Ondersoek by toneel van NZ-tragedie afgehandel

Die Dickason-gesin in gelukkiger dae. (Foto: Facebook / Graham Dickason)

ʼn Familielid van dr. Graham Dickason, die pa wat verlede week op die lykies van sy drie dogters in hul huis in Timaru, Nieu-Seeland, afgekom het, het glo Dinsdag in dié land aangekom.

Dít nadat Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern, Sondag aangekondig het dat familieondersteuning so gou as moontlik na die land ontbied moet word. Dit is egter nie bekend watter lid van sy familie hom sal bystaan nie.

Volgens die New Zealand Herald het die plaaslike polisie ook intussen hul ondersoek op die toneel afgehandel, wat beteken dat Dickason na die huis wat hy met sy vrou, Lauren, en hul kinders gedeel het, kan terugkeer.

Lauren, ook ʼn mediese dokter, word daarvan aangekla dat sy Liané (6) en die tweejarige tweeling, Maya en Karla, op 16 September vermoor het. Die oorsaak van die dogtertjies se dood is nog nie bekendgemaak nie.

Sy het Saterdag in die hof verskyn waar regter Dominic Dravitzki haar vir sielkundige waarneming by die Hillmortonhospitaal in Christchurch verwys het om onder meer haar geestestoestand tydens beweerde misdade te bepaal.

Die meeste besonderhede van die hofverskyning word ingevolge ʼn hofbevel verswyg.

Volgens ʼn berig op die Otago Daily Times is dít om Dickason en die groter familiekring te beskerm.

Die tragiese voorval het plaasgevind drie weke nadat die gesin in Nieu-Seeland aangekom het, waarvan twee weke in kwarantyn deurgebring is.

Die doktersegpaar het onlangs van Pretoria verhuis waar hulle albei by die Pretoria-Oos-hospitaal werksaam was.

Dickason, ʼn ortopediese chirurg, was op die betrokke aand by ʼn funksie van sy nuwe werksplek, die Timaru-hospitaal, en het na afloop daarvan op sy kinders afgekom.

Geliefdes en kennisse van die egpaar het hulle as goeie, liefdevolle ouers en ʼn gelukkige gesin beskryf.

Lauren sal weer op 5 Oktober in die hooggeregshof in Timaru voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pieter J ·

Hierdie is uiters tragies. Ek dink die ernstige inperking in NZ toe hulle daar aangeland het, het baie daartoe bygedra om hierdie arme mens wat reeds sonder haar broodnodige medikasie was, oor die afgrond te stoot. Ek voel bitter jammer vir die man. Hy het in ń oogwink alles wat hy voor geleef het verloor. Hopelik kry hy genoeg ondersteuning.

Jack Russ1 ·

Moontlik omdat die NZ regereg aandag gee aan misdaad en nie, soos hier, deel is daarvan nie

Johann ·

Hoekom? Of wil mens vir jou eie wellbeing eerder NIE weet wat n mamma so iets en op so n manier te laat doen nie? Die lewe uit jou drie kinders wurg?

Sarel ·

Oorsaak van dood nog nie bekend gemaak nie. Hier mag dalk nog ‘n lang pad wees.

piet ·

Sy’t die kinders verwurg, word oral berig daar is geen twyfel oor die oorsaak van dood nie.

Hester ·

My innige simpatie vir hierdie vrou, asook haar man. Min mense besef deur watse depressie sommige vroue gaan, post-partum psychoses en die druk van die samelewing vandag. Almal wil die baba vashou maar wie hou die vrou vas?

piet ·

Hierdie kinders was nie pasgebore babatjies nie, hier is geen sprake dus van postpartum depressie nie. Almal ervaar druk, die verskil is sommige mense wil nie gaan hulp soek as dit nodig is nie, dan kry ons dinge wat gebeur soos dit.

Hester ·

Natuurlik kan dit nageboorte depressie wees. Sy het haar medikasie gelos om die immigrasie makliker te wees. Hoekom. Los mense wat diabete is of kanker het hulle medikasie ook? Want depressie is net so n groot siekte soos enige ander siekte. As daar nie so n stigma rondom depressie is en ons as samelewing mammas meer ondersteun, sal die wereld n beter plek wees. Ek het self nageboorte depressie gehad en was in n kliniek, so ek praat uit persoonlike ervaring. My psigiater het gesê mens moet vir ewig op medikasie bly, want dis n baie ernstige siekte, en baie moeilik om te behandel, en dit kom terug sodra jy van medikasie afgaan. Plus, ek is eers 1 jaar na my seun se geboorte gediagnoseer. Gaan lees die artikel op News24.Parent, oor hierdie tragedie.

piet ·

Ek dink dis ‘n ander depressie as postpartum depressie wat gewoonlik ‘n paar dae na geboorte opklaar. Mense wat maande na geboorte depressie het, is as gevolg van ander faktore.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.