Ophef van pluimveetariewe voorspel moeilikheid

Hoenderboere is skrikkerig om hul ondernemings uit te brei in die lig van die opheffing van teenstortingstariewe. (Foto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) is verras deur Ebrahim Patel, minister van die departement handel, nywerheid en mededinging (DTIC), se aankondiging dat hy nie die tariewe op pluimvee-invoere, wat onlangs verval het, weer gaan instel nie.

Die minister se motivering hiervoor is glo kommer oor stygende plaaslike voedselpryse en het dié vergunning vir lande vir 12 maande van krag gemaak.

SAPV het vroeër gesê dat invoere van hoenderporsies reeds noemenswaardig gestyg het sedert die maatreëls op 14 Junie verval het en dat dié wending die plaaslike bedryf skade gaan berokken. Die tydelike maatreëls is aanvanklik vir ses maande teen Brasilië, Denemarke, Ierland, Pole en Spanje ingestel.

“Die minister het in die verlede sy steun vir teenstortingsmaatreëls getoon deur die voorlopige tariewe teen dié vyf lande te implementeer,” sê Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van SAPV se braaikuikenafdeling.

Na die implementering van die voorlopige tariewe het die Internasionale Handelsadministrasiekommissie (ITAC) belanghebbende partye se kommentaar aangevra en SAPV het ʼn feitebrief aan die organisasie gestuur.

“ITAC het weereens bevind dat pluimvee wat in die Suid-Afrikaanse doeane-unie (SADU)-gebied gestort word, wesenlike skade aan die bedryf aanrig. ITAC het in sy jongste bevindings by Patel aanbeveel dat hy weer die teenstortingsmaatreëls teen die genoemde lande moet instel,” sê Breitenbach.

“Die plaaslike pluimveebedryf is ook bekommerd oor die benarde situasie waarin verbruikers wat nie geld het nie verkeer en verstaan ​​dat voedselprysinflasie Suid-Afrika benadeel.

“Pluimveeboere voel egter dat die minister se aankondiging in stryd is met die gees van die pluimveesektor-meesterplan, wat spesifiek tariefmaatreëls teen storting as ʼn belangrike pilaar gelys het.”

Breitenbach sê hy bevraagteken die vertroue wat sekere rolspelers in die meesterplan geplaas het, “aangesien die jongste besluit blykbaar impliseer dat storting aanvaarbaar is, al is dit net vir ʼn tydperk van 12 maande.

“Dié besluit sal nie die land se pogings tot werkskepping en transformasie bevorder nie, of belegging en die ontwikkeling van die landelike ekonomie ondersteun nie. Trouens, dit kan regstreekse skade aanrig en beslis planne vir die afsienbare toekoms ontwrig.”

Breitenbach sê daar moes eers bepaal word of daar ʼn verband is tussen die opheffing van tariefmaatreëls en stygende koste van pluimveeprodukte.

“Stygende voedselpryse in Suid-Afrika (en wêreldwyd) word deur wêreldwye faktore aangedryf en die ophef van teenstortingstariewe gaan bloot die invoerder se winste verhoog. Weereens sal die invoerders die geleentheid benut deur aan onbillike handelspraktyke deel te neem.”

Hy sê daar bestaan ook geen bewyse ​​dat gestorte hoender teen ʼn noemenswaardige laer prys verkoop word nie.

“Inteendeel, storting skep ʼn goeie inkomstestroom vir buitelandse produsente wat ontslae wil raak van hul sekondêre pluimveesnitte en skep werk in ander lande. Storting help nie Suid-Afrikaanse verbruikers of boere nie.

“Die totale invoer van pluimveeprodukte oorskry reeds die volumes wat deur Suid-Afrika se grootste plaaslike boer geproduseer word,” sê Breitenbach.

“Intussen voel plaaslike hoenderboere ongelukkig dat hulle verdere beleggings en projekte wat in die pyplyn is, sal moet heroorweeg, gegewe die onsekerheid wat deur dié opheffing veroorsaak gaan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

philippus ·

Ons kan nie teen lande kompeteer wat hulle werkers n kwart van ons werkers se salaries se betaal nie. Lande wie subsidies gee. Lande wie se regerings die brandstof prys nie melk nie. Maar nou ja die ANC het die land se siel en sy mense se sielle reeds verkoop aan sy comrade vriende

Nommer 7 ·

In Amerika verdien algemene plaaswerkers $30,000 pj. ‘n Nuwe Chevrolet Spark kos daar $15,000.

Johann ·

Follow the bankrupt ANC money trail. Seker daarvan Patel word goed Patal vir die vergunning deur een of ander pêl?

marius ·

Dielfede met suiker . Volg maar die geld spoor . Baadjies vir boeties .

Nommer 7 ·

Ek wonder hoekom gebruik plaaslike produsente die woord “storting”, dit klink asof 3de graadse hoendervleis in groot houers hier uitgegooi word. Ingevoerde gemarineerde hoenderstukke wat ek gereeld by Checkers koop is van baie goeie gehalte. Rys word ook in groot hoeveelhede ingevoer. Niemand verwys na rys wat “gestort” word nie.

piet ·

Jy’s heeltemal reg. Daar is niks verkeerd met die gehalte van die”gestorte” produk nie. Hou ook in gedagte dat ryk lande soos die VSA en Engeland streng gehaltebeheer het en nie gemors sal uitvoer nie. Dis bloot spesifieke snitte wat nie populer is in ander lande nie (dis tot ons voordeel want nou kry ons dit goedkoper). In VSA byvoorbeeld eet hulle omtrent net die borsies. Lekkerste hoenderlewertjies wat ek ooit geet het, het van Brasilie af gekom en was spotgoedkoop.

Swerwer ·

Die minister se motivering maak glad nie sin nie. Die Regering is direk verantwoordelik vir die stygende plaaslike voedselpryse . Vervang die hele Regering met bevoegde opgeleide mense, nie wesens nie, dan sal daar duidelik weer ‘n verskil in die “bekommerde” voedsel pryse plaasvind.

piet ·

Dankie tog. Hopelik kan ons nou gereeld meer goedkoper Brasiliaanse hoender eet. En dink net aan al daai lekker weggooi snitte van die ryk lande. Hulle eet mos net hoenderborsies in die VSA, dump die res.

JJ ·

Ons is moeg vir die produsente se gesanik. Moet hul winste nou regtig beskerm word ten koste van die miljoene honger mense in die land?

annie ·

Hoenderboere wil ryk word uit die volk se armoede in die geloof dat hoendervleis beter waarde vir geld bied. Hoendervleis is nie meer regtig goedkoop nie, net gewild. Ons boere wil eerder die stortwerk doen en hul banke opstop met plaaslike ‘vere’. Hoekom nie kompeteer en uitvoer nie?

Jack ·

Seker goed vir ons maar wat is die kwaliteit wat ons kry en is daar weer n gunsloon tersprake want niks in die land is maar soos dit lyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.