Organisasies reageer oor vlak 2: Te min, te laat

President Cyril Ramaphosa (15 Augustus 2020) (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Verskeie organisasies en politieke partye het reageer oor die president se aankondiging dat die land vanaf middernag op 17 Augustus 2020 na vlak 2 van die afsonderingsregulasies skuif.

Demokratiese Alliansie

John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie, het gesê pres. Ramaphosa se aankondiging dat die afsonderingsperiode op vlak 2 sal voortduur, is niks buiten ʼn voorwaardelike oorgawe aan die ware mag in die ANC nie, wat desperaat probeer vashou aan die “nuwe normaal” wat hulle die afgelope vyf maande vir Suid-Afrika geskep het.

“Die afsonderingsperiode, tesame met die ramptoestand wat weer vir 30 dae verleng is, dien slegs om mag en beheer in ʼn paar hande te plaas en die regering se wetgewende arm heeltemal te omseil. Of hulle dit nou vlak een, twee, drie of ses noem, dit maak nie saak nie. Dit moet glad nie daar wees nie,” het Steenhuisen gesê.

“Om die verbod op die verkope van alkohol of tabak op te hef, of strande en parke oop te maak of interprovinsiale reise toe te laat is nie iets waarvoor die regering geprys of bedank moet word nie. Hierdie beperkings moes maande gelede al opgehef word, saam met elke ander regulasie wat ekonomiese aktiwiteit tydens die afsonderingsperiode beperk het. Die ANC-regering het ʼn verwoesting van ʼn ondenkbare skaal aangerig aan die lewens van gewone Suid-Afrikaners, terwyl hulle self nie ʼn enkele dag sonder ʼn inkomste gesit het nie. Deur die afsonderingskrisis was hulle uit voeling met die mense wie se lewens vernietig is.”

Steenhuisen sê die enigste ding wat die afsonderingsperiode bereik het, is om die ekonomie te verwoes en die verlies van miljoene poste te verseker. “En dit is iets waarvoor pres. Ramaphosa en sy regering aanspreeklikheid moet aanvaar. Die president het [Saterdagaand] erken dat die modelle, wat gebruik is om te regverdig dat die ekonomie tot ʼn stilstand gebring moet word, verkeerd was. Dit is nie iets wat hy sommer net kan noem en dan kan wegstap nie. As hulle ons ekonomie vir vyf maande lamgelê het gebaseer op verkeerde inligting, dan moet die koppe rol.”

Steenhuisen het bygevoeg die belangrikste is om nou so veel as Suid-Afrikaners weer aan die werk te kry en dit beteken dat elke bedryf oopgemaak moet word, veral toerisme en gasvryheid en dat internasionale toeriste terugverwelkom moet word. “Dit beteken ook dat ons nie kan bekostig dat daar enige vertragings is vir ekonomiese hervorming nie. Die president gaan baie vinnig moet leer hoe om sy opponente in sy eie party te takel.”

Hy het gesê die besluit, om die ramptoestand met nog ʼn maand te verleng, is ook iets wat met groot agterdog bejeën moet word. “Niks in hierdie stadium, in ons poging om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, regverdig ʼn ramptoestand nie. Daar was ook nie ʼn verduideliking van Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, waarom dit verleng is nie. Ons weet wel dat die Rampbestuurwet ongekende mag in haar hande los en alle parlementêre oorsig omseil word. Dit het ANC-kaders en hulle families die kans gebied om Covid-19-finansiering te plunder.”

Steenhuisen sê die oorblywende beperkings – die verbod op internasionale reise, die “sinnelose 22:00-aandklokreël”, en beperking op skoolbywoning, moet alles dadelik opgehef word. “Ons land kan nie bekostig om toeriste weg te wys nie en ons kan nie toelaat dat ons die opvoeding van ons kinders in gevaar stel nie. Ons moet met ons lewens aangaan, terwyl ons op ons hoede bly met ons gedrag. Dit beteken dat ons steeds maskers moet dra, ons hande en oppervlaktes moet was, afstand moet hou, vensters moet oophou en ventilasie moet verseker en onnodige groot byeenkomste moet vermy.”

Hy het gesê die president is al lank nie in staat om die afsonderingsperiode te regverdig nie, maar om ʼn ommekeer te maak sonder dat daar enige beduidende vordering was om gesondheidsorgkapasiteit te bou of infeksies te beheer, sou ʼn skulderkenning wees. “Dit sou ʼn duidelike bekentenis gewees het dat ons ekonomie verwoes is – saam met die lewens van miljoen Suid-Afrikaners, vir absoluut niks nie. Nou probeer hy bietjies-bietjies daaruit tree, maar dit is te min, te laat. Die skade is gedoen.”

VF Plus

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê dit was nie goeie leierskap nie, maar omstandighede wat president Cyril Ramaphosa gedwing het om die drakoniese Covid-19-inperkingsregulasies aansienlik te verslap.

“Nie net het ANC-lede regdeur die strukture van die ANC die inperking grootliks misbruik om noodfondse te plunder nie, maar waarskuwings vanuit ekonomiese kringe het al hoe harder opgeklink dat die land se ekonomie ‘n finale kantelpunt bereik het,” het Groenewald gesê.

“Dit is ook duidelik dat die talle regsgedinge wat teen die regering aanhangig gemaak is, insluitend die hofaansoek van die VF Plus, druk op die regering laat toeneem het tot so ʼn mate dat hy toegewings moet maak.”

Die vlakverlaging word verwelkom, maar dit is te min te laat. Die skade wat reeds aan die ekonomie aangerig is, is enorm en VF Plus kan nie ‘n vinnige herstel daarvan sien onder ‘n ANC-regering nie, gegewe die feit dat die ekonomie reeds voor die pandemie tot rommelstatus versleg het.

Die fiskus het in die laaste maande miljarde rand verloor want eindelik van die belastingbetaler verhaal sal word. Miljoene werksgeleenthede het verlore gegaan in ʼn arbeidsomgewing waar werkloosheid voor die inperking reeds kritieke vlakke bereik het.

“Dit raak ook toenemend duidelik dat die regering in werklikheid beheer word deur Cosatu van buite en van binne deur sekere enkelinge in sy kabinet soos min. Nkosazana Dlamini-Zuma. Cosatu het onlangs te kenne gegee dat die verbod op drank en sigarette opgehef moet word, aangesien dit groot skade aan die ekonomie aanrig en werkloosheid veroorsaak. Die VF Plus sê dit lank reeds.”

Die waarheid hieroor is dat dit vir Cosatu oor sy eie sak gaan. Met die groeiende werkloosheid krimp sy ledebasis en inkomste en dit is die rede vir sy besorgdheid, nie die ekonomie as sulks nie.

Die VF Plus verwelkom die president se klem op gesondheidsprotokolle. Die party huldig lank reeds die mening dat ekonomiese bedrywighede met die nodige gesondheidsprotokolle hervat kan word.

Die president moet ag slaan daarop dat 53% van die openbare sektor, soos staatsondernemings, munisipaliteite en departemente; nie voldoen aan die huidige gesondheidsprotokolle nie. Dit is lank reeds ‘n leemte wat eerder aandag moes geniet as wat daar met polisiëring gefokus is op onbenullighede soos mense op strande.

Nie net ry dit dienslewering in die wiele nie, maar dit skep ook ʼn gesondheidsgevaar vir die groter publiek, het Groenewald bygevoeg.

Solidariteit

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die aankondiging dat die ekonomie verder oopgemaak word, is te min te laat. “Die regering moes minstens sewe provinsies tot vlak 1 oopgestel het. Suid-Afrika is nou in ʼn ramptoestand as gevolg van die regering se wanbestuur van die ekonomie,” het Buys gesê.

Die Covid-19 kurwe is besig om af te plat, maar die wyse waarop die pandemie deur die regering bestuur is veroorsaak dat die ekonomiese krisiskurwe nou eers begin styg. Die gevolge van die irrasionele sluit van die ekonomie gaan nog jare nadat die pandemie onder beheer is, voortduur. “Die regering het geen begrip getoon vir die delikate werking van die ekonomie nie. Mag is misbruik, politieke agendas is gedryf en fondse is geplunder. Die Solidariteit Beweging doen ʼn beroep op die staat om verdere inmenging in die ekonomie te staak.”

AfriForum

AfriForum het in reaksie op die verslapping van die afsonderingsperiode gesê gemeenskappe moet besef dat dit roekeloos is om nog steeds van die regering te verwag om verantwoordelik op te tree en na hulle belange om te sien. Die burgerregteorganisasie meen dat die regering nie vir die ophef van die rook- en drankverbod, asook die ophef van die verbod op interprovinsale reise geprys moet word nie, omdat die verbod daarop van meet af aan irrasioneel was.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê dat korrupsie, en veral die diefstal van geld wat vir verligting vanweë die Covid-19-pandemie geoormerk is, nie hanteer is nie.

“Om nou vir die President dankie te sê dat die inperkingsmaatreëls verslap word, is soos vir ’n gevangene om sy ontvoerder te bedank wanneer hy vrygelaat word. Ons ly nie aan Stockholm-sindroom nie,” sê Roets.

Die president was deur van die land en die wêreld se grootste kenners geadviseer om anders op te tree, maar hy het geswig onder die druk van sy korrupte kamerade en hy kon nie die versoeking weerstaan om op irrasionele wyse aan mag vas te kleef nie.

In die komende weke gaan AfriForum ’n plan publiseer met praktiese stappe wat deur die regering gedoen kan word om die privaat sektor te bemagtig om die skade wat deur die staat van inperking berokken is, te herstel. Die organisasie werk ook reeds aan ’n omvattende strategie vir selfbestuur wat daarop neerkom dat minderhede vir hul eie toekoms verantwoordelikheid neem en praktiese stappe doen om groter beheer oor hul eie sake te verkry.

Saai

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, het gesê Ramaphosa se aankondiging dat inperkingsregulasies verslap word ten einde die ekonomiese skade wat die regering se oordrewe staat van inperking veroorsaak het, te beperk, is vir baie boere, landboubedrywe en waardekettings te min en te laat.

Vir die wildbedryf, wat reeds deur die afwesigheid van buitelandse trofeejagters vermink is, was die onverklaarbare verbod op interprovinsiale reise vir plaaslike jagters (te midde van ’n bedeling waar taxipassasiers op dieselfde roetes vervoer mag word) ’n nekslag. Die tradisionele jagseisoen is amper verby en honderde wildplase is in ’n finansiële krisis gedompel met duisende werkverliese stroomop en stroomaf in die waardeketting.

Soortgelyke werkverliese het reeds ’n maatskaplike krisis tot gevolg in die wynbedryf, waar die verlies aan besigheid nie net tot die 2020-produksiejaar beperk is nie. Oorvol kelders het nie bergingskapasiteit in tenks en vate nie en het produsente reeds in kennis gestel dat hulle nie 2021-kwotas kan toeken nie. “’n Plaas kan nie vir ’n jaar gesluit word nie en baie min familieboere kan twee agtereenvolgende jare se verlies aan inkomste of omset oorleef,” sê De Jager.

Die tabakboere en hulle werkers wat deur 20 weke se sigaretverbod tot kontantvloeikrisisse gedoem is, is ontsteld oor die opsigtelik gebrekkige navorsing en data waarop die besluit om rook te verbied, gegrond was. Die argumente en inligting wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma in Saai, Batsa en ander se hofaansoeke gebruik het om die verbod op die verkoop van sigarette te regverdig, is ver van die werklikheid van ’n afgetakelde waardeketting waarin miljarde se staatsinkomste verlore gaan en ondernemings, boerderye en werkgeleenthede nie kan oorleef nie.

“Om nou te vra vir die skep van nuwe werkgeleenthede terwyl geraakte boere en landelike sakeondernemings sukkel om bestaande mannekrag te behou, veral ná noodkrete wat sedert Mei 2020 tot die regering gerig is om die doodgewurgde ondernemings asem te gee, val vreemd op die oor. Die plattelandse sakesektor se vertroue in die regering is dermate deur die onvoorspelbaarheid, onverskilligheid en irrasionaliteit van die regering geskend dat dit lank sal vat vir beleggings om weer nuwe werkgeleenthede te rugsteun.”

Die aankondigings kom nie as ’n verrassing nie gegewe die druk van die hofaansoeke in die tabak-, jag- en wynbedryf wat Saai aanhangig gemaak het en die swak argumente en datastelle waarop die regering sy verdediging gebaseer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jaco ·

Nou kan ons darem weer rook en drink. Onthou net: Kort na inperking begin het, het ramaphosa hard gepraat oor hoe kwaai ongelykheid in SA is en dat wit mense se sterk rol in die ekonomie moet stop. So binnekort kan dié wit mense wat nou weer rook en drink, nie eens eet nie omdat wit besighede weens inperking en radical economic transformation aanhou gaan bankrot speel en wit werkers aanhou hulle gaan werk verloor.
Vlak 2 of 1 of vlak zero van inperking is irrelevant ví wit mense. Dis ALLES net ‘n stilte voor die storm waarin wit mense BAIE swaar gaan kry.

BigBang ·

Ek het dieselfde ervaring gehad met die toenemende BBBEEE. ons kan daar verbykom

BigBang ·

Ek dink ons moet wyd kyk. Hierdie gemors is nie net inheems nie- dis wêreldwyd. Ja, Ramaphosa het swakheid getoon deur kopdoek op die voorgrond te plaas en swak leierskap getoon met die hulpverlening. Baie van daai geld moes eerder gegaan het om ESKOM reg te kry. Malema uitgesluit, is daar min van die ander partye sou met messe van gulsigheid agter hul rue, better sou gevaar het. Ek kan ook nou eers weer gaan werk maar daar is 1st wêreld lande waar dit woes gaan.

Pampoen ·

Bla, bla, bla …… tipiese politieke reaksie. Kom nou VF+, Afriforum, Solidariteit en Saai – EK VERWAG MEER VAN JULLE. Styg uit bo die politieke twak.

Simon ·

Bla-bla-bla. Al die partye bla-bla-bla nes die president. Bla-bla-bla help nie. DOEN help. Dwing die regering met stakings/uitsluitings/weerhoudings/optogte om hul sotlikheid te laat vaar. Leer by die ander lande se minderheidsgroepe hoe dinge gedoen word.

houopkruip ·

Wat “doen” JY omtrent die saak ?
Die VF+ ens doen REUSE werk.

Oranje-Blanja-Blou ·

Houopkruip ek stem saam met Simon. Die organisasies wat hier reageer het met “te min te laat” dryf openbare mening = politieke gebla-bla-bla… Hulle praat baie saam met die wat iets doen. Hulle is self ‘n openbare platform vir die wat doen op grondvlak. Dit is maklik om saam te stem. Maar as die grondvlak self begin beweeg moet hulle oppas dat ‘n aardbewing nie hulle politieke kaart huise laat tuimel nie.

Simon ·

Ek betaal nie belasting (weerhouding) nie. My manier om hulle te beveg. Wys murg in jou pype en doen dieselfde.

Herpiet ·

Ek stem. Toe die Taxis praat toe gee die regering in met 100% kapasiteit. Wys jou net…

Robbie ·

Die mense moet maar hul drank en sigarette aanskaf, want Kopdoek kan na willekeur besluit om die verbod weer in te stel.

Alleen Wolf ·

Net so, CR het klaar vir haar tyd ingeruim om dit te doen, hoekom eers van Maandag nag af en nie van Saterdag middernag af nie, hulle het mos geweet wat hulle nuwe reeltjies is en kon dit Saterdag in die staats koerant publiseer, ek vertrou hulle niks.

Riaan ·

Expecting a logical argument from those who has no intelligence is like administering medicine to the dead. ANC is the final nail in the south african coffin.

houopkruip ·

Nou wat verwag “Pampoen” moet AfriF, Solidariteit , Saai, TLUSA, VF+, ens doen ?
Hierdie instansies het alles moontlik binne die wet gedoen (en selfs die reels gebuig) in hierdie tyd.
Ek haal my hoed af vir hierdie instansies
Verwag jy hulle moet begin “skiet” ?
Wat het JY in reaksie op gister se aankondiging gedoen ?

Oranje-Blanja-Blou ·

Kom ek verduidelik so: Die laaste ding wat ek nodig het as ek iets gedoen het, is iemand wat vir my sê ek het iets reg gedoen. Dit is die probleem met politikuste. Wat hulle sê verander niks nie, al klink hulle hoe reg… Hierdie klomp praters sê wat ons lankal weet. Maar hulle is in stuur van groot getalle mense. Mense wat sal doen wat hulle self sê, maar hulle sê alles so, polities korrek, dat niemand eintlik iets kan doen nie. Die man op die grond kan die politieke korrektheid om politieke posisie te beskerm vir niks, nie meer bekostig nie.

Cheryl ·

This is all about social conditioning and our freedom. Don’t fall for the lies. Stand up and keep on fighting. Now more than ever before.

Bonita ·

Ek is ook nou al bietjie moeg om te hoor hoe al die partye ontevrede is maar niks tasbaar doen om die inperking te lig nie. Waar is die protes aksies en ander vorms van druk op die regering om die waansin te stop? #rememberremeber5thseptember #directelections.

janpiet ·

vergeet van wat hulle oor praat en wat hulle verwag, help eerder jou naaste en jou meede mense, daar is n werksloosheid probleem en hongersnood,gaan eerder na n kerk en hoor of daar kos pakkies aansoek is ens.

Anoniem ·

Vir watter rede mag ons nie saans na 10 op die pad wees nie? Wat van ALMAL ry vannaand om 10 uur so vir ‘n halfuur rond en daag hulle gesag uit? Gaan hulle die hele land toesluit?

Danie ·

Onthou jy mag uiteet en kuier ens tot saans 22:00.
Maar onthou ook dat die “curfew” begin presies @ 22:00.
Miskien bedoel die anc ons moet sommer in die restaurant slaap?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.