Omstrede pastoor, vrou se hofsaak uitgestel

Shepherd Bushiri en sy vrou Mary in die hof (Foto: Nasionale Vervolgingsgesag via ANA)

Die omstrede pastoor, Shepherd Bushiri van die Enlightened Christian Gathering-kerk (ECG), en sy vrou wat Maandag in die Pretoriase hooggeregshof in Gauteng verskyn het, sal na verwagting weer 16 Oktober vanjaar in die hof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagtes van geldwassery, bedrog en oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA).

Lumka Mahanjana, die Noord-Gautengse streekswoordvoerder van die direkteur van openbare vervolging, het gesê die saak is tot Oktober uitgestel wanneer die Bushiri-egpaar verhoor sal word.

Bushiri en sy vrou, Mary, is op 1 Februarie 2019 by die Sparkling Waters Hotel op Rustenburg in Noordwes deur die Valke in hegtenis geneem vir bedrog en geldwassery van meer as R15 miljoen. Die egpaar word ook daarvan beskuldig dat hulle Suid-Afrika se valutabeheerregulasies oortree het vir die betaling van ongeveer R19 miljoen vir ’n private helikopter.

Die egpaar is vyf dae na hul inhegtenisneming deur die handelsmisdaadhof in Pretoria op borgtog van R100 000 elk vrygelaat. Die borgtogvoorwaardes het bepaal dat Bushiri en sy vrou in Gauteng en Noordwes moet bly. Die egpaar moes ook hul paspoorte aan die ondersoekbeampte oorhandig.

Die saak is na die hooggeregshof in Pretoria oorgeskuif.

Soos vroeër berig het lede van die ECG-kerk verlede jaar Februarie oproerig geraak buite die handelsmisdaadhof in Pretoria tydens Bushiri en sy vrou se hofverskyning. Die ECG-lede het ʼn Golf GTI van die Valke wat naby die hof se ingang geparkeer was, met salwingsolie geteiken om dit sodoende te “reinig”. Volgens die oproerige skare was Bushiri onskuldig en moet hy vrygelaat word. Polisiebeamptes moes ingryp om die skare terug te hou en moes die ingange na die hof beman.

Bushiri se woordvoerder, Ephraim Nyondo, het voor hierdie Maandag se hofverskyning egter kerklede wat die hofsaak wou bywoon, versoek om aan die Covid-19-regulasies gehoor te gee. “Ons vra ook die kerklede, en Bushiri se volgelinge, om kalm in gebed te verkeer terwyl ons leier en sy vrou in die hof verskyn,” het Nyondo voor Bushiri se hofverskyning gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Oom Hennie Pennie ·

Sluit hulle toe want hulle gee ware pastore en kerkleiers ‘n slegte naam

Oe la la ·

Belaglik hoeveel geld hy gemaak het deur mense te “brain wash” met sy mooi stories en beloftes.. sy volgelinge hang aan sy lippe en sal tot hulle laaste bietjie geld gee vir n bog storie oor hoe hulle gesond gaan word….

Pierreli ·

Hulle volg maar net die voorbeeld van honderde ander valse pastore en sogemaande leeraars. Hulle gebruik godsdiens om hulself te verryk.

Stofdonkie ·

Dis waar, as hy dan so opregte pastoor was sou hy dalk iets gedoen het aan armoede verligting. Die miljoene wat hy betaal het vir sy helikopter, 3 stralers, rolls royce, Bentley, Mercedes G-klas, Aston Martin en Maserati kon baie honger mense gevoed het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.