‘Ons het vrede,’ sê boervrou oor Pampoenkraal-saak

Die Pampoenkraal-beskuldigdes van links: Daniel Cornelius Malan, Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg, Ignatius Michael Steynberg, Zenzele Mzikayise Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die families van die sewe beskuldigdes wat teregstaan op die moord op die broers Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka op die plaas Pampoenkraal in die omgewing van Piet Retief in Mpumalanga, glo dat geregtigheid met die verhoor sal geskied.

“Ons het vrede in ons harte dat die volle waarheid ontbloot sal word. Ons staan vir die waarheid en geregtigheid.”

Só het Ursula Potgieter, die vrou van Werner Potgieter en ma van Cornelius Greyling, Vrydag in die landdroshof in Evander, Mpumalanga, aan Maroela Media gesê.

Die verhoor van Greyling en Potgieter saam met Daniel Malan, Othard Klingenberg, Ignatius Steynberg, Zenzele Patrick Yende en Andries Pienaar het Maandag in die hooggeregshof in Middelburg begin. Die saak is weens beurtkrag-uitdagings na die landdroshof in Evander geskuif, waar die verhoor voortaan sal voortgaan.

Volgens Ursula bid die families oor die saak, wat ’n “kalmte en rustigheid” oor hulle bring.

“Ons sou nie sonder die Here kon staande bly nie,” het sy gesê.

Hoewel Ursula dankbaar is die verhoor het nou begin en dat dit afgehandel kan word, sê sy dit is sleg dat die boere so lank van die plase moet weg wees, veral omdat dit nou strooptyd is.

“Ons lewens word ontwrig.”

Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg (links) en Ignatius Michael Steynberg, , Andries Pienaar en Werner Potgieter (regs) (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die beskuldigdes word ook aangekla van poging tot moord, ontvoering, dwarsboming van die gereg en die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hulle het Maandag skuld ontken op die aanklagte teen hulle.

Die skietdood van die Coka-broers het op 9 April 2021 op die plaas Pampoenkraal plaasgevind. Dit volg ná ’n groep voormalige plaaswerkers die huidige plaaswerkers op die plaas verjaag het. Verskeie boere het hulle die dag na die plaas gehaas om die plaaswerkers by te staan.

Die betogers het glo aggressief voorgekom en het boere wat op die toneel gereageer het, onder meer met stokke aangeval. Verskeie boere is ook in die voorval beseer.

In ʼn video-opname van die gebeure wat die noodlottige skietery voorafgegaan het, blyk dit egter dat die boere nie aggressief opgetree het, soos die staat beweer nie. Die video is in die hof gewys.

Die beeldmateriaal wys hoe betogers op die plaas aankom en plaaswerkers verjaag. Dit wys ook hoe die een oorledene, Mgcini, in ʼn konfrontasie met sy broer, Zenzele, wat in dié stadium op die plaas gewerk het, betrokke raak.

Die video beeld egter nie die gebeure tydens die skietery uit nie.

Die staat voer aan dat die boere die betrokke dag in gemeenskaplike doel opgetree het toe hulle hul na Pampoenkraal gehaas het.

Die verhoor duur voort.

Lees die vorige berigte oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.