Oos-Kaap rou ná moord op drie polisielede

(Foto: SA Polisie)

Die waarnemende polisiehoof, lt.genl. Bonang Mgwenya, het haar medelye betuig met die families van drie Oos-Kaapse polisielede wat die afgelope twee weke vermoor is. Nie een van die drie was aan diens toe hulle aangeval is nie.

In die jongste voorval het ʼn verbyganger Maandag die liggaam van kapt. Mzikayise Kelemane (47) in ʼn veld naby Addoweg in Port Elizabeth ontdek, het kol. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder, gesê. “Die kaptein was in sy bakkie met ʼn koeëlwond in die kop.”

Kelemane was verbonde aan die polisie se misdaadintelligensie-eenheid in Port Elizabeth. Sy vrou het hom die dag tevore as vermis aangegee. Kelemane was 19 jaar lank ʼn polisielid.

HeraldLIVE het berig Kelemane, ʼn polisiewaarnemingspesialis, was onder meer betrokke by ondersoeke wat gelei het tot die inhegtenisnemings van die vrouemoordenaar Christopher Panayiotou en die vermeende bendebaas Wendell Petersen.

Twee dae voor Kelemane se liggaam ontdek is, is konst. Thobani Sitolo (34) doodgeskiet toe aanvallers oënskynlik ʼn vriend van hom se voertuig wou steel. Sitolo was verbonde aan die openbare orde-polisiëringseenheid op Mthatha.

“Die konstabel en sy vriend het die verdagtes op heterdaad in Lewiesweg betrap en sonder ʼn woord is daar op hulle losgebrand,” het Muridili gesê.

Sitolo, ʼn polisieman met 11 jaar ervaring, is op die toneel dood, terwyl sy vriend na ʼn hospitaal vir behandeling geneem is. “Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en poging tot moord.”

En in nóg ʼn voorval is sers. Pathiswa Mhlola op 1 Oktober geskiet kort nadat sy by die Libode-polisiestasie naby Mthatha vertrek het. Mhlola en ʼn familielid was op pad huis toe, toe haar voertuig deur mense in ʼn bakkie voorgekeer is.

Muridili het gesê die insittendes het op Mhlola se voertuig begin skiet en sy is verskeie kere in die bolyf getref. Sy is na ʼn hospitaal geneem, waar sy Maandag dood is. Die familielid is ongedeerd.

“Ek is diep bedroef deur die aanvalle op ons polisielede, aan of van diens, wat ongebreideld voortduur. Die veiligheid van ons lede is ʼn prioriteit. Die polisieveiligheidsplan word dus in werking gestel om die getal moorde te verminder,” het Mgwenya gesê.

“Ons doen weer ʼn beroep op gemeenskappe om saam met die polisie te werk om te verseker dat diegene wat geen respek vir menselewens het nie, uit die samelewing verwyder word.”

Niemand is nog in verband met enige van die voorvalle in hegtenis geneem nie.

Altesaam 27 polisielede is die afgelope boekjaar in die uitvoering van hul pligte dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Francois ·

Innige simpatie.
Daaebenewens, ons is diep bedroef vir die aanvalle op ons blanke Soud-Afrikaners en dus doen ons n beroep op die polisie om saam met die gemeenskappe te werk om die wat geen respek vir menselewens het nie uit die samelewing te verwyder.

danie ·

As julle hierdie tipe mense uit die samelewing wil verwyder sal julle `n baie groot gedeelte van die gemeenskap uit die samelewing moet verwyder. Daar sal nie genoeg tronke en geld vir korrektiewe dienste wees nie.

Heksie ·

Klink my die kaptein is “uitgehaal” … dis baie tragies dat lede so afgemaai word …

Agie ·

Indien die moordenaar wat sy vrou laat vermoor het, want hy is ‘n lafaard, tereggestel was, het hierdie lid van die Polisie nou geleef

Agie ·

Indien die moordenaar wat sy vrou laat vermoor het, want hy is ‘n lafaard, tereggestel was, het hierdie lid van die Polisie nou geleef

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.