Ontwrigtende reënval in ses provinsies verwag

Argieffoto (Foto: Freestocks/ Unsplash)

Daar is nog ʼn paar nat dae wat vir Suid-Afrikaners voorlê, maar teen die naweek behoort die voortdurende reën effe te bedaar.

Swaar reën- en donderbuie word Woensdag, Donderdag en dalk nog Vrydag oor groot dele van die land verwag.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Woensdag twee weerwaarskuwings uitgereik vir ontwrigtende reën wat dalk tot oorstromings kan lei.

ʼn Oranje vlak 5-waarskuwing is aan die kus en noordelike dele van KwaZulu-Natal uitgereik, terwyl ʼn geel vlak 2-waarskuwing oor die westelike en suidelike binneland van KwaZulu-Natal van krag is, asook Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en die oostelike dele van Noordwes en die Vrystaat.

Die weerdiens maan dat informele strukture en laagliggende brûe dalk in al dié provinsies kan oorstroom weens die voortdurende reënval.

Volgens die weerdiens gaan Woensdag se reënval hoofsaaklik in en om Richardsbaai, Bethlehem, Polokwane en Pretoria plaasvind, waarna dit na die res van die land sal uitkring.

Dele van Oos-Londen, Aliwal-Noord, Bloemfontein en Mahikeng het Woensdag ʼn 60%-kans op reën, terwyl Kimberley, De Aar, Graaff-Reinet en George ʼn 30%-kans op reën het.

Die weerdiens sê ondanks die swaar reënval kan die meeste dele van die land steeds warm temperature verwag.

Teen Donderdag gaan die reën oor die Vrystaat oorwegend opklaar en verder na die noorde beweeg.

Musina het Donderdag ʼn 80%-kans op reën, Pietermaritzburg ʼn 60%-kans op reën en Johannesburg ʼn 30%-kans op reën.

Dié dele gaan eindelik afkoel en maksimum temperature van 25 °C of selfs laer bereik.

Die weerdiens sê die reën sal na verwagting Vrydag oor groot dele van die land opdroog. Slegs gebiede aan die kus van KwaZulu-Natal en aan die grens van die Noord-Kaap kan ʼn 30%-kans op reën verwag.

Die weerdiens verwag sonnige en warm weer oor die naweek oor die hele land.

Dele van KwaZulu-Natal, wat veral die afgelope paar weke onder verwoestende reënbuie deurgeloop het, sal na verwagting sonnige weer en maksimum temperature van 26 °C hê.

Gauteng sal na verwagting van koel weer deur die week na uiterste warm temperature oor die naweek verander. Pretoria kan oor die naweek en tot in volgende week maksimum temperature van 31 °C verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.