Oudpolisieman skuldig aan moord tydens afsondering

Siphiwe George Ndlovu is skuldig bevind aan die moord op Sibusiso Amos. (Foto: NVG/Twitter)

Die sekerheidswag wat ’n man verlede jaar in sy erf doodgeskiet het ná ’n onderonsie met die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) oor die vlak 5-afsonderingsregulasies, is vandeesweek skuldig bevind aan moord.

Siphiwe George Ndlovu is Donderdag in die Johannesburgse hooggeregshof skuldig bevind op aanklag van moord, drie aanklagte van poging tot moord, asook die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Die skuldigbevinding volg nadat Sibusiso Amos (41) van Vosloorus in Ekurhuleni in Maart verlede jaar ná ’n woordewisseling met EMPD-beamptes in sy erf doodgeskiet is. Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG)​, sê Amos is op kort afstand met skerp ammunisie geskiet terwyl hy agter ’n geslote veiligheidshek gestaan het. Die koeël is van een van die EMPD-beamptes se vuurwapens afgevuur. Amos is na bewering tot by sy huis se stoep gevolg waar hy doodgeskiet is.

Drie kinders in die huis op die erf is ook dié dag gedurende die skietery gewond.

Maroela Media het destyds berig beamptes het die betrokke dag die gebied gepatrolleer toe hulle glo opgemerk het dat mense by ’n taverne drink. Die beamptes was op patrollie ten einde te verseker dat daar voldoen word aan die regulasies van die tydperk van 21 dae van afsondering. Geen plekke mag in daardie stadium drank verkoop het nie.

Die beamptes wou die oortreders in hegtenis neem toe hulle na bewering deur lede van die gemeenskap aangeval is. Die beamptes het toe rubberkoeëls op lede van die gemeenskap afgevuur. Een van die beamptes het neergeval en in die proses sy vuurwapen verloor.

Ndlovu, ’n oudpolisieman, het in die hof vertel dat hy dié vuurwapen opgetel het kort nadat die betrokke beampte tydens die aanval van gemeenskapslede neergeval het. Hy het opgemerk dat Amos en beamptes van die EMPD in ’n stryery in die tuin betrokke was. Hy het nader gestap en skote op Amos afgevuur om hom af te skrik en sodoende die woordewisseling kort te knip.

Die staatsadvokaat, Rolene Barnard, het tydens die hofverrigtinge daarop gewys dat Ndlovu ’n voormalige polisiebeampte was en aangevoer dat hy goed ingelig is oor die hantering van vuurwapens, asook die nodige voorsorgmaatreëls wat getref moet word wanneer vuurwapens gebruik word.

Sy het die hof gevra om te oorweeg dat Amos ongewapen was en by sy eie huis geskiet is, sonder dat hy sy moordenaar uitgelok het.

Die hof het Ndlovu se getuienis as hoogs onwaarskynlik beskryf en verwerp. Die getuienis van staatsgetuies is aanvaar en regter Thifhelimbilu Mudau het daarop gewys dat die staatsgetuies betroubaarder was.

Die saak is tot 29 Junie uitgestel wanneer argumente ter versagting en verswaring van vonnis aangehoor sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stofdonkie ·

Hy het darem daarin geslaag om die woordewisseling kort te knip soos hy beweer hy probeer doen het. Ek sou nou nie dink dis nodig om ‘n woordewisseling kort te knip met doodstraf nie maar hy het seker maar op daardie oomblik gedink hy is so verhewe dat hy sommer kan polisieman en regter speel en die beskuldigde onmiddelike doodstraf kan gee.

christo ·

SA is ‘n land van totale wetteloosheid. Alles danksy ‘n Grondwet wat tot voordeel van die kriminele geskryf is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.