Ondersoek ná MyCiTi-bus op hoofweg brand

(Foto: Skermskoot uit Twitter-video)

’n MyCiTi-bus het Maandagoggend op die N2-hoofweg by Kaapstad aan die brand geraak.

Die bus was vanaf Mitchells Plain na die Burgersentrum-stasie in die middestad op pad toe passasiers die busbestuurder gewaarsku het oor rook aan die agterkant van die bus. Die busbestuurder het afgetrek en almal het die voertuig veilig ontruim.

Volgens Rob Quintas, die Kaapstad-metro se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, was ’n plaasvervangerbus binne minute op die toneel om die passasiers na die Burgersentrum-stasie te vervoer.

“Ons sal die oorsaak van die brand ondersoek met behulp van die voertuigbedryfsmaatskappy, onafhanklike assessore, versekeraars en die voertuigvervaardiger. Meer besonderhede sal dus eers beskikbaar wees sodra die assesserings afgehandel is.”

Quintas het gesê hy is dankbaar dat niemand tydens die voorval beseer is nie. “Ek wil die passasiers en die busbestuurder bedank dat hulle kalm gebly en kopgehou het, en ek wil ook my waardering uitspreek teenoor die SAPD en die stad se brandbestryders vir hul spoedige bystand.”

Die MyCiTi-sneldiens tussen die Kaapstadse middestad, Mitchells Plain en Khayelitsha is in Februarie verlede jaar weer ingestel nadat dit in 2019 opgeskort is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Mens wonder of die brand as gevolg van ‘n meganiese fout ontstaan het of weens swak instandhouding? Gewoonlik is die MyCiti busse in ‘n goeie toestand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.