Oud-Garsies blink uit by Statebondspele

Lara van Niekerk by die Statebondspele. (Foto: Andy Buchanan / AFP)

Oudleerders van die Hoërskool Garsfontein in Pretoria blink behoorlik uit by vanjaar se Statebondspele in Birmingham, Brittanje. Dié skool se alumni het reeds drie van Suid-Afrika se ses goue medaljes opgeraap.

Oudleerder Lara van Niekerk het by die spele ʼn swemkampioen geword nadat sy twee goue medaljes verower het.

Dié 19-jarige het Dinsdagaand haar rolmodel, die Olimpiese kampioen Tatjana Schoenmaker, in die 100 m-borsslagitem met ʼn tyd van 1:05.47 geklop.

Van Niekerk het boonop verlede week Suid-Afrika se eerste medalje van die spele verower toe sy die Statebond-rekord in die 50 m-borsslagitem met ʼn tyd van 29.73 sekondes verbeter het.

Nóg ʼn oud-Garsies-leerder, Shaun Williams, het verlede week vir die Blitsbokke uitgedraf en die eindstryd teen Fidji met 31-7 gewen wat vir dié span goud verseker het. Dit is slegs die twee keer dat die Blitsbokke as kampioen van die Statebondspele gekroon is. Die vorige keer was in 2014 toe die spele in Glasgow, Skotland, aangebied is.

Shaun Williams by die Statebondspele. (Foto: Roger Sedres/Gallo Images)

Die Hoërskool Garsfontein het in ʼn verklaring verder met sy oud- en huidige leerders se prestasies by dié spele en elders gespog.

Jean-Leigh du Toit, trekhou-spesialis van die Suid-Afrikaanse vrouehokkiespan, het vandeesweek vyf doele in die span se wegholsege teen Kenia aangeteken. Die doele, wat almal van trekhoue van strafhoeke af gedoen is, het ʼn oorwinning van 15-0 oor Kenia verseker.

Dít is Suid-Afrika se grootste sege sedert 2014 op die Statebondspele. Die vrouespan het in 2014 vir Trinidad en Tobago met 16-0 gepak.

Benewens die prestasies van oudleerders by die Statebondspele, spog dié hoërskool boonop met huidige leerders wat ook aan internasionale kampioenskappe deelneem.

Brian Raats, matriekleerder aan die skool, sal Vrydag in die eindronde vir hoogspring by die o.20-Wêreldkampioenskap in Cali, Colombia, aantree.

Raats het vroeër vandeesweek hiervoor gekwalifiseer nadat hy slegs twee spronge op onderskeidelik 2,04 m en 2,08 m benodig het om tot die eindronde deur te dring.

Hy is die enigste atleet wat vir die eindronde gekwalifiseer het sonder om ʼn sprong te verbrou.

Die oud-Garsie Rimari Sutton gaan ook einde vandeesmaand Suid-Afrika tydens die UCI-Wêreldkampioenskap in Les Gets, Frankryk, verteenwoordig. Sutton gaan in die XCO-afdeling (Olympic Cross-Country) deelneem.

Die Hoërskool Garsfontein het met elk van dié oud- en huidige leerders se prestasies op sosiale media gespog en hoop dat die skool nog vele kampioene sal oplewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.