsonderlike huise op die plaas Klipfonteinhoek oorval, gemartel en aan die brand gesteek. Baie van hul besittings is ook in die brand verwoes en beskadig. (Foto: Marcelle Maritz / Vryheidsfrontplus)

Louwrens word ook deur Johan Ellis van Qiniso Lonke Polygraphs, ʼn maatskappy wat leuenverklikkertoetse doen, bygestaan. Hulle was Woensdag nog besig om die toneel vir enige leidrade te fynkam en onderhoude met onder andere werkers te voer.

Louwrens wou nog geen inligting oor enige moontlike vordering met die ondersoek bekend maak nie.

“Ons is nog besig om inligting in te win,” het hy gesê.

Marcelle Maritz, leier van die VF Plus in Limpopo, was ook Woensdag op die toneel om ondersteuning te bied.

“Dit is maar ʼn baie hartseer storie en die misdaadtonele is verskriklik. Dit is onmenslik om te dink dat iemand só ver sal gaan en só wreed kan wees.”

Maritz is egter vol hoop en vertroue dat verdagtes binnekort in hegtenis geneem sal word.

Sy meen daarna sal daar net so hard gewerk moet word om te verseker dat enige beskuldigdes suksesvol vervolg word en dat geregtigheid geskied – onder meer deur die oplê van swaar vonnisse aan skuldiges.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Groen Ghoen ·

Soos Roger Whittaker in sy liedjie sing, “Will the last word ever spoken be Why?” Waarom nog ‘n sinnelose plaasmoord? Waarom so baie vrae maar geen antwoorde nie?

Riaan ·

Die nuwe wetgewing maak plek vir die tipe van elemente ons kan net hoop dinge verander want so kan dit nie aangaan nie, die krimineel het meer regte as die eerlike doodgewone burger

Nettie ·

Ons kan nie. Ons is te menslik. Ons kan slegs by God pleit om ons te help om nie te haat nie. Want dis bitter, bitter moeilik.

Nettie ·

Mag hulle in vrede rus. Mag hul families antwoorde kry. En mag God hulle dra deur hierdie tyd. En mag Jesus se Vrede alle vriende en familie hierdie naweek omring. Ons gebede is met julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.