Opruiming duur voort ná ongeluk wat 22 eis

(Foto: Verskaf)

Die dodetal ná Sondagaand se gru-busongeluk tussen die Venetia-myn en Musina in Limpopo, staan nou op 22, het Tidimalo Chuene, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid, Maandagmiddag bevestig.

Maroela Media het vroeër berig die bus het ʼn groep mynwerkers verbonde aan Murray & Roberts Cementation na die myn vervoer toe dit sowat 25 km van die myn af met ʼn vragmotor op die R572 gebots en aan die brand geslaan het.

Volgens Chuene is 20 mense op die toneel dood. Nog twee mense het later in ʼn hospitaal gesterf. Die bus wat in die ongeluk betrokke was, behoort aan Hope Diamond Transport.

“Dit is in die stadium nog nie duidelik wat presies die ongeluk veroorsaak het nie.

“Ons het ook ongelukkig nog nie name van die oorledenes nie, maar die Venetia-myn sal later ʼn volledige verslag oor die ongeluk uitreik,” het Chuene gesê.

Opruimingswerk op die ongelukstoneel het Maandag voortgeduur.

(Foto: Verskaf)

Stanley Mathabatha, premier van Limpopo, het intussen diepe medelye met die slagoffers se geliefdes betuig.

“Ons gedagtes en gebede is by die families wat deur hierdie gru-ongeluk geraak is. Ons kan die pyn en hartseer wat julle in hierdie tyd van verlies ervaar, ons nie eens indink nie. Weet asseblief dat die hele provinsie saam met julle ​​in solidariteit staan en dat ons ondersteuning, liefde en krag bied.

“Aan die oorlewendes van hierdie tragiese voorval, stuur ons hartlike wense vir ʼn vinnige en volkome herstel. Ons hoop dat julle vertroosting vind in die wete dat julle nie alleen is nie, en dat die ganse gemeenskap hier is om julle te ondersteun op die pad na genesing,” sê Mathabatha.

Die premier het Florence Radzilani, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in die provinsie, na die toneel ontbied om gedetailleerde inligting oor die ongeluk in te samel en te verseker dat die provinsiale regering alle nodige stappe ná die ongeluk doen.

(Foto: Verskaf)

Radzilani is deur Dowelani Nenguda, burgemeester van Vhembe, Godfrey Mawela, burgemeester van die Musina-munisipaliteit, en Ntokozo Ngema, uitvoerende bestuurder by die Venetia-myn, vergesel.

Die Mineraleraad van Suid-Afrika het ook die voorval betreur.

“Die raad betuig sy innige meegevoel met die families, vriende en kollegas van diegene wat in die ongeluk dood en beseer is.

“Die ongeluk beklemtoon die onaanvaarbare getal sterftes en beserings jaarliks op Suid-Afrika se paaie.

“Die veiligheid van mynwerknemers en kontrakteurs is van kardinale belang vir die Mineraleraad en die mynbedryf. Ons stel onsself dus beskikbaar om hulp te verleen aan Murray & Roberts en De Beers, wat die Venetia-myn besit.”

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marius ·

Dis nooit duidelik wat gebeur het as daar ‘n kop and kop botsing was nie.

melaney ·

Volgens SABC nuus was die trokbestuurder ‘n buitelandse burger, met geen bestuurslisensie. Die trok was ook onpadwaardig.

Susan ·

Baie hartseer & so onnodig. Sterkte aan alle betrokkenis. Ons kan maar net bid vir vertroosting & genesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.