Omstrede vlagvoorstel weer op tafel

Minister Nathi Mthethwa. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Ondanks hewige kritiek het Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, weer sy omstrede voorstel ter tafel gelê om ʼn reusevlag op te rig waarop hy R22 miljoen wil bestee.

Maroela Media het vroeër berig dat die proses rakende die oprigting van ’n reusevlag by Vryheidspark in Pretoria in sy geheel hersien gaan word.

Dít nadat Mthethwa die wind behoorlik van voor gekry het met die aankondiging dat hy miljoene aan ʼn vlag wil bestee terwyl Suid-Afrikaners onder armoede en stygende werkloosheid steier.

In antwoord op parlementêre navrae deur die DA of ʼn finale besluit oor die vlag al geneem is, het die minister bevestig dat dié projek na “die kabinet vir verdere bespreking en oorweging” verwys sal word – dít in die naam van nasiebou en sosiale kohesie.

“Nasionale simbole, in besonder die nasionale vlag, is ʼn uitdrukking van die land se gedeelde identiteit, wat die kern is vir die bou van ʼn gedeelde nasionale identiteit en die bevordering van eenheid,” lui Mthethwa se antwoord aan die DA, wat Maroela Media onder oë gehad het.

Die DA het Mthethwa ook gevra of sy departement ʼn openbare deelnameproses sal begin of voorstelle sal verskaf oor hoe die beoogde R22 miljoen wat vir die vlag geallokeer is, bestee sal word. Die minister het in antwoord op dié vraag aangedui dat dit nie nodig is nie.

“Die begroting van R22 miljoen wat vir die vlagprojek oor twee finansiële jare geallokeer is, lê by die departement se eenheid vir infrastruktuur.

“Die infrastruktuureenheid is verantwoordelik vir die instelling van verskeie infrastruktuurprojekte. Daar is dus geen behoefte vir ʼn openbare deelnameproses om dié eenheid te lei oor hoe geld vir sy onderskeie projekte herallokeer word nie,” het Mthethwa gesê.

Die DA sê Mthethwa het duidelik niks geleer uit die woede wat dié projek by Suid-Afrikaners ontlok het nie.

“Volgens sy antwoord glo hy steeds dat die vermorsing van R22 miljoen rand van belastingbetalers se geld op ʼn vlag nasiebou en sosiale kohesie sal bevorder,” het Tsepo Mhlongo, die DA se woordvoerder van sport, kuns en kultuur, gesê.

“Dit is werklik verstommend dat die departement se infrastruktuureenheid geen ander waardevolle projek kan vind om in te belê nie.”

Mhlongo sê onder Mthethwa se leiding is verskeie museums, kunsgalerye en erfenisterreine besig om in duie te stort. Die party het ook al verskeie kere sy misnoeë oor die skokkende toestand van Vryheidpark uitgespreek – waar Mthethwa die vlag wil oprig.

“Om die geld eerder aan die onderhoud en ontwikkeling van bestaande erfenisterreine te bestee sal sekerlik ‘nasiebou en sosiale kohesie’ beter kan bevorder.”

Mhlongo meen die minister se weiering om met die publiek en ander rolspelers oor die saak te praat boonop wys dat hy weinig voel vir nasiebou en sosiale kohesie.

“Sy swak hantering van die kunste- en kultuursektor tydens die pandemie het sy gevoelloosheid ontbloot en die vermorsing van R22 miljoen beaam dit.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Ettienne ·

Ek sukkel om woorde te vind, en sal maar volstaan by, hierdie man het geen insig nie.

Hasie ·

Plant vlae in al die slagate in die pad .Dit sal nou vir jou die nasie bou.Want dit is so algemene dat dit al deel is van Suid Afrika se kultuur.

Johan ·

Iemand is reeds ‘n hand-out belowe vir die oprigting hiervan, so dit mag nie doodloop nie!

Nie Verbaas ·

Wanneer iemand onnosel is en nog boonop n rassis ook is kan mens seker nie beter verwag van so n persoon nie. Laat hy self vir sy vlag betaal dan kyk ons of hy nog so gretig is.

Anel ·

Hier stem ek saam met jou. Maar almal van hulle. As hulle geld op iets onnodig wil spandeer, laat hulle dit met hul eie geld doen. Net soos naamsveranderings!!!

Wondermaarnet ·

Hoekom DRUK hy so oor die vlag? Seker een van sy familie se maatskappy wat gaan voordeel trek uit hierdie enorme bedrag vir ‘n vlag en hy gaan sy deel ook kry as die vlag gehys word.

Yvonne ·

Ek moet my weerhou van kommentaar….Here dat U wil sal geskied…..Amen

Hendrik ·

n Absolute klugspspel waarmee hy besig is. Sederd 1994 met die oorname van hierdie rassistiese anc regering was daar nog geen bleike van versoening van hul kant. Seb staan voorop en onderdrukking van minderheidsgroepe en onteiening is sreeds hul primere motief. Dan wil hy kamma eenheid daarmee simboliseer.

Di ·

Hy is pleinweg arrogant! Hy wil almal wys hy SAL doen wat hy wil, hulle is mos onaantasbaar. Intussen is dit ONS belasting betalers se geld wat hulle so uitgee op GEMORS. Maak seker weer iets onder die tafel deur met hierdie transakie, waaroor anders sal hy so vasberade wees om dit te doen

Jannie van Niekerk ·

Indien die man so sterk voel oor sy kommin vlag, waarom betaal hy nie uit sy eie sak uit daarvoor nie? Dit behoort nie baie lank te neem om dit uit sy eie buitensporige en onverdiende salaris te doen nie.
As hy dan so sterk voel oor “nasiebou”, bou eerder vir die mense huise met die R 22 mijoen in plaas daarvan om dit op ‘n stupid stukkie lap te mors.

Manie ·

Wie was die ontwerper van die afskuwelike stuk lap waaroor so groot bohaai gemaak word?

Maritza ·

Wat is fout met die man?? Mense ly honger en hy is gepla met ‘n vlag?

Sêmaarnet ·

O wee, bou skole en hospitale! Skep werk, lei jongelinge op. Doen iets wat werklik nasiebou kan bevorder.

Suzette ·

Geen manier dat hy sy brein gebruik nie of dalk het hy geen idee om bietjie verder te dink nie. Hier is soveel ander dinge in ons land wat dringerder daai geld nodig het, soos gesondheidssorg, werksskepping,(nie om ‘n wit olifant op te rig nie), ens. Eintlik is daar net eenvoudig 2 woorde daarvoor, “mags misbruik”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.