Oudpolisieman nie vervolg ná vrou se dood

Maryka Kleinhans. (Foto: Facebook)

Die onafhanklike ondersoekdirektoraat (Opod) het bevestig dat Awie Geldenhuys nie vir die dood van Maryka Kleinhans vervolg gaan word nie.

Lizzy Suping, Opod se woordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê dat daar geen bewyse is wat Geldenhuys met Kleinhans se dood verbind nie.

“Die direkteur van openbare vervolging (DOV) het ʼn geregtelike doodsondersoek na die voorval versoek. Die ander sake waarvoor die beampte [Geldenhuys] ondersoek was, is na die DOV vir beslissing verwys.”

Kleinhans (31) is dood toe sy op 27 Januarie 2019 glo uit ʼn bewegende motor naby Loskopdam geval of gespring het. Die motor is deur Geldenhuys, haar destydse kêrel, bestuur. Geldenhuys, wat as kaptein aan die polisie in eMalahleni (Witbank) verbonde was, is ná Kleinhans se dood ontslaan terwyl Opod die voorval ondersoek het.

Verskeie vroue het ná die voorval ook na vore gekom met bewerings dat hulle deur Geldenhuys aangerand of seksueel gemolesteer is.

Linda Serfontein, Kleinhans se niggie, het Vrydag aan Maroela Media gesê dit is vir die familie moeilik om te aanvaar nadat daar aan hulle bevestig is dat bewyse wel gekry is wat Geldenhuys glo met Kleinhans se dood kan verbind.

Serfontein het voorheen gesê die familie het hoop gehad dat daar vordering met die saak sou wees toe Opod bevestig het dat hulle die uitslae van die DNS- en bloedtoetsverslae het waarop hulle jare lank in hul ondersoek teen Geldenhuys gewag het.

Volgens Serfontein het die ondersoekbeampte versoek dat Kleinhans se familie die staatsaanklaer ontmoet.

“Ons sal dan presies weet wat hul redes is hoekom hulle sê hulle hom [Geldenhuys] nie kan vervolg nie.”

ʼn Datum vir dié vergadering is nog nie vasgestel nie.

Die familie beplan egter steeds om private vervolging teen Geldenhuys in te stel.

Kleinhans se gesin het destyds die hulp van die burgerregte-organisasie AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingewin, om seker te maak Kleinhans se dood word behoorlik ondersoek.

“Ons het net gewag om te hoor of die staat wel gaan vervolg voordat ons met private vervolging kan voortgaan.” 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.